Boeke

RESENSIE | Ware misdaad wat enduit boei

 
  ( )

‘Die moord op Liezel de Jager’ deur Anena Burger. Uitgewer: Penguin. Prys: R300.

Waremisdaadboeke kan maklik in die slaggat daarvan trap om ’n nuusgebeurtenis as sensasie te verpak, om geweld en lyding as “vermaak” aan te bied.

So ’n benadering kan slagoffers ontmens of misdadigers verheerlik. Maar nog minder moet die vertelling in die clichés van “monster” en “boos” verval. En die belangrikste: ’n Dramatiese vertelling mag nooit die bespiegelingsgapings vul nie.

Anena Burger slaag die toets volkome met haar skrywe oor die moord op ds. Liezel de Jager, ’n geliefde leraar van die NG kerk Suidkus in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal. De Jager is op 13 Oktober 2021, net ná haar daaglikse oggenddraf, in die oprit van haar pastorie vermoor.

Haar liggaam toon wurgmerke. Haar eggenoot, Werner, verdwyn kort ná haar moord en word later in ’n suikerrietplantasie gevind. Ernstig beseer. Hy beweer dat hy moontlik deur dieselfde moordenaar aangeval is.

In Desember 2022 word hy formeel in hegtenis geneem en aangekla van die moord op sy vrou. Gedurende die hofsaak, April 2024, word hy dood in ’n Durbanse hospitaal aangetref – dit terwyl hy nog in aanhouding was.

Hierdie leser het glad nie die saak in die media gevolg nie. Die moord op Liezel de Jager het my dus dadelik ingetrek en die hele tyd geboei. Ek dink selfs lesers wat die saak slaafs in die media gevolg het, sal tot dieselfde gevolgtrekking kom. Hierdie boek is joernalistiek op sy beste. Die laaste keer dat ’n boek oor ’n berugte saak my só geboei het, was dit Charné Kemp se Moord op Pofadder en die veteraanjoernalis Julian Jansen se Die moord op Deveney Nel, wat ook in 2025 verskyn het.

Die skrywer fokus nie net op die tragedie self nie, maar ook op die regsproses, vyandigheid in die ondersoek en die stryd van De Jager se familie en die gemeenskap om geregtigheid te kry. Sy span joernalistieke tegnieke knap in om chronologies deur hofverskynings, polisieversuim en die groter sosiale konteks van geweld teenoor vroue in Suid-Afrika te gaan.

Hierdie publikasie sluit aan by misdaadboeke waar nog ’n vrou deur ’n geliefde vermoor is. Ons dink aan Reeva Steenkamp, Inge Lotz en Anni Dewani. Burger se boek is ’n nodige bydrae in die stryd teen vroue- en kindermishandeling.

Op ’n manier klop hierdie tipe boeke die minister van korrektiewe dienste op die skouer, wat die fokus op lewenslange gevangenes se paroolaansoeke verskerp het. Dit herinner die publiek waarom sekere misdadigers nie net vrygelaat kan word nie.

In ’n era waar waremisdaadboeke, -TV-reekse en -podsendings ’n oplewing beleef, is die kompetisie sterk om nie net deel van die geraas te word nie. Die moord op Liezel de Jager kry dit myns insiens reg om uit te staan.

Lesers wat verknog is aan misdaadstories sal Burger se skrywe verslind.

Stefaans Coetzee is ’n skrywer en vryskutresensent van Klerksdorp.

CTA