Leerlinge wat 'n passie vir toneelspel het, kan nou aansoek doen om deel te neem aan die Proscenium-dramakompetisie vir aanstaande jaar.
Die kompetisie het vanjaar begin met meer as 600 inskrywings van oor Suid-Afrika en Namibië. Ná die nasionale uitdunne is 70 kandidate deur na die finale rondes, wat in Kaapstad plaasgevind het.
Dié veeltalige kompetisie skep vir deelnemers die geleentheid om individueel in te skryf en hul kreatiwiteit op nasionale vlak ten toon te stel. Hoërskoolleerlinge van gr. 8 tot gr. 12 kan inskryf deur hul skool of onafhanklike drama-opleidingsinstansies.
Inskrywings vir aanstaande jaar se kompetisie het reeds op 1 Oktober geopen en kan aanlyn ingedien word by www.proscenium.pro. Die inskrywingsfooi beloop R200 per deelnemer. Die sluitingsdatum is 27 Januarie. Einde Februarie 2025 begin die uitdunrondes in verskeie sentra in al nege provinsies, waarna die finaal van 15 tot 17 Mei in die Kunstekaap plaasvind.
Finaliste kan daarna uitsien om ingesluit te word in die geselskap van 'n verhoogproduksie wat onder leiding van 'n professionele regisseur op een of meer nasionale kunstefees opgevoer gaan word. Volgende jaar se produksie word deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) moontlik gemaak.
Vanjaar se verhoogproduksie-projek is met die ondersteuning van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) begin. Vyftien skrywers het opdrag gekry om dialoë te skryf, en onder die regie van verskillende professionele regisseurs het die finaliste dit op vanjaar se Toyota Stellenbosch Woordfees opgevoer.
Die WKOD streef daarna om opvoeders in die skeppende kunste te ondersteun met opvoedkundige materiaal van hoë gehalte.
— Anina Lundie van die WKOD
Anina Lundie van die WKOD se kurrikulumdirektoraat verduidelik dat die projek opvoeders en leerlinge in staat stel om direk met die professionele teateromgewing in aanraking te kom.
"Die WKOD streef daarna om opvoeders in die skeppende kunste te ondersteun met opvoedkundige materiaal van hoë gehalte, en waarmee leerlinge in ons inheemse taalgroepe gemaklik voel. In die senior fase is die voorgeskrewe dialoogwerk 'n ideale medium om leerlinge se kommunikasievaardighede en kreatiewe ontwikkeling te verskerp. Die samewerking met Proscenium en die kunstefeeste help ons om die aanbod van geskikte dramatekste uit te brei, opvoeders van handige demonstrasie-materiaal te voorsien en om leerlinge se lewensvaardighede te bevorder."
Proscenium is 'n inisiatief van die Tribuo-fonds, wat onder meer die doelwit nastreef om bemagtiging in die kunste te bevorder.
Karen Meiring, Tribuo se uitvoerende voorsitter, sê: " 'n Belangrike oogmerk is om in die toekoms en die gesonde voortbestaan van die vermaaklikheidsbedryf te belê, en juis daardeur die jeug bekend te stel aan die wêreld van die uitvoerende kunste. Die ekosisteem in die kunste is baie belangrik en daarom verseker ons dat hierdie kompetisie deelnemers blootstel aan verskeie fasette van die vermaaklikheidsbedryf, soos teater, televisie, radio en oorklanking."
Die wenners word die aand van 17 Mei op 'n prysuitdeling aangekondig. Sertifikate, medaljes en kontantpryse is op die spel, en RSG kies uitblinkers onder die finaliste wat in 'n radiodrama sal speel.
Gr. 12-finaliste kan ook aansoek doen vir 'n studiebeurs aan Northlink College.





















