Toneel: Expelled. Met: Nicolas Hattingh, Antony Coleman, Charmaine Weir-Smith, Graham Hopkins en Amelia Smith. Regie: Craig Freimond.
Baxter, Golden Arrow-teater tot 2 Maart. Daarna word dit in die Markteater in Johannesburg opgevoer.
Gekanselleer. Verban. Gebrandmerk. Die woorde is al ingebed in ons woordeskat. Weens die oorheersing van sosiale media in ons lewe, voel dit of die manier waarop mense verdoem word, geëskaleer het. So gou soos nou, word mense in die doofpot geplons en daar vergeet.
Soveel te meer tieners, wat nog nie die verreikende implikasies van hul dade besef nie, en die feit dat selfs "onskuldige pret" hul lewe kan laat ontspoor.
'n Seun aan 'n spog-hoërskool vang kattekwaad aan. Wat hy gedoen het, wás problematies. Iemand verfilm die seuns se streke en die video sorg dat hy en sy maats geskors word. Hy sal moontlik nie sy matriekeksamen kan skryf nie, die matriekafskeid is neusie verby en sy meisie los hom soos 'n warm patat.
Die woord "toksiese manlikheid" word gebruik.
Die dramaturg Rosalind Butler skep in anderhalf uur die huidige, bedompige klimaat rondom die effek van sosiale media. Dit verbind mense in 'n ommesientjie, maar dit kan ook vir afgronde sorg. Dit het die lewe oorgeneem.
In een toneel sit die gesin van drie in die donker elk op sy eie met hul foon voor hulle, die ander huismense vergete. Ware kommunikasie is weg.
Expelled handel oor die gesin se navigasie van die gevolge van daardie voorval.

Die skoolhoof is onwrikbaar, die ouers en kind word op sosiale media geblokkeer. Daar is dreigemente en 'n voorstel dat alles dalk sal kan regkom as die seun 'n leuen vertel.
Daar is ook sielkundige faktore. Die pa is 'n old boy van die skool, tog was hy 'n buitestander. Daar skort iets in die huwelik en hul seun voldoen nie aan sy ouers se "verwagtinge" nie.
Verwag dat die mat nog verder onder jou as gehoorlid se voete uitgepluk gaan word. Die einde is 'n ware uitklophou.
Butler se teks prikkel deurentyd intellektueel en Craig Freimond se sekure regiestyl laat die gebeure vinnig afwentel, sonder om oomblikke van bepeinsing, teerheid of komedie in te boet.
Al drie se spel is fyn ingestem op mekaar. Individueel kan jy elkeen van die karakters se ingesteldheid verstaan; jy het begrip. Elkeen in die gehoor moes al dié soort vure doodslaan of sake beredder. En juis daarom kom Expelled so ongemaklik tuis.
• Die vervaardiger is HowNowBrownCow.





















