Dans

Gewilde ‘Dinner for One’ by Emperors Palace aangebied

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Elma Potgieter en Justin Strydom in ‘Dinner for One’.  Foto: Rina G. Coetzee
Elma Potgieter en Justin Strydom in ‘Dinner for One’. Foto: Rina G. Coetzee

Dinner for One, die Britse dramaturg Lauri Wylie se gewilde tweepersoonstuk, word op 19 April in die Theatre of Marcellus by Emperors Palace aan die Oos-Rand deur Lefra Produksies aangebied.

Elma Potgieter en Justin Strydom staan in die skoene van die karakters Miss Sophie en haar butler, James. Hulle tree sedert verlede jaar daarin op.

"Eerstens is dit lekker om in 'n klassieke stuk te speel," sê Potgieter.

"Die feit dat dit 'n klassieke klug is oor 'n soort stereotipering van die klassebewustheid van die Britte . . . Ek dink dis hoekom die Duitsers blykbaar ook so mal is oor die stuk - al is dit deur 'n Engelsman geskryf."

Elma Potgieter as Miss Sophie in ‘Dinner for One’.  Foto: Odette Putzier
Elma Potgieter as Miss Sophie in ‘Dinner for One’. Foto: Odette Putzier

Die stuk, wat ook as The 90th Birthday bekend is, is in 1963 in Hamburg, Duitsland, verfilm en het in dié land, waar dit jaarliks op Oujaarsaand uitgesaai word, al kultusstatus verwerf.

"Die Duitsers breek hulle jaarliks op Oujaarsaand as Dinner uitgesaai word," sê Potgieter.

Die komedie, wat in 'n eetkamer afspeel, handel oor Miss Sophie wat haar 90ste verjaardag vier. Sy sit aan die hoof van die tafel en daar is plekke vir al haar gaste gedek, maar hulle is almal al dood.

James, haar hoofbediende, moet die viergangmaaltyd bedien en met elke drankie moet hy vir die gaste instaan; soveel so dat hy hulle moet vertolk en telkens namens elkeen 'n slukkie moet neem.

Justin Strydom en Elma Potgieter in ‘Sopper vir een'. Foto: Rina G. Coetzee
Justin Strydom en Elma Potgieter in ‘Sopper vir een'. Foto: Rina G. Coetzee

Ná die pouse word Sopper vir een opgevoer - die Suid-Afrikaanse verwerking van Wylie se stuk deur Frans Swart, ook die regisseur. Dan word die rolle omgeruil; Strydom is Miss Sophie en Potgieter is James.

"Frans se stuk steun sterk op die Engelse klassieke stuk," sê Potgieter.

"Dis 'n fantastiese uitdaging vir my, want dan speel ek die man, die butler James, wat sy bes doen om 'n fantastiese aandete te bedien vir mej. Sophie (en dis vir Justin net so uitdagend om 'n vrou te speel).

"Verder het Frans die Afrikaanse Sopper liggies verpolitiseer, wat dit nog 'n groter uitdaging vir my maak om te speel . . . Onder andere is Jan van Riebeeck een van die ses gaste wat elkeen 'n heildronk instel op mej. Sophie.

"En dan nog 'n toneel-uitdaging: Die butler word geleidelik al hoe dronker omdat hy namens die gaste elke keer die heildronk instel en moet drink."

Justin Strydom en Elma Potgieter in ‘Dinner for One', die Britse dramaturg Lauri Wylie se gewilde tweepersoonstuk. Foto: Odette Putzier
Justin Strydom en Elma Potgieter in ‘Dinner for One', die Britse dramaturg Lauri Wylie se gewilde tweepersoonstuk. Foto: Odette Putzier

Volgens Potgieter is daar niks maklik aan die vertolking van Dinner for One/Sopper vir een nie, en daarom is dit juis 'n plesier om daarin op te tree.

"Dit bly 'n wonderlike balanseertoertjie om geloofwaardig en ernstig te speel, al word die karakter dronker en dronker. Ons speel ons rolle ernstig en met oorgawe, terwyl die gehoor skater. Dit bly 'n wonderlike ervaring."

• Die vertoning op 19 April begin om 19:00 en kaartjies kos R190 tot R280. Bespreek by www.ltickets.co.za.

Dit word ook op 28 Mei in die Atterbury-teater in Pretoria opgevoer. Die vertoning begin om 19:00 en kaartjies kos R180 tot R220. Bespreek by www.seatme.co.za.

Justin Strydom as James in ‘Dinner for One'. Foto: Odette Putzier
Justin Strydom as James in ‘Dinner for One'. Foto: Odette Putzier

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM