Joltyd: Through the ages of Music. Met Loukmaan Adams, Mel Jones, Jarrad Ricketts, Kashifa Blouw, Xolisa Tom, Tashreeq de Villiers. Regisseurs: Loukmaan Adans en Basil Appollis. In die Baxter-teater, Kaapstad, tot 3 Januarie.
As jy skaamteloos wil dans en sing en die kenmerkende moegheid aan die einde van die jaar wil afskud, is Joltyd: Through the ages of Music net die regte medisyne vir jou.
Die musiekrevue van Loukmaan Adams, regisseur, het al die regte komponente - 'n goeie seremoniemeester, nostalgiese musiek, opwindende dansbewegings en die perfekte stel.
Die komediant Mel Jones skop die vertoning af met 'n vermaaklike vertelling van hoe Manie (Adams) en die res van die buurt in Tafelsig genooid en ongenooid by haar huis inval. Hulle gebruik ook haar erf om hier te oefen vir die opkomende vertonings oor die feestyd. Dis dan wanneer die kunstenaars 'n draai gooi en die opgewekte gehoor vermaak met bekende liedjies van oor die jare.
Jones is 'n gesoute komediant en weet net hoe om die gehoor te betrek. Sy is charismaties en draai die gehoor om haar pinkie. Sy skep die regte gees en haar verandering van uitrustings (haar rokke raak al hoe korter!) lok luide toejuiging van die gehoor uit. Sy is hoofsaaklik die verteller en is dikwels op die verhoog. Die gepraat kan 'n bietjie te veel raak as jy gekom het om saam te sing en te dans, maar Jones is 'n uitmuntende komediant, so dit het dié resensent nie te veel gepla nie.
Die musiek wat deur die talentvolle kunstenaars opgevoer word, is treffers waarby elke lid van die gehoor aanklank sal vind. Liedjies van onder andere The Rockets, Tina Turner, Miriam Makeba, Brenda Fassie, Queen, TKZee, Adele en Lady Gaga en Bradley Cooper word enigmaties opgevoer. Elke noot is dalk nie perfek nie, maar die kunstenaars bring die regte energie en moedig die skare aan om saam te dans en sing.
Hierdie vertoning is nie net vir die ouer garde nie, daar is 'n heerlike TikTok-saamdanssessie vir die jonger lede van die gehoor.
Die stelontwerp is minimaal en dis effektief. Daar is nie veel anders op die verhoog as die ses groot Kersballe wat van die dak tot net bo die Pam Golding-verhoog hang nie. Die massiewe Kersballe dien ook as die skerm waarop 'n projektor die foto's van bekendes vertoon as hul liedjies opgevoer word. Die verhoogkunstenaars se kostuums is dan ook baie soortgelyk aan dié van die bekendes op die skerm.
Die dansers se kostuums sluit ook by elke genre van die musiek aan en skep die gevoel van 'n goed afgeronde vertoning. Hierdie element is een van die hoogtepunte van die vertoning.
Nóg 'n hoogtepunt is die kitaarsolo deur die talentvolle Nathan Carolus. Hy het Carlos Santana se "Europa" meesterlik vertolk. Die laaste persoon wat die resensent gesien het 'n Santana-liedjie só goed opvoer, is die ontslape Jerry Watts van die legendariese plaaslike groep The Rockets.
Die musiekregisseur Charlton Daniels het in 'n verrassende wending ook die mikrofoon gegryp en gesing.
Benewens die vermaak van dans, musiek en komedie is daar ook opvoedkundige sessies (vertel deur Jones) ingewerk, wat die skare meer leer oor die kunstenaars asook die tydperk waarin die bekende kunstenaars opgetree en grootgeword het.
Die tydsduur, byna twee uur, is 'n bietjie lank, maar jy kom dit skaars agter, want jy word deel van die vertoning.
Joltyd: Through the ages of Music is 'n vertoning wat jy beslis nie in dié feestyd wil misloop nie. Kaartjies kos R180 tot R220 en is beskikbaar by Webtickets.co.za of Pick n Pay-winkels.











