Ouma is op pad Gauteng toe.
Wanneer sy op 30 Mei haar kwinkslae in die Atterbury-teater in Pretoria deel, sal Gautengers haar die eerste keer in haar eie produksie sien.
Aanvanklik het dié karakter wat deur Margit Meyer-Rödenbeck vertolk word, 'n kameeverskyning in haar Dowwe Dolla-vertonings gemaak.
En Dolla se ouma is glad nie op haar mond geval nie.
Sedert Meyer-Rödenbeck haar alter ego in 2021 gegroet het, wil mense steeds weet wat van die tannie geword het.
Intussen het sy al haar opwagting by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en Suidoosterfees gemaak.
"Ek het nou al vir Dolla begrawe," sê Meyer-Rödenbeck.
"En toe het Hugo Theart van die KKNK so aangehou: ‘Ouma moet terugkom; Ouma moet terugkom.'
"Eers het ek gedink die tyd is nog nie reg nie, maar toe vra hy my weer in Januarie."

So, Theart moet bedank word, aldus Meyer-Rödenbeck.
"Want dit dwing my toe om 'n show aanmekaar te slaan. Ek vra toe vir hom: ‘Oukei, wat is die show se naam?' Toe sê hy: ‘Oe, Ouma is op pad.' Toe sê ek dis perfek. Dis die titel."
Ouma kom van die dorp Garies in die Noord-Kaap af.
Jurgen Human, Meyer-Rödenbeck se man, het die teks en lirieke geskryf.
"So, eintlik is Jurg Ouma . . . En die stuk is 'n pelgrimsreis van Ouma. Sy kuier so van kind tot kind na kleinkind. 'n Mens sien die lewe deur haar oë. Ouma is nie verkramp en verstok nie en sy sien die lawwighede wat die moderne wêreld van 'n mens vereis en sy bekyk dit mooi satiries."
Coenraad Rall behartig die begeleiding op klavier.
• Die konsert begin om 19:00 en kaartjies is by seatme.co.za beskikbaar. Dit het 'n ouderdomsbeperking van 14.
• Benewens die optrede in Pretoria is daar verskeie optredes elders in die land.
• 3 Julie 16:30, 5 Julie 12:30, 6 Julie 16:30 op die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Bespreek by Webtickets;
• 13 tot 15 en 18 Augustus in die Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville, Kaapstad. Bespreek deur 021 979 1911 te skakel of www.dieboer.com te besoek;
• 16 en 17 Augustus in The Drama Factory in Somerset-Wes. Bespreek by www.dramafactory.co.za;
• 13 September in Die koelkamers-teater in Paternoster. Bespreek by www.diekoelkamers.com;
• 24 tot 28 September op Momentum Beleggings Aardklop in Potchefstroom.















