‘Phantom’ het ’n laaste opflikkering op Broadway

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
André Schwartz het die fantoom in die Suid-Afrikaanse produksie van ‘The Phantom of the Opera’ vertolk.  Foto: Netwerk24
André Schwartz het die fantoom in die Suid-Afrikaanse produksie van ‘The Phantom of the Opera’ vertolk. Foto: Netwerk24

Phantom of the Opera, die musiekspel met die langste speelvak tot nog toe op Broadway, sou ná 35 jaar die gordyn die laaste keer op 18 Februarie laat sak.

Swak kaartjieverkope ná die Covid-19-inperkings het die einde van die Andrew Lloyd Webber-sterproduksie genoodsaak.

Toe die nuus oor die einde van die produksie versprei, het kaartjieverkope egter eensklaps die hoogte ingeskiet en is die speelvak met agt weke tot 16 April verleng.

"Dit is finaal; ons sal nie die speelvak weer verleng nie," het die vervaardiger, Cameron Mackintosh, gesê.

Van die bekendste liedjies in die musiekspel is "The Music of the Night," "Think of Me" en "All I Ask of You". Charles Hart het die lirieke geskryf en Lloyd Webber die libretto en die musiek.

Die romantiese riller is gegrond op 'n roman deur die Franse skrywer Gaston Leroux en handel oor 'n gemaskerde man wat in die versteekte gange onder die Paryse Operahuis woon. Hy raak obsessief verlief op die danser Christine Daaé en ontvoer haar later na sy blyplek.

Die produksie is bekend vir sy dramatiese stelontwerp en die ikoniese oomblik wanneer 'n groot kandelaar uit die dak val.

Phantom het 70 belangrike pryse ontvang, meer as 140 miljoen konsertgangers het dit gesien en dit sal in April ná 13 925 vertonings sluit.

Van die bekendste sanger-akteurs wat in die Broadway-produksie gespeel het, is Michael Crawford, George Lee Andrews, Howard McGillin, Judy Kaye en Sarah Brightman.

In 2021 het Emilie Kouatchou geskiedenis gemaak toe sy as die eerste swart vrou die rol van Christine op Broadway vertolk het.

'n Rolprentweergawe is in 2004 uitgereik met Gerard Butler in die hoofrol en Emmy Rossum as Christine.

• Esté Gross, 'n omroeper by PretoriaFM, gesels op 19 Februarie om 12:00 in die program WNDK met André Schwartz oor sy ervaring in die rol as die Fantoom in die Suid-Afrikaanse produksies. - Saamgestel deur Elretha Britz. Bronne: washingtonpost.com, deadline.com, nytimes.com.

SPELETJIES VANDAG

CTA