Dans

Resensie: ‘Stiltetyd’ dra swaar aan te veel temas

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Debuutteks. Toneel: Stiltetyd met Eloise Clasen. Verwerking: Marita van der Vyver. Regisseur: Neels Clasen. Opvoerings by die Toyota US Woordfees. Hoërskool Stellenbosch se skoolsaal op 8 Oktober om 19:00, 9 Oktober om 14:00 en 10 Oktober om 18:30.

Kort op die hakke van die trefferproduksie Dinge van 'n kind, 'n verwerking van Marita van der Vyver se roman, volg die skrywer se Stiltetyd, wat ook as eenvroustuk verwerk is.

Hester Human (Eloise Clasen) in ‘Stiltetyd', Marita van der Vyver se verhoogverwerking van haar roman ‘Stiltetyd'. Wanneer Hester en haar gesin na Frankryk vertrek om 'n huis in restoureer, verander hul droom van 'n idilliese sabbatsjaar in een van hartseer, pyn, verlange en stilte. Foto: Jaco Marais
Hester Human (Eloise Clasen) in ‘Stiltetyd', Marita van der Vyver se verhoogverwerking van haar roman ‘Stiltetyd'. Wanneer Hester en haar gesin na Frankryk vertrek om 'n huis in restoureer, verander hul droom van 'n idilliese sabbatsjaar in een van hartseer, pyn, verlange en stilte. Foto: Jaco Marais

Dit debuteer op die Toyota US Woordfees met die aktrise Eloise Clasen. Lesers het ook met Clasen kennis gemaak in reekse soos Getroud met rugby en Binnelanders.

Die kern van die stuk is 'n rouproses. Hester is verwese gelaat - haar dogtertjie, Manon, is dood in 'n gewapende rooftog by 'n winkel in hul gegoede buurt. Nou is sy, haar man, André, en hul oorblywende kind, Emile, in Frankryk, waar hulle volgens hul oorspronklike plan 'n huis in Provence restoureer.

In kontras met die huis wat deur werkers herskep word en weer leefbaar word, is Hester gebroke en ten gronde weens haar kind se dood.

Die verhoog is treffend ingeklee - 'n bed en bad omkring met gordyne van bouersplastiek wat stof moet weghou en die huis leefbaar moet hou terwyl daar gewerskaf word. Beelde van Manon word ook op die plastiek geprojekteer, wat Hester se drome van en versugting na haar gestorwe kind uitbeeld.

Ons volg Hester se gedagtes, daal met haar in die onbeskryflike donker put van smart af en word getuie van haar fassinasie met die Medea van Afrika, 'n desperate Kongolese vlugteling wat haar twee dogtertjies versmoor het nadat sy uitgevind het haar man het weer getrou en opnuut met 'n gesin in sy nuwe vaderland begin.

Voorts is daar dreigende geweld in haar eie huis - hul huiswerker, Alysiah, word deur haar broer, Caleb, een van die bouers, geslaan en verrinneweer.

Die kern van ‘Stiltetyd' is 'n rouproses. Foto: Jaco Marais
Die kern van ‘Stiltetyd' is 'n rouproses. Foto: Jaco Marais

Geweld asook die uitgelewerdheid van vroue, hetsy weens armoede, gewelddadige politiekery en die paternalisme van godsdiens, is benewens verlies 'n sentrale aar in Stiltetyd.

Binne 'n kort uur voel dit asof die stuk net te swaar dra aan al sy gewigtige temas.

Te veel vraagstukke is betrek en nie behoorlik en sinryk verweef nie. Vir die doeleindes van drama moes dalk nie alles in die roman oorleef het nie. Impak word ingeboet. Dit bly ook deurgaans by storievertelling, die gegewe word nooit werklik dramaties nie. Hester vertel vir ons van haar verlies en hoe haar daaglikse lewe vinnig en skrikwekkend in 'n spiraal van geweld ontaard het.

"Show, don't tell," wil 'n mens sê. Die amper saaklike relaas van die gegewe, hoe ingrypend ook al deur Hester ervaar, raak nie die gehoor se hart nie. So kry ons nie die kans om dit werklik saam te beleef nie.

CTA