Die godsdienstige leiers en hul navolgers het Jesus laat kruisig omdat Hy net te uitdagend teenoor die tempel en Joodse feeste was.
Dit sien ons deur die hele Johannes-evangelie. In Johannes 2 illustreer Jesus dit prakties wanneer Hy die geldwisselaars uit die tempel wegjaag en dan verduidelik sy liggaam is die nuwe tempel wat vir ons opgeoffer word.
Tussendeur het Jesus ook die betekenis van Joodse feeste herskryf, soos die Huttefees, wat Israel se beskerming in die woestyn en die insameling van die oeste herdenk het. Lig en water is ook simbolies met hierdie week lange verpligte fees verbind. Elke aand in Jerusalem was daar 'n optog wat 'n waterhouer via die Gihonfontein geneem het tot by die altaar in die tempel waar dit simbolies uitgegiet is. Ook is vyf reusefakkels elke aand in een voorhof van die tempel aangesteek. Dit was deur die hele Jerusalem sigbaar.
Maar toe verklaar Jesus tydens die Huttefees dat Hy nou self lewende water bring. Stromende lewende water sal voortaan uit alle Geesvervuldes vloei (Johannes 7:37-39). Ook verklaar Jesus dat Hy self nou die lig vir die wêreld is (Johannes 8:12; 9:5).
Kort hierna, tydens Hannukah of die Toewydingsfees, waar die hertoewyding van die tempel gevier is, sê Jesus in Johannes 10:36 Hy self is die Een wat deur God toegewy is as die Gestuurde na die wêreld. Geen wonder dat die mense Hom daar wou arresteer nie (10:39).
Jesus het Israel se godsdienstige feeste nooit passief bygewoon nie. Hy het dit eiehandig opgegradeer. Elke keer het Hy gewys Hy self is die rede vir sulke opgraderings. Jesus is die inhoud van elke Bybelse fees van ouds, en van elke nuwe feesviering.
Uit die Woord
En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: "As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.' " Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. - Johannes 7:37-39





















