Dans

Stadsballet vier 90ste met vol program

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
David Nixon, die nuwe artistieke vervaardiger van Kaapstad Stadsballet. Dis program is by ’n geleentheid by die Norval-stigting in Steenberg bekend gemaak. Nixon staan langs ’n werk van Walter Oltmann.   Foto: Annène van Eeden
David Nixon, die nuwe artistieke vervaardiger van Kaapstad Stadsballet. Dis program is by ’n geleentheid by die Norval-stigting in Steenberg bekend gemaak. Nixon staan langs ’n werk van Walter Oltmann. Foto: Annène van Eeden

Die Kaapstad Stadsballet vier vanjaar sy negentigste bestaansjaar met 'n feestelike program en 'n nuwe artistieke hoof.

In dié mylpaal-jaar is David Nixon as die nuwe artistieke vervaardiger aangewys en die eertydse hoofdanser, Tracy Li, as Nixon se adjunk. Verlede jaar is Robyn Taylor as die uitvoerende hoof aangewys nadat Debbie Turner die geselskap verlaat het.

Tydens 'n geleentheid by die Norval-kunsstigting in Steenberg is ook bekend gemaak dat verskeie plaaslike en internasionale balletmeesters met die geselskap gaan werk.

Balletliefhebbers moet tot 17 Mei wag vir die eerste aanbieding - dit is Nixon se ikoniese en energieryke dansstuk, I've Got Rhythm, wat voorheen vir die Northern Ballet opgevoer is na die musiek en lirieke van die Amerikaanse komponis en liriekskywer George en Ira Gershwin. Gehore kan hulle gereed maak vir 'n kleurryke en opwindende samekoms van ballet en jazz. Onder die ikoniese liedere wat evokatief lewe kry in dans is "American in Paris", "Summertime" en "Girl Crazy". Vir die geleentheid gaan die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op die Operahuis se verhoog in die styl van die big band en soliste van Kaapstad Opera speel. Onder die gasdansers in I've Got Rhythm wat tot 26 Mei in die Kunstekaap opgevoer gaan word, tel die Amerikaanse danser David Webb.

• Daarna van 23 tot 31 Augustus is drie splinternuwe werke geskep deur Nixon en Dane Hurst, Jazzart se artistieke direkteur, op die planke. Hurst en die bekroonde choreograaf Kenneth Tindall het 'n spesiale werk geskep vir die negentigste bestaansjaar van Kaapstad Stadsballet. Tindall is bekend om die ballet Casanova wat hy vir Northern Ballet geskep het. Jazzart het verlede jaar ook 'n ikoniese verjaarsdag, sy vyftigste, gevier.

Daarna is Nixon se ballet Dangerous Liaisons op die planke. Dit is geïnspireer deur die Franse skrywer Choderlos de Laclos se verhaal wat uit 1782 dateer en handel oor die aartsverleier Valmont en sy trawant Madame de Merteuil, wat vreugde put daarin om ander te verlei en te mislei. Als verander toe die slinkse Valmont sy hart verloor. Lesers onthou dalk die rolprent van Stephen Frears met John Malcovich en Glenn Close in die hoofrolle. Dangerous Liasons gaan in Oktober by The Theatre on the Bay in Kampsbaai opgevoer word.

• In November wag die glansryke gala-aand in die Kunstekaap waarop die 90ste verjaarsdag van Kaapstad Stadsballet luisterryk gevier gaan word. Daarna sluit die balletjaar af met die choreograaf Veronica Paeper se Kerstydtreffer, The Nutcracker.

• Die nuus van Nixon se aanstelling by Kaapstad Stadsballet is in Januarie bekend gemaak. Hy het Northern Ballet in Leeds, Engeland van 2001-2022 aangevoer en in sy tyd daar 13 ballette in 20 jaar geskep. Hy het onder meer nuwe weergawes van Madame Butterfly, Swan Lake, A Midsummer Night's Dream, Peter Pan, The Great Gatsby en Cinderella geskep. Koningin Elizabeth het hom met 'n Orde van die Britse ryk vereer vir sy bydrae tot dans, en as 'n Kommandeur van die Britse Ryk.

• Besprekings vir I've Got Rhythm in die Operahuis van die Kunstekaap het reeds geopen. Kaartjies is by Webtickets beskikbaar.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM