Feeste

2022 se feeste: Die groot wenners

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Nuusmakers in die kunste omsluit vanjaar individue, gebeurtenisse, kompetisies, vertonings, pryswenners en selfs konserte ten bate van Oekraïne. Elretha Britz het die oorsig saamgestel deur die Suid-Afrikaanse en internasionale kunstewêreld te fynkam. Hier fokus sy op kunstefeeste en teater.

Sandra Prinsloo

Sandra Prinsloo, Ludwig Binge en Ashley de Lange in ‘Die moeder'.  Foto: Nardus Engelbrecht
Sandra Prinsloo, Ludwig Binge en Ashley de Lange in ‘Die moeder'. Foto: Nardus Engelbrecht

Die gevierde aktrise (74) is vanjaar met 'n Fleur du Cap vir lewenslange bydrae tot teaterkuns in Suid-Afrika vereer.

Sy het ook 'n Fleur du Cap ontvang as die beste speler in 'n solostuk vir haar vertolking van die ontslape skrywer Elsa Joubert in Spertyd, wat op die gelyknamige boek gegrond is.

Op die Woordfees in Stellenbosch is Prinsloo met 'n Woordtrofee vereer as beste aktrise vir haar spel in Die moeder.

Klein-Karoo Nasionale Kunstefees

Die drama Ek, Anna van Wyk, wat as 'n huldiging aan die skrywer Pieter Fourie opgevoer is, het vyf Kanna-pryse ontvang: vir beste teateraanbieding, regie, ontwerp (Marthinus Basson), aktrise (Tinarie van Wyk-Loots) en byspeler (Carlo Daniels).

Die oerkluts kwyt - ter viering van die 70ste verjaardag van die ikone Antoinette Kellerman (aktrise) en Antjie Krog (digter, skrywer) - is bekroon vir uitnemende literêre bydrae (Frieda van den Heever) en beste vroulike byspeler (Ancient Voices).

'n Toneel uit ‘Ek, Anna van Wyk' op die KKNK. Tinarie van Wyk-Loots (met hande in die lug) en Carlo Daniels (derde van links) is vir hul spel in dié drama deur Pieter Fourie bekroon. Foto: Argief
'n Toneel uit ‘Ek, Anna van Wyk' op die KKNK. Tinarie van Wyk-Loots (met hande in die lug) en Carlo Daniels (derde van links) is vir hul spel in dié drama deur Pieter Fourie bekroon. Foto: Argief

Fleur du Cap

Valsrivier, die teaterproduksie gegrond op Dominique Botha se gelyknamige roman: Anna-Mart van der Merwe is as die beste aktrise in 'n hoofrol aangewys, Peggy Tunyiswa as die beste byspeelster en Wolf Britz is vir die beste beligtingsontwerp bekroon.

A Howl in Makhanda, 'n semi-outobiografiese toneelstuk oor veiligheid en waarneming deur Qondiswa James (regisseur): vereer as beste nuwe Suid-Afrikaanse teks en die komponis Jannous Aukema is vir die beste klankontwerp en oorspronklike musiek vereer.

"Master Harold" . . . and the Boys: Desmond Dube is as die beste akteur in 'n hoofrol aangewys en Siya Majola as die beste byspeler in dié klassieke werk van Athol Fugard.

Ganga Nyoko! Inzima Nyoko! (Catch, Brother! It's Hard, Brother!) in Xhosa en Engels: Siphenathi Siqwayi kry erkenning vir sy regie.

Anna-Mart van der Merwe ontvang 'n Fleur du Cap as beste aktrise in 'n hoofrol in ‘Valsrivier'. Foto: Argief
Anna-Mart van der Merwe ontvang 'n Fleur du Cap as beste aktrise in 'n hoofrol in ‘Valsrivier'. Foto: Argief

Woordtrofeë (Toyota US Woordfees)

Die moeder: wen beste toneelstuk, beste speler (Sandra Prinsloo), beste byspeler (Dawid Minnaar) en byspeelster (Ashley de Lange), beste tegniese versorging.

Prinsloo vertolk 'n ma wat aan leënessindroom ly en haar seun en man tot raserny dryf. Tog is dit nie die volle prentjie nie vanweë die riller-elemente van dié treffende drama.

Die sewe doodsondes: wen beste ensemble en beste regie (Matthew Wild). Dit is 'n produksie van die Duitse dramaturg Bertolt Brecht en die komponis Kurt Weill, soos oorspronklik vertaal deur Hennie Aucamp en verwerk deur Charl-Johan Lingenfelder.

Kraal: Jason Jacobs is vir beste debuutteks vereer. Kraal is 'n semi-outobiografiese werk gegrond op drome.

'n Toneel uit ‘Die sewe doodsondes' wat aan die regisseur Matthew Wild 'n trofee as beste regisseur besorg het. Die spelers is as beste ensemble vereer. Foto: Jaco Marais
'n Toneel uit ‘Die sewe doodsondes' wat aan die regisseur Matthew Wild 'n trofee as beste regisseur besorg het. Die spelers is as beste ensemble vereer. Foto: Jaco Marais

Die halwe huis: Marlo Minnaar is as beste akteur vereer.

Survive: wen beste dansprestasie deur Manacan en die Jazzart-dansteater.

Skoonveld(deur Frieda Kruger): vereer as beste kontemporêre musiekproduksie.

Kitaarkonings: wen beste ensemble met Schalk Joubert, Loki Rothman, Albert Frost, Louis Mhlanga, Guy Buttery, Hannes Coetzee en Jonno Sweetman.

Handel at Home: wen beste vokale prestasie.

Late (and Last) Works of Schubert, Brahms and Debussy: wen beste klassieke instrumentale produksie.

Bach (to a) Blast!: die dirigent en pianis Jacobus de Jager is as beste opkomende kunstenaar vereer.

Marlo Minnaar het 'n Woordtrofee ontvang as beste akteur vir sy spel in ‘Halwe huis'. Foto: Hans van der Veen
Marlo Minnaar het 'n Woordtrofee ontvang as beste akteur vir sy spel in ‘Halwe huis'. Foto: Hans van der Veen
CTA