AARDKLOP | Aardklop deel feesprogram

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Vanjaar se Aardklop-program is saamgestel om aan elke feesganger en kaartjiekoper iets te bied: Jy kan bloot kom ontspan by die feesterrein; of jy kan jouself verloor in die allermooiste musiekteater; skaterlag vir komedies; besin oor waar ons as unieke Suid-Afrikaanse samelewing ons bevind; saampraat tydens ons gesprekke of in verwondering staan voor 'n kunswerk.

Koop jou kaartjie vir Karen Zoid en vir Nataniël, jy weet mos jy gaan nie spyt wees nie. Kom giggel saam met Alfred Adriaan en Desiré Gardner as Magda Louw.

Loer gerus na teaterproduksies soos Die moeder, Mirakel, Hoerkind, Mixtape van die liefde en Droomwerk wat elders opslae gemaak het. Jy gaan van hierdie produksies waarskynlik nie in teaters naby jou te siene kry nie.

Let ook veral op na ons debuutwerke soos Goed wat wag om te gebeur, 1, en Die vrou op die dak. Daag jouself uit en koop 'n kaartjie vir 'n produksie waarvan jy nie noodwendig die akteurs ken nie!

Maar wat jy en jou hele gesin régtig nie moet misloop nie, is die sprokiesagtige Braam en die engel, deur die bekroonde teatermaker Nico Scheepers, met onder andere Joanie Combrink, De Klerk Oelofse en Rehane Abrahams. Hierdie werk sal jou laat ontvlug, in vervoering laat, en weer laat glo in die krag van vriendskap en hoop.

Gesels, redeneer en luister saam by The Roots Sonkamer waar ons aktuele en boekgesprekke vanjaar aangebied word.

Trek heeldag in vir indringende aktuele gesprekke gelei deur onder andere Beeld-redakteur Barnard Beukman, diskoers gelei deur Lourensa Eckard van kykNET se In Gesprek, en die gewilde Sake & Sauvignon met Theo Vorster.

Boekgesprekke sluit talle uitgewers soos Penguin Random House SA, NB en Protea in, en gesprekke word met wêreldklas-skrywers soos Marita van der Vyver, Leon van Nierop en Madelein Rust gevoer.

Kom besluit saam met Dawie Boonzaaier wie die beste Springbok van die moderne era is wanneer hy gesels oor Rapport: 30 beste bokke.

Kuier ook saam by die Boeke-Oase en die Netwerk24-feeskafee.

Ons feesterrein op die oewer van die Mooirivier bied samesyn, gehalte kos- en kunsvlyt met vermaak vir die hele gesin.

Dagkaartjies kos R50 óf bederf jouself met weekkaartjies teen R150. Kinders onder twaalf kry gratis toegang.

Sluit dan jóú Aardklop-fees Sondag af by die Langtafel en met die tradisionele koor-en-orkesuitvoering in die Beeld Ouditorium, Calling All Dawns!- Alexa Strachan, Momentum Beleggings Aardklop-feesdirekteur

Lesers kry voorkeur

Lesers van Beeld en Netwerk24 kry vanaf Vrydag 16 Junie eksklusiewe toegang tot kaartjieverkope vir die fees.

Die kaartjieplatvorm word eers Maandag vir die algemene publiek oopgestel. Gaan na www.ticketpros.co.za en gebruik die wagwoord Beeld2023. (En deel dit gerus met vriende en familie ook.)

(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)
(Leanne Berries)

SPELETJIES VANDAG

CTA