Hoewel die aanbied van musiekblyspele bykans 'n jaarlikse instelling by hoërskole in Gqeberha geword het, het die Hoërskool D.F. Malherbe besluit om vanjaar eerder 'n kunstefees aan te bied.
Diegene wat dus die onlangse Makhanda-kunstefees misgeloop het, kan nou gereed maak vir 'n variasie van kunste wat vir een aand by dié skool aangebied sal word.

Deur kinders van jongs af aan so 'n fees blootstelling te bied, berei hulle immers voor om dalk self eendag by een van die groter kunstefeeste soos die Makhanda-fees op te tree.
"Een van die redes waarom ons besluit het om hierdie jaar eerder 'n kunstefees op die been te bring, is omdat die koste daaraan verbonde om 'n musiekblyspel aan te bied net te duur geraak het," sê Nicola Jordan, die organiseerder van die fees.
" 'n Musiekblyspel beperk 'n mens dikwels omdat hoofsaaklik leerders wat kan sing, dans en toneelspeel se talente daarvoor gebruik word. Die skool se fees, #MyDF Kunstefees, is daarop gemik om alle vorme van die kunste wat by die skool aangebied word uit te beeld.
"Die skool het soveel talentvolle leerlinge en deur die fees sal almal 'n kans gegun word om hulle talente nie net aan medeleerlinge nie, maar ook aan die publiek ten toon te stel.
"D.F. Malherbe is baie familie-georiënteerd en so 'n kunstefees skep die geleentheid vir die D.F.-familie asook die breër gemeenskap, oud en jonk, om dit by te woon.
"Daar is beslis iets vir elkeen se smaak met solo-sangitems, koorsang, orkesoptredes, 'n kabaretvertoning, verskeie drama-opvoerings, baldanse, dansitems (groep en individueel), klavier-uitvoerings, 'n kunsuitstalling, marimba-spelers en 'n skrywersklub wat slam poetry gaan doen op die program."
Die items op die program sal onderskeidelik om die uur in vyf teaters aangebied word.
Die kunsuitstalling en die skrywersklub se skryfwerk sal heelaand beskikbaar wees om te besigtig.
Hoewel dit hoofsaaklik leerders is wat sal optree, sal daar ook optredes deur professionele kunstenaars soos die 5th Avenue-orkes en dansers van die dansskool Defying Gravity Productions wees.
Die #MyDF Kunstefees word op Dinsdag 25 Julie by die Hoërskool D.F. Malherbe, op die hoek van 14de Laan en Hoofweg in Walmer, Gqeberha aangebied.
Dit kos R60 per persoon om die fees by te woon en sluit toegang tot al die items in. Die vertonings begin amptelik om 18:00, maar die deure sal om 17:30 oopgemaak word.
Stuur e-pos aan njordan@dfmalherbe.co.za of skakel 041 581 3145 vir meer inligting.



















