Die 6de Hessequa Harmonie-kunstefees – ’n indruk

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Corneil Muller, Minette du Toit-Pearce, Zanne Stapelberg, Niël Rademan, Elna van der Merwe, Anina Wasserman en Lynelle Kenned wat in die ATKV-galakonsert in die NG kerk op Heidelberg opgetree het. Van die sangers het ook by die piekniekkonsert opgetr
Corneil Muller, Minette du Toit-Pearce, Zanne Stapelberg, Niël Rademan, Elna van der Merwe, Anina Wasserman en Lynelle Kenned wat in die ATKV-galakonsert in die NG kerk op Heidelberg opgetree het. Van die sangers het ook by die piekniekkonsert opgetr

Op 'n fees soos die Hessequa Harmonie-kunstefees op Heidelberg val jy in by die ritme in die mooi dorp, wat beskou word as die poort tot die Tuinroete.

Danksy 'n uitgesoekte program van so vier aanbiedinge per dag is daar hope tyd vir drentel en om die historiese geboue en die omgewing te verken, tyd om met mense oor 'n koppie koffie te sit en gesels. Dit is tussendeur vertonings van hoogstaande gehalte, besoeke aan die kunstenaars van die dorp se ateljees en feesuitstallings. Dan is daar veral tyd om te verwerk wat jy pas beleef het.

Die jaarlikse fees, vanjaar in sy sesde bestaansjaar, het verlede week van Dinsdag tot Saterdag plaasgevind. Op die laaste aand van die fees is die pianis Elna van der Merwe vereer met die eerste Hessequa Harmonie-prys vir haar werk op die fees en haar ondersteuning daarvan.

Die pianis Elna van der Merwe is op die fees met die eerste Hessequa Harmonie-prys vereer. Dit word oorhandig aan 'n musikus wat oor 'n aantal jare betrokke is by die fees en as ambassadeur vir die fees optree. Die trofee is deur Andries Kluyts, 'n kunstenaar van Heidelberg ontwerp. By haar is Niël Rademan, feeshoof. Foto: Deon van der Merwe
Die pianis Elna van der Merwe is op die fees met die eerste Hessequa Harmonie-prys vereer. Dit word oorhandig aan 'n musikus wat oor 'n aantal jare betrokke is by die fees en as ambassadeur vir die fees optree. Die trofee is deur Andries Kluyts, 'n kunstenaar van Heidelberg ontwerp. By haar is Niël Rademan, feeshoof. Foto: Deon van der Merwe

Die klein fees het in die afgelope ses jaar gegroei van vier klassiekemusiekuitvoerings tot vanjaar se 20 aanbiedinge versprei oor vyf dae. Volgens Niël Rademan, die feeshoof, was vanjaar die grootste wat dit kan wees. Groter gaan dit nie, sê hy. Klassieke musiek sal altyd die kern van die fees vorm. Volgens Rademan is die ondersteuners van die fees verdeel tussen 'n helfte uit die dorp en die omgewing en die ander helfte is besoekers van elders.

Dit het verlede Dinsdag begin met 'n boekebrekfis en het tot Saterdag laatmiddag geduur waar die afsluiting 'n piekniekkonsert was op die plaas Dasjesdrift net buite die dorp.

Vanjaar was daar drie drama-aanbiedinge: Antoinette Kellermann se solostuk Teen wil en dank, 'n uitvoering van Athol Fugard se Boesman en Lena en die gewilde komedie Hans steek die Rubicon oor. Die program het ook die kabaret Ongebonde van Amanda Strydom ingesluit. Die kunstenaars Gertjie Besselsen, Ilzebet O en Rademan het ook deelgeneem aan die woord-en-musiek-program Die reuk van reën.

Besoekers aan Heidelberg in die Wes-Kaap word begroet deur hierdie muurskildery deur die kunstenaar Louise Kluyts. Oral in die dorp sien jy die werk van Kluyts, ook in sitbankies van mosaïek. Foto: Laetitia Pople
Besoekers aan Heidelberg in die Wes-Kaap word begroet deur hierdie muurskildery deur die kunstenaar Louise Kluyts. Oral in die dorp sien jy die werk van Kluyts, ook in sitbankies van mosaïek. Foto: Laetitia Pople

Soggens is die boekebrekfis aangebied deur Elsabé Daneel met Marita van der Vyver, Charlie Bouguenon namens Rudie van Rensburg, Anchien Troskie en Wium van Zyl wat as vanjaar se deelnemende skrywers oor hul jongste boeke gesels het. Die sjef Herman Lensing het saam met die sopraan Lynelle Kenned gebak in die program Via kook & klassiek. Kenned het tussendeur gesing met Van der Merwe wat haar begelei. Die klassiekemusiekaanbiedinge was Tango en tanniene met die violis Veronica Bell en akkordeonspeler Stanislav Angelov asook 'n verteenwoordiger van die Pinotage-vereniging; Romantique met die pianiste Gerhard Joubert en Van der Merwe, die fluitspeler Bridget Rennie-Salonen en De Beer; die Charl du Plessis Trio se 50 Ways to Leave Your Lover; die ATKV-galakonsert met die Universiteit Stellenbosch se strykorkes, die orrelis Winand Grundling, Van der Merwe, die soprane Anina Wasserman, Kenned, Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce, die baritons Corneil Muller en Rademan en die amptelike feeskoor. Dié koor is deel van die Hessequa Harmonie se koorprojek, Voor innie koor, waarin skoolkore en sangers van die omgewing optree. Die koorleier is Betsie Ryke. Die meeste van die galakonsert se kunstenaars het ook Saterdag by die piekniekkonsert opgetree asook Lucas Heinen op trekklavier.

Die boekgesprekke word gehou in die geskiedkundige Fouriehuis, of die Doornboom-opstal, wat van 1728 dateer en een van die oudste geboue in Suid-Afrika is. Dit is 'n nasionale monument en baie huise rondom die opstal is ook gerestoureer en iets om te aanskou.

Vanjaar se uitgebreide kunsroete is deur Louise Kluyts, 'n kunstenaar van die dorp, byeengebring. Benewens die uitstallings was daar werkswinkels en kunsklasse wat feesgangers tussen vertonings kon bywoon. Onder die kunstenaars by wie se studio's feesgangers aangedoen het, was Louise en Andries Kluyts se Star Nation en Dina Grobler, eertydse beeldhoudosent aan die Universiteit van die Vrystaat wat haar op die dorp gevestig het.

Die Hessequa Harmonie is 'n gesellige kuierfees wat meer as genoeg pitkos bied.

• Aanstaande jaar se Hessequa Harmonie word van 17 tot 22 September op Heidelberg aangebied.

SPELETJIES VANDAG

CTA