
Die uitvoerende kunstebedryf in Suid-Afrika is nog 'n gevoelige slag toegedien nadat 2021 se Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) uitgestel is.
Die jaarlikse fees, wat oor die Paasnaweek van 31 Maart tot 6 April sou plaasvind, is vir eers van die kalender afgehaal. Die bestuur gaan in Januarie moontlike datums vir later in 2021 oorweeg.
Dit volg weens die onsekerheid oor die Covid-19-pandemie, die stygende infeksies en die gesondheidsgevare wat groot byeenkomste van dié aard vir die publiek inhou.
Dié besluit is nie ligtelik of alleen geneem nie, sê Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, die organisasie wat onder meer die KKNK aanbied. Dit het gevolg ná samesprekings met die fees se vennote, borge, die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering.
"Die konsensus is dat die risiko van 'n fees oor die Paasnaweek te groot is vir al die betrokke partye - dorpenaars, besoekers en kunstenaars."
Die ekonomiese impak van die KKNK op Oudtshoorn en omstreke is in 2018, in 'n onafhanklike opname deur prof. Jen Snowball van die Rhodes-Universiteit se departement van ekonomie, geraam op R56,4 miljoen en die fees se impak op die Wes-Kaap word geraam op tussen R161,3 miljoen en R178,2 miljoen.
Projekte wat die dorp en sy inwoners ondersteun, word nou ondersoek deur die feesbestuur in samewerking met die Wes-Kaapse regering, Oudtshoorn-munisipaliteit en die Oudtshoorn Sakekamer.
Kunstenaars gaan ook nie in sak en as gelaat word nie. Daar gaan luidens 'n verklaring nou saamgewerk word met ander feeste en teaters oor die land heen om projekte te skep wat "almal se welstand in die nuwe jaar sal bevorder".
"Die aard van die kunstebedryf is om kreatief te dink, en veral nou is progressiewe planne belangrik," sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die fees.
"Die KKNK het reeds vanjaar met verskeie projekte begin wat die kreatiewe gemeenskappe tydens die inperking kon ondersteun."
Die projekte sluit in 'n virtuele galery, die Kortom-kortfliekprojek in vennootskap met Netwerk24, asook die KKNK se Mothership-musiekkonserte.
"Die kunste is belangrik, veral in tye soos hierdie. Musiek, teater en vermaak help om mense deur sulke moeilike tye te dra," sê Theart.
Hy het kunstenaars aangemoedig om steeds aansoek te doen en "uit die boks en nuut te dink met hul projekte".
'n Jaar lange feesviering word beplan wat onder meer aanlyn musiekkonserte, teateropvoerings, gespreksreekse, meesterklasse, dokumentêre en ontwikkelingsprojekte insluit. Spesiale veilige musiekkonserte en teaterproduksies word ook in Oudtshoorn en ander dele van die land beoog, en dit sal in ooreenstemming met die nodige veiligheidsmaatreëls beplan word, sê Theart.
Voorstelle van kunstenaars wat reeds aansoek gedoen het vir die 2021-fees sal steeds oorweeg word, en aansoekvorms vir verdere voorstelle is beskikbaar op die KKNK se webwerf.
Besoek die KKNK se Facebookblad, of die webwerf by kknk.co.za om op die hoogte te bly van die jongste nuus en gebeure.
Absa is die hoofborg van die KKNK en Media24 is 'n stigtersborg.
* Die Toyota US Woordfees is ook vroeër vandeesmaand genoodsaak om sy feesdatums vir 2021 van Maart tot laat in September uit te stel. Al vanjaar se feeste is ná Maart die een ná die ander gekanselleer. Van die feeste is in ander formate aangebied of net sekere konserte het geskied. Die Vrystaat Kunstefees is, byvoorbeeld, hoofsaaklik virtueel aangebied, en die Suidoosterfees se produksies is as inryteater aangebied.















