
Oudtshoorn. - Die 22ste KKNK begin die dag ná volmaan - tog is sowat 'n honderd teatergangers nog met dié geel boepens gepla en kies skemeraand koers op in St. Saviours-straat na die ou kerkhof teen die bult.
By die hek ontmoet 'n man in 'n stasiemeester se bruin safaripak hulle, hy hou lig met 'n flouerige lanterntjie. In die ander hand klem hy 'n voosgespeelde plastiekpop vas. Baie mense dra nou wel swart, maar dit is nie 'n sataniese ritueel dié nie, wel die plekspesifieke produksie Nagwandelaars. Tussen langvergete geliefdes se grafte kry C.J. Langenhoven se spookstories hier loop.
Ons leier, Sjaka Septembir, se stem is gedrae soos 'n prediker wat deur diepe waters is. Hy is waarskuwend filosofies oor die kortstondigheid van die lewe en dat die dood sin aan die lewe gee. Die koue grafte adem sy wyse woorde. 'n Gees doem op in die verte en hardloop genadiglik weg, maar dan word die geeste meer en ons leier verdwyn . . . Verder kan 'n mens niks verklap oor wat in die kerkhof gebeur het nie - tensy jou naam pretbederwer is. Lewend kom jy wel daarvan af, wel net-net so.
Voor die Burgersentrum het 'n bont sigeuner-tentedorpie herrys. Elke dag van 15:00 tot 21:00 word die tentflappe oopgegooi en word daar bo die lawaai van motors en doef-doef-dreunings teater gemaak. Nege kort stukke word al om die halfuur opgevoer - dit is 'n gelukspakkie. Jy wil dit net oopruk en dadelik alles sien en beleef. Klara Maas se hart is gebreek van Wessel Pretorius en David Viviers is 'n onwaarskynlike sprokie wat jou in die hart tref, in Knie-diep klits Jannes Erasmus in net 'n voorskoot en hoë hakke 'n storm op van lus en drange soos Jamie Oliver nie kan nie en die gehoor bak en brou alte vrolik saam en in Affie plaas word die lewe op die plaas van twee werkers en jarelange vriende weergegee. Alles is onmiddellik en intiem want die teatertjies is piepklein en jy maak heeltyd oogkontak met die spelers. 'n Mens kan nie wag om die ander ses te beleef nie. Van Nederlandse akteurs tot die jong silwerdoekster Deanre Reiners van Seun, Verskietende Ster en Mignon Mossie van Wyk neem deel aan Uitkampteater. Mag dit 'n instelling word.
Teater soos Nagwandelaars en die Uitkampteater "gebeur" bitter selde elders. Dit is hoekom mense na kunstefeeste kom - om buite hul gemaksones te beweeg en 'n ander blik te kry op die lewe en om só deel te wees van 'n seldsame ervaring.














