Feeste

Leesfees op Prins Albert hervat

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Die Prins Albert Leesfees keer einde Augustus terug met gerekende plaaslike skrywers soos Daniel Hugo, Louis Botha, Hanli Burger, Thana de Clerk en die sangeres Madeleine Barnard op die program.

Die jaarlikse fees word van 25 tot 27 Augustus op die dorp aan die voet van die Swartberg gehou.

Thana de Clerk
Thana de Clerk

"Die Prins Albert Leesfees is daarop gemik om 'n lees- en boekekultuur in die Groot-Karoo te vestig, om plaaslike inwoners hieraan bloot te stel en terselfdertyd 'n hupstoot aan die dorp se toerismebedryf te gee. Ons glo dat Prins Albert ook bekend moet staan as 'n sentrum vir lees, leer, geletterdheid en die kunste in die Groot-Karoo," sê die joernalis en uitgewer Marlene Malan wat by die feeskomitee betrokke is.

Daar is 'n verskeidenheid boeke op die program: van ware misdaad tot geskiedenis, oorlogvoering, poësie, reisverhale, fotografie, motivering, sielkunde en veral spanningsromans.

Die rolprentmaker, regisseur en draaiboekskrywer Koos Roets se dokumentêre rolprent Boet se goet oor die Karoo-beeldhouer Boet van der Hoven wys op die openingsgeleentheid en die fotoboek KarooII deur die Prins Albertse fotograaf Louis Botha word ook dan bekendgestel.

Bettina Wyngaard
Bettina Wyngaard

Die ander skrywers op die program is Sally Andrew (The Milktart Murders), Sidney Gilroy (Vlam), Chris Karsten (Op pad na Moormansgat), Bettina Wyngaard (Lokval), Julian Jansen (Moord op Stellenbosch), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom), Eunice Visser (Die Kaapse Slawe: 1652-1838 - 'n kultuurhistoriese perspektief), Kobus Grobler (Die middag reën roet), Alexander Strachan (RecceI, II en III), Frederik de Jager (Ver in die wêreld) en die aktrise Lindie Stander van 7de Laan (Agter my glimlag). Die oudhoof van die ATKV Japie Gouws is een van die aanbieders. Die kinder- en jeugboekskrywers betrokke by die skoleprogram is Thana de Clerk (Juan en die bidsprinkaan), Hanli Burger (Die reus van Groenberg), en Anzil Kulsen (Karatekas: dorings en drake).

Daar is ook 'n omvattende skoleprogram.

The Book of Love, 'n toonsetting van gedigte in verskeie tale, is die titel van die sangeres Madeleine Barnard se vertoning op Saterdagaand 26 Augustus in die restaurant African Relish.

Daniel Hugo Foto's: Verskaf
Daniel Hugo Foto's: Verskaf

Reinie Smit, 'n Leesfees-komiteelid, sê luidens 'n verklaring die belangrikheid van die fees vir die dorp is dat die hele gemeenskap blootstelling kry en toeriste en boekliefhebbers van buite na die dorp lok "wat 'n inspuiting vir die dorp se ekonomie is en waarby bedrywe soos gastehuise, restaurante en winkels sal baatvind".

"Dis 'n fees vir volwassenes en vir skoolkinders, en ons billike kaartjiepryse verseker dat almal die program sal kan bywoon. Die venues is ook maklik bereikbaar, naamlik in die hoofstraat - dit is die NG kerksaal, sowel as African Relish."

Die fees is in vorige jare in November aangebied, maar die feeskomitee het besluit einde Augustus gee die dorp die beste kans op 'n suksesvolle fees om nie met ander kunstefeeste en eksamens te bots nie.

Julian Jansen Foto: Edrea du Toit
Julian Jansen Foto: Edrea du Toit

Program

Opening: Vrydagaand 25 Augustus

18:00 - Bekendstelling van KarooII, 'n fotoboek oor landskappe in die Groot-Karoo. Fotograaf: Botha. Gespreksleier: Hugo.

Hugo lees ook van sy Karoo-gedigte voor uit onder meer sy digbundels Takelwerk, Openbare domein en Klinkklaar.

19:30 - Première van 'n dokumentêre rolprent Boet se goet. Die invloed van die omgewing op Van der Hoven se kunstalent en sy invloed op sy omgewing word ontleed in onderhoude met sy familie, inwoners en kunskenners.

Audrey Jantjies
Audrey Jantjies

Saterdag 26 Augustus

09:00 - Wyngaard gesels met Jansen oor Moord op Stellenbosch.

10:00 - De Jager en Gilroy gesels oor Vlam.

11:00 - Visser gesels met Jantjies oor As die katjiepiering blom.

12:00 - Malan gesels met Grobler oor Die middag reën roet.

14:00 - Hugo gesels met De Jager oor Ver in die wêreld.

15:00 - Gilroy gesels met Wyngaard oor Lokval.

16:00 - Malan gesels met Hugo oor Vers en KapittelII.

17:00 - Barnard se sangvertoning The Book of Love.

Koos Roets
Koos Roets (Picasa)

Sondag 27 Augustus

09:00 - Wyngaard gesels met Karsten oor Op pad na Moormansgat.

10:00 - Gouws gesels met Visser oor Die Kaapse slawe 1652-1838 - 'n kultuurhistoriese perspektief.

11:00 - Hugo gesels met Strachan oor RecceIII.

12:00 - Barbara Castle en Andrew gesels oor The Milk Tart Murders.

•Besoek die Prince Albert Leesfees-Facebookblad vir inligting.

•Kaartjies is by die plaaslike biblioteek, reiniesmit@gmail.com of 0235411036 te koop.

Candice Jantjies

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM