Van 30 November tot 3 Desember bring die eerste Musiekindaba die hele musiekbedryf en -liefhebbers byeen in Stellenbosch.
Dit is 'n geleentheid om koppe bymekaar te sit, verhoudings te bou, loopbane te help bevorder, te leer, inligting te deel en die wonderwêreld van musiek te vier.
Die Musiekindaba het hoëprofiel-sprekers op die program met paneelbesprekings en slypskole wat elke dag aangebied word. Daar gaan ook geleenthede wees vir nuwe talent om skouers te skuur met legendes, asook bemarkings- en netwerkgeleenthede en lewendige optredes.
'n Deel van die opwindende program, is Forte waar kundiges op verskeie vakgebiede in die musieklandskap praat:
• David Kramer gesels oor die potensiaal van 'n suksesvolle oorspronklike musiekblyspel.
• Prof. Johan Fourie, skrywer van Our Long Walk to Economic Freedom, praat oor musiek op die lang pad na ekonomiese vryheid.
• Dr. Schalk van der Merwe, akademikus en uitvoerende musiekkunstenaar (baskitaar), bespreek die vaslê van oomblikke van ontwrigting in die musiekbedryf.
• Brendan Jury, 'n ervare en bekroonde skepper van oorspronklike klankbane vir rolprente, TV en ander genres, gesels oor komposisie vir verskeie genres.
• André le Roux deel van sy navorsing oor regstreekse stroommodelle en die bou van strategieë vir digitale mobiliteit in die belang van kunstenaars en die kreatiewe bedryf.
• Die tradisionele musiekkunstenaar en kultuurhistorikus, prof. Mzikantu Zungula Dizu Plaatjies, praat oor 'n holistiese beskouing van Afrika-musiek uit 'n kulturele, historiese, sosiologiese en ekonomiese perspektief; en
• Louis Heyneman, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, praat oor hoe tegnologiese vooruitgang alle musiek voor 'n vurk in die pad bring.
Besoek www.musiekindaba.co.za om die volle oorsig van die en nog ander toesprake op die program te kry.

Van die hoogtepunte by die Musiekindaba is:
• Encore! 'n informele gespreksreeks waar daar onder meer met kunstenaars soos Anton Goosen, Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Kurt Darren en Mango Groove gesels word.
• Presto-Presto is die naam vir die reeks dinamiese interaktiewe gesprekke oor belangrike vraagstukke in die bedryf en die soeke na oplossings. Kunstenaars, platemaatskappye, radiostasies, invorderingsagentskappe, die media, en verskeie digitale platforms kom bymekaar. Fokuspunte sluit in die stand van Afrikaanse musiek, musiekregte, die jongste tendense in die bemarking van kunstenaars, finansiële standvastigheid vir kunstenaars, musiekteater en nog vele meer.
• G-Sleutel is die naam vir 'n reeks slypskole waar spesialiswysheid en ervaring gedeel word. Van die deelnemers is kunstenaars soos Emo Adams en Danie du Toit van Spoegwolf, Samro en Spotify gaan hul geheime deel, Heidi Edeling gaan alles vertel van die wat en die hoe van 'n musiekloopbaan en by Magriet Groenewald gaan jy leer hoe om jou loopbaan op sosiale media te laat groei.
Karen Meiring, hooforganiseerder van die Musiekindaba, sê in 'n verklaring: "Musiek is deel van ons lewe en ons sien uit daarna om saam planne te beraam en 'n blink toekoms vir musiek in Suid-Afrika te verseker.
Registrasie open op 21 September om 18:00.
'n Opwindende musiekprogram word vroeg in Oktober aangekondig. Dit sal plaasvind by die Endler, Adam Small-teater, Daisy Jones, die Drostdy-teater en die Oude Libertas-amfiteater.
Registreer op die webtuiste: www.musiekindaba.co.za en besoek die webblad vir nader besonderhede.






















