‘Comic’ kry lewe van sy eie

Richard September en De Klerk Oelofse baljaar saam as die karakters Bal-Oog en Brommel in die produksie Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat. Foto's: Jaco Marais
Richard September en De Klerk Oelofse baljaar saam as die karakters Bal-Oog en Brommel in die produksie Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixiastraat. Foto's: Jaco Marais

Richard September en De Klerk Oelofse het sweerlik albei fotogeniese breine en 'n persoonlike afrigter op speed dial.

Want om vir 'n uur lank elke woord, byklank en beweging te moet onthou, terwyl jy nie 'n voet op die verhoog verkeerd sit nie verg beslis 'n bonatuurlike vermoë . . . om nie eens te praat van 'n bonatuurlike fiksheidsvlak nie.

Tog kry hierdie manne dit sonder veel moeite reg om die beroemde strokiesprentkarakters, Bal-Oog en Brommel, lewe te gee in die produksie Bal-Oog en Brommel: Moord in Ixia-straat.

En met Gertjie Besselsen van die groep Mr. Cat & the Jackal wat nie net 'n karakter in die produksie speel nie, maar ook byklanke met sy elektriese kitaar en verskeie ander instrumente verskaf, is hierdie drie manne so gesinchroniseer soos 'n goed geoliede masjien.

As jy al ooit gewonder het hoe 'n strokiesprent in die regte lewe lyk, sal Bal-Oog en Brommel jou met 100% akkuraatheid wys.

Dit is moeilik om te beskryf hoe presies hulle dit regkry. Daar is 'n klein vierkant op die verhoog waarin al die aksie afspeel. Bal-Oog, Brommel, Boltjie die brakkie en meer karakters as wat jy op jou vingers kan tel, hardloop, duik, skiet, skaats en baljaar in hierdie klein ruimte asof dit so groot is soos die Kaap.

Dit is soos 'n ingewikkelde dans wat foutloos verloop. Dis asof die spraakborrels wat eie is aan strokiesprente met hand bewegings en klank lewe kry op die verhoog.

Met 'n koppie Frisco en met Speurwerk vir Dommies onder die arm gaan Bal-Oog en Brommel op 'n soektog na die moordenaar van die kêrel van Anja. Anja is die appel van Bal-Oog se oog. En as jy wil saamgaan op hierdie avontuur is jy meer as welkom, solank jy met die vinnige pas van hierdie twee ratse flinkdinkers kan byhou.

Izelle Van Tonder

SPELETJIES VANDAG

CTA