Met verreweg die omvattendste program in sy bestaan van 19 jaar, het die Vrystaat Kunstefees Donderdagaand amptelik sy feesprogram bekend gestel.
Benewens 'n wye keuse van teaterproduksies, tree van die land se voorste skrywers in die grootste literatuurfees in sentraal-Suid-Afrika op, bring die Vrynge uiteenlopende teaterervarings vir die eerste keer na die fees, en kan openbare en lewende kuns nie net op die kampus aanskou word nie, maar ook verspreid oor die stad.

Visuele kuns, 'n rolprentfees en 'n diskoers oor aktuele aangeleenthede is ook deel van die propvol feesweek wat van 1 tot 7 Julie op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat gehou word.
Vlagskipproduksies in Afrikaans, Engels en Sotho sluit in die toneelstuk Kamphoer, die storie van Susan Nell wat gegrond is op 'n ware verhaal uit die Anglo-Boereoorlog.
Sandra Prinsloo vertolk die rol van Susan, 'n jong vrou wat grusaam verkrag word en vir dood in Winburg se konsentrasiekamp gelaat word. Die roman is deur Francois Smit, Vrystaatse skrywer en dosent. Lara Foot is die regisseur.
The Island, onder die regie van Jerry Mofokeng, is ook 'n debuutstuk en op ware gebeure gegrond. Athol Fugard, John Kani en Winston Ntshona het saam dié apartheidsdrama wat in 'n tronk afspeel, geskryf.
Die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) bied ook twee vlagskipproduksies aan, Katvoet met Marius Weyers, Marion Holm, Tinarie van Wyk Loots, Albert Pretorius, Martelize Kolver en Geon Nel, en My seuns met Sandra Prinsloo, Louw Venter, Sandi Schultz, Edwin van der Walt, Buhle Ngaba en Donovan Pieterson.
Die Vrystaat Kunstefees, wat as een van die sleutel-kunstefeeste op die Afrika-vasteland bestempel word, bied ook 'n breë spektrum nasionale en internasionale werk in 'n indrukwekkende rits genres. Benewens die groot aantal Suid-Afrikaanse kunstenaars is daar 'n magdom kreatiewe praktisyns van sover as Australië, België, Kanada, die Karibiese Eilande, Frankryk, Duitsland, Italië, Nederland, Malawi, Mexiko, Nigerië, Senegal, Singapoer, Brittanje, Amerika en Zambië, om net 'n paar te noem.
Verdere aanbiedinge sluit in musiek, eksperimentele dans, visuele kuns, lewende kuns, klankkuns en kunsvlyt - werklik iets vir elke smaak.
Kry die volledige program aanlyn. Feesgangers kan die volledige program aanlyn by http://bit.ly/VSKProgram2019aflaai.
Die gedrukte weergawe sal eersdaags by Computicket Money Market-toonbanke in Shoprite en Checkers beskikbaar wees.http://bit.ly/VSKProgram2019



















