Roerende wipwarit van gemoedsteurnis

Sara (Henriëtta Gryffenberg) en Paul (André Roothman) in ‘Die vermoeienis van vlerke'. Foto: Jaco Marais
Sara (Henriëtta Gryffenberg) en Paul (André Roothman) in ‘Die vermoeienis van vlerke'. Foto: Jaco Marais

Die vermoeienis van vlerke

Toyota US Woordfees

****

Die teaterganger beland hier in die maalstroom van die lewe saam met drie mense. Jy loop die pad met hulle danksy Lara Foot se manjifieke teks, die fyn spel van die akteurs en delikate regie van Sylvaine Strike.

Dit is 'n liefdesverhaal wat skoppelmaai ry. Eintlik speel 'n mallemeule van emosies hier af. Dit wys wat liefde werklik is én verg.

Paul se Sara leef met bipolêre gemoedsteurnis en hy soek verbete na 'n kuur. Hy het las van sy "vlerke", sy daaglikse selflose opofferinge vir sy vrou ten koste van als: sy kinders, loopbaan, stokperdjies en vriende. Die siekte het 'n ingrypende invloed op almal in Sara se klein sfeer, nie net op haar eie lewe nie, maar ook haar man, hul twee kinders en 'n getroue huisvriend s'n. Die keuse om 'n lewenspad met Sara te loop, die opofferinge en frustrasies, word vertolk.

Foot het by 'n psigiater gaan aanklop in haar navorsing vir die stuk, wat in die oorspronklike Engels, The Inconvenience of Wings, met groot lof in 2016 in die Baxter opgevoer is. Dit het ook drie Fleur du Cap-pryse gewen. Dit is deur Saartjie Botha in Afrikaans vertaal en is ná die Woordfees op die KKNK.

Sara (Henriëtta Gryffenberg) en Paul (André Roothman) in ‘Die vermoeienis van vlerke'.Foto: Jaco Marais
Sara (Henriëtta Gryffenberg) en Paul (André Roothman) in ‘Die vermoeienis van vlerke'.Foto: Jaco Marais

Dit wys geloofwaardig die volgehoue ontkenning, kompulsies en verslawing aan medisyne, ook die selfdoodpogings en mishandeling van self en geliefdes, wat dikwels die steurnis kenmerk. Dan in helder oomblikke volg Sara (Henriëtta Gryffenberg) se veragting van haarself, ook hoe desperaat sy is om net 'n "normale" lewe te lei. Sara wil kolwyntjies bak vir haar kind se klas, maar bak dan 400.

Die storie begin aan die einde en neem die gehoor na waar alles begin het. Gabriel García Márquez se elegiese kortverhaal "A Very Old Man with Enormous Wings" dien ook as inspirasie.

Jy ontmoet die amper bejaarde Paul (André Roothman) tussen die wrakstukke van sy lewe. Sy goedige vriend James (Chris Gxalaba), 'n opgeleide psigiater wat akademikus geword het, staan hom by. Van daar flits die geheue terug. Drome en herinneringe word hier die lewe. Gryffenberg en Roothman skitter werklik in hul rolle. Hulle vertolk met oortuiging en insig. Dit is grootse, hartverskeurende teater wat teks, spel en regie betref. Dit wys dat die liefde eintlik beteken hoe ver jy in die donker saam met 'n geliefde kan loop.

*13 Maart om 10:00, 14 Maart om 10:00 en 15 Maart om 16:00.

SPELETJIES VANDAG

CTA