Cate Blanchett het al die rol van Bob Dylan ingeneem, so ook Richard Gere en selfs ook Christian Bale.
Nou pronk Timothée Chalamet op al wat 'n benoemingslys in die fliekfabriek is vir sy vertolking van die Nobelprys-bekroonde troebadoer Dylan in die jongste biografiese prent oor waarskynlik die grootste sanger en liedjieskrywer van sy tyd.
Resensente gons oor die 29-jarige Chalamet se stem - hy sing al die liedjies in die prent, speel ook die kitaar soos 'n meester en het 'n wilde haredos en vreemde stappie soos die jong Dylan.
Selfs die 83-jarige Dylan het die jong ster geloof vir sy spel in A Complete Unknown, al het mense aanvanklik gedink Chalamet (Call Me By Your Name en Dune) is "te mooi" en "te liggewig" vir die rol.
Mense is veral gaande oor Chalamet se weergawe van die ikoniese lied "A Hard Rain's A-Gonna Fall" in die prent, asook sy lied saam met Monica Barbaro, wat Joan Baez speel in "It Ain't Me Babe".
Dylan het self die draaiboek van die biografiese rolprent, wat handel oor sy sukkelende opgang in die 1960's in New York, goedgekeur en afgeteken.
Dylan het self die draaiboek van die biografiese rolprent, wat handel oor sy sukkelende opgang in die 1960's in New York, goedgekeur en afgeteken.
Dit is deur die regisseur James Mangold met hulp van Jay Cocks geskryf en is gegrond op Elijah Wald se boek Dylan Goes Electric! Newport, Seeger, Dylan, and the Night That Split the Sixties, wat in 2015 verskyn het. Daarin word onder meer vertel hoe Robert Zimmerman van Minnesota ontluik het in Bob Dylan, sy bewondering vir Woody Guthrie en die vroue in sy lewe.
Die prent beeld ook die beginjare van sy sosiale aktivisme uit. Voorts het Dylan verskeie kere met die regisseur vergader vir die beplanning en verfilming van die fliek.
Die langverwagte prent is oplaas Vrydag in Suid-Afrikaanse rolprentteaters. Kykers kan gerus wees dat die gegewe na aan die ware Jakob is omdat Dylan so na aan die vervaardigingsproses gehou is.
Die kyker ontmoet ook die ewe ikoniese Baez (Barbaro) in die prent met wie Dylan 'n liefdesverhouding gehad het, sy musiekheld Woody Guthrie (Scoot McNairy) asook die folkmusiekster Pete Seeger, vertolk deur Edward Norton. Elle Fanning vertolk die rol van Dylan se eertydse liefde Suze Rotolo. Haar naam is egter in die prent na Sylvie Russo verander.
13 rolprente, insluitend dokumentêre prente, is al oor die publisiteit-sku Amerikaanse sanger gemaak. Die vreemdste en dalk die prent wat die kol sekuur getref het, was Todd Haynes se dramatiese I'm Not There, waar die regisseurs ses akteurs (onder andere Blanchett, Gere en Bale) ingespan het om dele van Dylan se persoonlikheid te weerspieël. Dit is in 2007 uitgereik.
Dylan tree steeds gereeld op. Hy het kort voor Kersfees verlede jaar die Royal Albert Hall in Londen volgepak en die skare in vervoering gehad.
A Complete Unknown se tydsduur is 140 minute en die ouderdomsperk is 13.





















