Kuns

Dié dans ook deel van Kunsmark

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lede van die Garage Dance Ensemble saam met die kunstenaar Igshaan Adams (geel T-hemp).  Foto: Zeitz Mocaa
Lede van die Garage Dance Ensemble saam met die kunstenaar Igshaan Adams (geel T-hemp). Foto: Zeitz Mocaa

Die kunstenaar Igshaan Adams en die O'Kiepse dansgroep Garage Dance Ensemble bied die dansstukke Babelas asook Krummelpap, Afval en Sunlightseepbaddens as deel van die Investec Kunsmark in Kaapstad aan.

Die mark word van Vrydag tot Sondag hoofsaaklik by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied, hoewel talle galerye in die stad ook programme aanbied.

Die eerste optredes van die bekroonde en innoverende Namakwalandse dansgroep, wat gereeld saam met Adams werk, is Vrydag 17 Februarie om 19:00 op vlak 2 van die Zeitz Mocaa-kunsmuseum in die Silo-distrik van die V&A Waterfront en Saterdag 18 Februarie om 14:00 by die Track Shed net buite die ingang na die Zeitz Mocaa.

Adams, wat saam met die kunstenaar Bronwyn Katz deel was van die hooftentoonstelling op verlede jaar se Venesiese Biënnale, doen tot in April 'n Atelier-kunsteverblyf in die kunsmuseum. Hy het onder meer beeldhou-installasies ingerig wat die voorkoms het van reuse-stofwolke. Sy werk in die museum onder die titel Not Working (Working Title) dien om te besin oor sy kunspraktyk en om verder te timmer aan werke wat hy nog nooit buite sy ateljee gewys het nie. Hy wil ook die tyd gebruik om die mense en netwerke met wie hy gereeld skakel, na die voorgrond te bring.

Igshaan Adams. Agter hom is 'n afdruk op lap van die voete, hande en die dansbewegings van die Garage Dance Ensemble tydens 'n vorige dansimprovisiasie met Adams.  Foto: Zeitz Mocaa
Igshaan Adams. Agter hom is 'n afdruk op lap van die voete, hande en die dansbewegings van die Garage Dance Ensemble tydens 'n vorige dansimprovisiasie met Adams. Foto: Zeitz Mocaa

Krummelpap, Afval en Sunlightseepbaddens is 'n dansteater-stuk met die teks geskryf deur Ronelda S. Kamfer. Die danswerke is dan in "gesprek" met Adams se werk. Dit fokus op die jeug in 'n bruin gemeenskap en hul stryd om die verlede agter te laat en te strewe na 'n toekoms waar hulle hulself ten volle kan uitleef. Dit is gevul met donker humor en rou emosie.

In die beweging van die dansers word die persoonlike en politieke omstandighede van die bruin mense van die Noord- en Wes-Kaap as die nasate van slawe, Nederlandse slawe-eienaars en die inheemse Khoi uitgebeeld. Dit het in 2020 op die Toyota US Woordfees gedebuteer en is die jaar daarna by Afrovibes in Nederland opgevoer. Die choreograaf is Alfred Hinkel.

Babelas is 'n nuwe stuk van die Garage Dance Ensemble geskep deur die choreograwe Byron Klassen en Dustin Jannetjies. Dit fokus op die spanningslyn waarop die jeug loop met drank- en dwelmmisbruik.

John Linden en Hinkel het die Ensemble in 2011 op O'Kiep begin. Hul dansfilm Gat innie Grond, Wond in My Siel (Hole in the Ground, Wound in my Soul) is met 'n Fiësta bekroon.

• Die tiende Kaapstadse Kunsmark bied benewens die reuse-uitstallings in Kiks ook 'n gespreksprogram, rondleidings en 'n roete op die rooi busse na deelnemende galerye in Kaapstad aan. Die tema "tyd" word vanjaar ondersoek.

Besoek www.investeccapetownartfair.co.za.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM