Kuns

Groot keramiek-bederf wag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kunsliefhebbers in Gqeberha en die omliggende omgewing is bevoorreg om die Oos-Kaapse Keramiekvereniging se jaarlikse uitstalling te kan besigtig wat by die GFI-kunsgalery in dié stad aangebied word.

Die groepuitstalling bestaan uit 'n groot verskeidenheid van Oos-Kaapse keramiekkuns van hoë gehalte en 25 kunstenaars, studente en gevestigde professionele kunstenaars neem daaraan deel.

Billie McNaughton is aangewys as die wenner van die beste werk op die uitstalling.
Billie McNaughton is aangewys as die wenner van die beste werk op die uitstalling. (SYSTEM)

Drie gaskunstenaars, Jo-Anne Küter en Carol Hay­ward-Fell van KwaZulu-Natal en Lesley-Ann Hoets van Sedgefield, is genooi om aan die besonderse uitstalling deel te neem.

" 'n Kunsversamelaar is onlangs deur 'n kunskenner van die welbekende Sotheby's aangeraai om in Suid-Afrikaanse keramiekkuns te belê juis omdat die werke van so 'n hoë standaard is.

"So kunsliefhebbers, kom kyk watter fenomenale kunswerke net hier op jul voorstoep uitgestal word," sê Billie McNaughton, voorsitter van die Oos-Kaapse Keramiekvereniging.

"Die meeste van die keramiekkuns wat uitgestal word, is beeldhoukuns en hoofsaaklik dekoratief. Ons het besluit om nie die studente en professionele kunstenaars se werk te skei nie, omdat dit juis die liefde vir klei is wat ons verbind."

Die beoor­delaars vir die jaar se uitstalling was Heather Osner en Margie Higgs. Die Andile Dyalvane-prys vir die beste werk op die uitstalling is aan McNaugton toegeken.

Die beoordelaars was beïndruk dat sy die medium bemeester het en omdat die kyker self die geleentheid kry om haar werk te interpreteer.

McNaughton se reeks werk vir die uitstalling bestaan weer eens uit haar bekende koppe van swemmers.

Haar keramiekkuns beeld vroue uit wat Moeder Aarde verteenwoordig en wie se gesigte na bo kyk.

"Die ‘pette' op die keramiekbeelde dui op spiritualiteit en die 'n narratief vir ons inner being wat na vore kom," sê sy.

"Die swemmers se oë is gesluit, wat daarop dui dat die realiteit van die wêreld van mindere belang is."

McNoughton is self 'n oop­waterswemmer en het al verskeie swemuitdagings suksesvol voltooi.

"Behalwe dat ek die swemmery geniet, dra dit ook by tot my kreatiwiteit," sê sy.

McNaughton het opleiding ontvang van die bekende keramiekkunstenaar Hilton Nel. Sy is verlede jaar genooi om aan 'n uitstalling by die GFI-kuns­galery saam met Tony Pietersen deel te neem en feitlik al haar werk is toe verkoop.

Andile Dyalvane, een van Suid-Afrika se voorste keramiekkunstenaars, het die prys geborg wat aan McNaughton toegeken is. Dyalvane is bekend daarvoor dat hy aan veral jong opkomende kunstenaars in die Oos-Kaap ondersteuning bied.

Lois Lippstreu Strong het die prys vir die tweede beste werk op die uitstalling ontvang.

Die ander kunstenaars wat pryse vir hul kunswerke ontvang het, is Richard Pullen (eerste meriete), Rika Haasbroek (meriete), Rose Hobson (meriete) en Nosipho Booi, wat die prys vir die beste werk deur 'n student ontvang het.

Benewens Küter, Hayward-Fell, Hoets, McNaughton, Haasbroek, Pullen, Booi en Higgs, is die ander deelnemers Louis Pe­trucci, Rosemary Hobson, Sinethemba Xola, Sonwa­biso Ngcai, Charmaine Haines, Mark Dodd, Sivan Sahar, Phathisizwe Mavika, Hannalize Schultz, Rob Colesky, Lois Lippstreu Strong, Lookout Sibanda, Goldie Higgins, Bentley van Wyk, Lisa Walker, Mariana Tomelin en Nathaniel Matola.

  • Hierdie besonderse uitstalling van kunswerke van hoë gehalte duur tot Woensdag 24 Januarie en kan by die GFI-kunsgalery in Park­laan 30 in Sentraal, Gqeberha, van Maandag tot Vrydag van 10:00 tot 16:00 en op 'n Saterdag van 10:00 tot 13:00 besoek word.
Willemien Green

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM