Die vuurvegter - dit is een manier om die rol van 'n kunste-administrateur in die groter ekosisteem van die kunste in Suid-Afrika te beskryf.
Dikwels voel dit vir haar of sy haar haas na waar die vlamme is. So het Lakin Morgan-Baatjies die rol van 'n kunste-administrateur in die nuwe era uitgelig gedurende die tweede dag van die Tribuo-sessies op Stellenbosch.
Hoewel sy haar loopbaan as danser begin het, is sy nie meer in die ateljee nie. Haar nuwe rol is die transformasie van die samelewing deur middel van die kunste.
Morgan-Baatjies is die senior bemarkingsbestuurder van die Universiteit van Johannesburg (UJ) se afdeling vir kuns en kultuur gesetel in UJ se fakulteit vir kuns, ontwerp en argitektuur.
Die Tribuo-sessies is Vrydag deur sowat 80 rolspelers in die kunste bygewoon, waaronder die regisseur en akteur Lee-Ann van Rooi, Saartjie Botha, feeshoof van die Woordfees, Hugo Theart van die KKNK en die vervaardiger Pieter Toerien.
Skep die omgewing waar kunste floreer
Die kunste-administrateur ondersteun nie net die kunste nie, maar vorm die omgewing waarin dit kan floreer, meen Morgan-Baatjies.
"Ons rig instansies deur die proses van verandering, ons lei gemeenskapsinisiatiewe, ons bou stelsels vir kreatiwiteit en impak. Voorspraak is leierskap - dit kan 'n bos blomme op openingsaand wees of om te veg in 'n raadsaal vir finansiering." Daagliks tree die kunste-administrateur in gesprek met die regering, die korporatiewe wêreld, die samelewing "nie net om die deure oop te hou nie, maar om 'n volhoubare kulturele toekoms te skep".
"Ons is die kulturele diplomate wat onderhandel oor beleid, ons benadruk die waarde van die kunste in opvoeding, in gesondheid, in die ontwikkeling van 'n gemeenskap en in die ekonomie. Ons weet dat die kunste nie 'n luukse is nie." Die bou van vertroue en netwerke is 'n wesenlike rol van die administrateur.
"Om 'n kulturele projek te laat slaag het jy tyd, geld en mense nodig. Soms het jy tyd, soms het jy 'n briljante idee, maar geen geld nie. Soms het jy 'n wonderlike span, maar geen tyd of geld nie - dit is raar as als in plek val. "Jou gehoor is die hart van die werk. As jy seker is oor wie die gehoor is, wat hulle wil hê en wat jy wil hê hulle moet ervaar, dan kan 'n goeie projek in 'n betekenisvolle een verander."
Sonder daardie spesiale band met die gehoor is daar geen impak nie, glo Morgan-Baatjies. "Dan is daar geen kuns nie, geen kuns wat standvastig is nie. Dit is nie meer oor die opvoering nie, maar oor die ervaring voor, gedurende die vertoning en daarna," glo sy.
Sy benadruk dat data en tegnologie gebruik kan word om vir gehore 'n meer persoonlike ervaring te gee. Dit kan ook gebruik word om die gehoor 'n aktiewe deelnemer te maak en om tendense uit te lig.
Tegnologie moet aktief ingespan word
Sy het verwys na haar departement se innoverende kunstentoonstelling Toorbos, wat vanjaar op die KKNK te sien was, waar die kyker deel word van 'n visuele tentoonstelling danksy deelnemende tegnologie. Só word grense verskuif nie net vir ontwerp nie, maar ook vir toegang tot die kunste. In die nuwe era gaan tegnologie sentraal staan, dit gaan mense verbind aan 'n nuwe land - waar diversiteit en inklusiewe deelname gaan geld en 'n wêreldvisie kan vorm. Die kunste-administrateur moet tegnologie aktief inspan en nie skrik vir innovasie nie.
Sy het benadruk dat kulturele instansies en denkwyses gedekoloniseer en getransformeer moet word en dat die skep van 'n verteenwoordigende kulturele werklikheid van wesenlike belang is.
"Inheemse kennissisteme is belangrik, plaaslike stemme moet steun kry, ons moet werk skep wat op die wêreld gerig is, maar plaaslik gewortel is.
Respekvolle interaksie met rolspelers
"Ons het internasionale vennootskappe nodig en samewerking oor kulture heen - dit moet respekvolle interaksies wees en nie uitbuitend nie - samewerkings wat Suid-Afrika se unieke identiteit vier, maar wat betekenisvol bydra tot die globale gesprek oor billikheid, regverdigheid en innovasie."
Sy het ook benadruk dat volhoubaarheid nie net die omgewing moet steun nie, maar dat kunsprojekte die gemeenskappe waarin die kunstenaars werk moet steun.
Die Covid-pandemie het gewys dat krisisse geleenthede bring - dat die weerstandiges oorleef, maar dat die aanpasbares floreer. "Ons moet 'n kultuur bou, nie net 'n plan vir krisisse nie. Ontwrigtings moet nie met vrees begroet word nie, maar as 'n kans om kreatief en innoverend te wees. Krisisse gaan kom, hetsy dit polities, ekonomies of sosiaal van aard is of van die regering kom. "As kunstebestuurders moet ons lei met dapperheid, nuuskierigheid en kreatiwiteit. Vandag se kunste-administrateur is deels uitvoerende hoof, vervaardiger, terapeut, bouer van 'n gemeenskap en vuurvegter. Ons moet kreatiwiteit aanmoedig, maar nogtans moet ons sterk standpunt inneem, voorspraak doen vir kunstenaars en burokrasie bestuur. Ons moet gehaltekuns skep en finansieel oorleef en eties verantwoordbaar wees."
Die Tribuo-sessies duur tot Saterdag.










