Die kunsfotograaf Karl Schoemaker is reeds van kindsbeen af versot op fotografie en sy liefde vir dié kunsmedium is opsigtelik in sy solo-uitstalling Patterns in the Whole wat in Gqeberha in die Oos-Kaap besigtig kan word.
In die uitstalling vertoon hy abstrakte fotografie wat die kyker die geleentheid sal gee om die vorm en komposisie van die foto's te waardeer sonder om presies te weet wat dit is.

"Ek het as kind altyd 'n kamera byderhand gehad, ek onthou nog veral daardie 110-kameras waarmee ek foto's geneem het."
Nadat hy sy honneursgraad in Skone Kunste (fotografie) aan die Rhodes-Universiteit in Makhanda behaal het, het hy eers sy diensplig as fotograaf vir die Suid-Afrikaanse Lugmag voltooi. Daar het hy veral ondervinding in lugvaart-fotografie opgedoen en ná sy diensplig het hy as 'n assistent in 'n fotografie-ateljee gewerk.
In 2008 het hy na Gqeberha verhuis waar hy steeds voltyds as kommersiële sowel as kunsfotograaf werksaam is.
As 'n kommersiële fotograaf reis hy dikwels nasionaal sowel as internasionaal en gebruik die geleentheid om sy indrukwekkende fotoversameling aan te vul.
Schoemaker spesialiseer daarin om mense af te neem en neem ook dit af wat sy belangstelling prikkel.
"Ek geniet dit om mense af te neem omdat ek van die interaksie met verskillende mense hou, maar dit is vir my belangrik om dan hul "ware" persoonlikheid deur middel van my foto's weer te gee,' sê hy. "Daar is vir my niks erger nie as 'n geposeerde foto,the trick of the tradeis om 'n persoon te laat ontspan en dan wanneer sy ‘ware self' na vore kom, die foto te neem.

"Ek hou daarvan om mense te wys wat ek sien; patrone, teksture, die onbewustelike prentjie binne-in dit wat ons elke dag rondom ons sien."
Hoewel hy wel soms byvoorbeeld 'n foto se kleur sal regstel glo Schoemaker nie daarin om sy foto's te manipuleer nie.
"Ek sê altyd, get it right in camera en daarom beplan ek gewoonlik 'n foto voordat ek dit neem. Wat ek wel soms doen, noem dit maar discretionary enhancements, beperk ek tot die minimum.
"Beplanning is natuurlik 'n uitdaging omdat fotografie 'n medium is wat dikwels 'n uitsonderlike oomblik moet vasvang. Net soos kunstenaars 'n unieke visie vir 'n skildery het, sien fotograwe ook 'n foto-geleentheid wat ander persone nie sodanig sal ‘sien' nie.
"Ek deel definitief Elliot Erwitt, 'n welbekende Frans-gebore Amerikaanse fotograaf se siening: Fotografie is die kuns van waarneming.
"Hy glo die eindproduk het weinig te doen met wat jy sien, maar eerder hoe jy dit sien."
Schoemaker is bekend met die ou manier van foto's met 'n filmrol neem en die ontwikkeling daarvan in 'n donkerkamer.

"Toe ek destyds my opleiding gekry het, het ons die hele proses geleer, van die neem van die foto's tot die ontwikkeling en druk daarvan. Later toe ek as fotograaf in diens was, het ons die filmrolle weggestuur vir ontwikkeling."
Hy was toe gelukkig genoeg om sy eie donkerkamer by die huis te hê waar hy sy foto's kon ontwikkel.
"Toe digitale kameras op die mark kom het ek vinnig daarby aangepas en daarby gebly, maar soms mis ek die hele proses. Maar ek kan skaars onthou wanneer laas ek 'n filmrol gebruik en self ontwikkel het."
Die moeilikste deel om 'n fotograaf te wees is om die skeidslyn tussen kommersiële en kunsfotografie te bepaal, glo hy.
"Met kunsfotografie word die foto nie net geneem om iets te dokumenteer nie, maar ook om dit te kan interpreteer, 'n storie agter die foto oor te dra.
"Ek het nogal klank hiermee geworstel waar my foto's wel 'n kreatiewe produk van lig en skaduwees was, maar ek steeds die onderwerp op 'n dokumentêre wyse benader het. My medium was voorheen net swart-en-wit-foto's wat dit byna natuurlik as kunsfotografie geklassifiseer het.

"Met dié uitstalling glo ek dat ek kunsfotografie uiteindelik baas geraak het, veral omdat die hele uitstalling uit kleurfoto's bestaan."
Hy het al aan verskeie nasionale groepuitstallings deelgeneem en het solo-uitstallings in Johannesburg, Gqeberha sowel as in Londen, Engeland aangebied.
Hy het verlede jaar sy eerste boek, Before The Veil: A Collection of Portraits by Karl Schoemaker, uitgereik. Dit is 'n versameling van swart-en-wit-portretfoto's wat hy van verskillende mense in 'n oomblik van weerloosheid afgeneem het.
Die uitstalling kan tot 29 Maart by die GFI-kunsgalery in Gqeberha besigtig word.
Bel Karl Schoemaker by 082 827 8321 of stuur 'n e-pos aan Karl@KarlPhoto.co.za vir meer inligting of besoek https://karlschoemakerphotography.com/ om sy werk aanlyn te besigtig.



















