'n Oos-Kaapse kunstenaar gebruik weggooi- en tweedehandse artikels om steampunk-kuns te skep om op dié wyse bewusmaking oor die bewaring van die omgewing en veral die kuslyn te skep.
Christo Hunt (58) se uitstalling Plastic Punk Art is 'n kreatiewe versameling van tien kunswerke met onder meer aardige seediere wat gemaak is van ou plastiek, tweedehandse elektroniese artikels, ou plate en enigiets dergeliks wat tot nadeel van die natuur kan wees.

Hiermee vestig hy ook die aandag op die verbruikerswese, wat soms ondeurdag en dalk onbewustelik kan bydra tot die vernietiging van die omgewing.
"Om materiaal vir my uitstallings bymekaar te maak is natuurlik nie 'n probleem nie," verduidelik Hunt.
"Buiten die afval wat ek self optel, dra my familie en vriende dit ook vir my aan. As ek iets besonders sou kort, besoek ek graag winkels wat tweedehandse produkte verkoop."
Hy skep nie net beeldhoukuns nie, maar ook driedimensionele "skilderye" wat geraam is.
"Ek het nie kuns gestudeer nie, maar het van jongs af 'n goeie oog vir fotografie gehad," sê hy. "My ouma was 'n kleremaakster en het veral trourokke met baie detail gemaak.
"Sy was ook lief daarvoor om blommerangskikkings te doen, terwyl my oupa 'n kabinetmaker was, so dalk het ek my kreatiwiteit by hulle geërf. Kuns gaan immers oor passie en inspirasie."
Hunt is in Oos-Londen gebore, maar het vir 12 jaar in Swede gewoon en onlangs eers na sy geboorteland teruggekeer en hom weer in dié stad gevestig.
"My leuse waarby ek probeer leef is ‘Die omgewing is jou verantwoordelikheid'," sê hy.
Hunt glo dat opvoeding van onskatbare waarde is om 'n effektiewe bydrae tot bewaring te kan bied.
"Daardeur sal die publiek bewus raak van die omgewing waarin hulle woon en die noodsaaklikheid daarvan om dit te bewaar.
"Voorheen het ek vir tien jaar by die Oos-Londen-akwarium as 'n rivierbeheer-beampte en omgewingsopvoeder gewerk.
"Terwyl ek in Swede gewoon het, het ek veral ons kuslyn ongelooflik gemis. In dié tyd het ek 'n boek, Coastlines, met kleurryke foto's van ons Suid-Afrikaanse kuslyn met so bietjie humor en stories van my eie ervarings saamgestel.
"Dit is gepubliseer as 'n opvoedkundige ‘koffietafelboek' wat uit 120 bladsye bestaan."
Hunt het 'n seun, Ryan, wat in Dubai woon en werk.
"My lewensmaat, Heidi, het drie honde en vier katte en as 'n mens my sou bytel, haar eie sirkus!"
Hy sonder nie 'n spesifieke stokperdjie uit nie, maar behalwe om interessante kunswerke te skep, hou hy ook daarvan om vis te vang, foto's te neem, te skryf en ou sowel as nuwe musiek te versamel.
Die uitstalling kan tot 9 September in die Ann Bryant-kunsgalery in Oos-Londen besigtig word, waarna die uitstalling na die Oos-Londen-museum sal verskuif.
Skakel 043 722 4044 vir meer inligting oor die uitstalling.
Bel Christo Hunt by 072 871 3150 of stuur e-pos na christohunt@ymail.com oor meer inligting oor sy werk of om sy boek te bestel.




















