Radio

400 episodes van ‘Nic se goed’ op RSG

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Nic de Jager agter die mikrofoon.  Foto: Ignatius Vlok
Nic de Jager agter die mikrofoon. Foto: Ignatius Vlok

Nadat die 400ste episode van RSG se gewilde musiekprogram Nic se goed Sondag uitgesaai is, weet die aanbieder, Nic de Jager, steeds nie of hy "in die kol" daarmee is nie.

"Ek gaan voort met dit wat vir my mooi is," sê hy oor die program waarin hy uiteenlopende musiek - en dikwels skaars juweeltjies - speel.

"Elke Sondag is dit 'n geval van you're flying blindly."

Maar dit bly gewild; selfs die digter Lina Spies luister daarna.

"Ja, ons praat baie daaroor. Sy is 'n getroue luisteraar. Ek wil eintlik nie weet te veel mense luister daarna nie . . ."

Hy wil uiteraard iets unieks na die luisteraars bring.

"Voor elke program kry jy 'n soort ankerliedjie of -musiekie wat jy wil speel, en dan probeer jy die program rondom daardie ding bou. Hulle het nie aanvanklik vir my gesê ek moenie nie te veel opera gebruik nie, want daar is in elk geval 'n uitstekende operaprogram (Dis opera). Maar nou beperk ek my maar. Ek speel ander musiek ook."

Terrance April van RSG het hom destyds gebel.

Nic de Jager, aanbieder van ‘Nic se goed' op RSG, in die ateljee.
Nic de Jager, aanbieder van ‘Nic se goed' op RSG, in die ateljee.

"Ek probeer die swaarder met ligter goed afwissel. Dis maar wat my gut feel vir my sê. Maar ek neem aan ek is nie onbevooroordeeld nie. Ek het my soprane en sangers wat vir my besonders is. Elke ou het maar sy voorkeure."

De Jager gee toe 'n mens kan nie almal tevrede stel nie.

"Al wat jy kan probeer doen, is dié wat nie regtig in die musiek belangstel nie, geïnteresseerd te kry dat hulle nie 'n onmiddellike blok daarteen het nie. Baie mense het 'n blok teen opera of musiek wat as sogenaamd ernstig beskou word, omdat hulle dit nie regtig verstaan nie. As jy vir hulle 'n storie vertel oor waar 'n stuk musiek vandaan kom, gaan daar soms 'n liggie vir hulle aan."

Hy kry selde negatiewe terugvoering, maar is tog onlangs op die vingers getik. Hy kan wel nie onthou waaroor nie, maar dit was "iets onbenullig".

Die negatiewe terugvoering beslaan 'n "halwe persent", sou hy sê.

Enige vorm van kreatiwiteit sluit 'n groot mate van twyfel en onsekerheid in.

"Mense is maar onderworpe aan wat ek aangenaam vind. Ek speel maar wat by mekaar inpas vir my. Ons is geleer jy moenie twee soprane of twee baritons ná mekaar speel nie. Jy wissel dit af met verskillende orkeste en stemsoorte. Jy bou dit om 'n spesifieke punt. Dit klink nou grênd, maar dis bloedsweet soms."

De Jager, ook 'n akteur, het hom in die 1960's by die SAUK aangesluit.

Die 400 episodes sluit die tydperk wat hy in die hospitaal was, uit. Hy het in November 'n rugoperasie ondergaan.

"Daar was ook 'n tyd wat dit onderbreek is toe twee ander mense die program in die begin aangebied het, maar dit is nie daarby ingesluit nie.

"Dit is natuurlik 'n belangstelling, maar sommige programme gaan maklik terwyl ander soms uitmergelend is. Dis maar the rough with the smooth. Die afgelope tyd voel dit vir my die goed spring half in plek.

"Maar daar is tye wat 'n mens wroeg. Jy begin 07:00 en maak 22:30 klaar en jy twyfel heeltyd. Enige vorm van kreatiwiteit sluit 'n groot mate van twyfel en onsekerheid in."

• Nic se goed word Sondae net ná die nuus om 12:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai.

CTA