Die radio-omroeper en televisieaanbieder Heinrich Marnitz (84) het onlangs die uitsaaiwese gegroet.
"Ek is dankbaar vir die loopbaan wat ek gehad het, want ek het die beste tyd in radio gehad wat enigiemand kon hê," sê hy.
"Ek het nie gholf gespeel nie; my gholf was radio."
Hy beskou radio as die "wêreld-universiteit".
Marnitz, wat saam met Dorianne Berry Suid-Afrikaanse televisie amptelik op 5 Januarie 1976 geopen het, was sedert 2008 'n omroeper by Pretoria FM en het onlangs sy laaste sin oor die radio geuiter.

"Ek het 16 jaar lank hul buitelandse nuus regstreeks gedoen, wat ek ongelooflik stimulerend gevind het."
Hy het verlede jaar 'n platinumprys van die stasie ontvang.
"Ek het in my loopbaan die meeste gedoen wat enigiemand kon doen. Ek en Dorianne het vir lank op Woensdagaande 'n versoekprogram oor die radio aangebied. Ons het ook saam in Springbok Radio-stories gespeel. Ek het twee jaar geskryf vir hulle."
Hy het in verskeie lande sport regstreeks uitgesaai.
"Destyds mag jy nie op Sondae sport uitgesaai het nie, en op Wimbledon op 'n Sondag het ek tyd in die BBC se ateljees gaan deurbring om te kyk hoekom hulle so goed is. Ek het van hul tegnieke na Suid-Afrika teruggebring."
Marnitz was jare lank verbonde aan die Afrikaanse Radiodiens en het in 1997 by die SAUK uitgetree.
Sy radio-loopbaan het in die 1960's egter in Nederland by Radio Nederland Wêreldomroep begin nadat hy 'n oudisie by die SAUK gedruip het.
Met sy eerste uitsending in Nederland was die skrywer Chris Barnard en sy eerste vrou, Annette, in die ateljee.
Toe hulle uit die ateljee stap, het Marnitz gehoor hoe Barnard vir iemand sê Marnitz sal dit nooit maak nie.
"Ons was baie goeie vriende en het nooit weer oor daardie opmerking gepraat nie, maar ek neem hom nie kwalik nie; ek sou dit nie in daardie stadium gemaak het nie."
Marnitz het 'n omroeperstoets aan Radio Nederland Wêreldomroep gestuur.

"Ek het ongelooflik baie geleer daar. Hulle was tegnies baie ver voor ons. Jy het sommer die onderhoude wat jy gevoer het op pad terug in die voertuig geredigeer, en as jy by die ateljee kom, is dit gereed."
Hy stel dit egter duidelik dat 'n mens nooit volleerd is nie.
Voorbereiding is ook 'n ding wat jou vriend moet word as jy uitsaai.
"Moenie vir my sê o, dis 'n lekker dag nie . . . ‘Gaan dit goed met jou? Hoe gaan dit met jou hondjies?' Dis nie uitsaai nie. Uitsaai moet 'n stroom van inligting wees.
"Daar is 'n aanbieder op televisie wat hom daarop roem dat hy nie voorberei vir onderhoude nie. ‘Vertel my 'n bietjie van jou . . .' Dit is nie 'n onderhoud nie."
Marnitz het in Johannesburg grootgeword en was volgens hom die "swakste" hoofseun wat die Hoërskool Linden ooit gehad het.
In sy loopbaan het hy ook regstreeks simfonie-konserte in die Johannesburgse stadsaal uitgesaai. Hy het teenoor onder andere Anna Neethling-Pohl verskyn in die enkeldrama 'n Bruidsbed vir tant Nonnie, wat op Hennie Aucamp se gelyknamige kortverhaal gegrond is.

Marnitz, wat op 21 Augustus 85 word, het onlangs die SAUK besoek. Buite RSG se ateljee is 'n groot bord waarop 'n sin of opmerking geskryf kan word.
"Toe skryf ek: ‘Uitsaai'.
"In hierdie stadium van my lewe kan ek nie net sit en niks doen by die huis nie. My vrou, Isabel, hou my besig, maar radio was my passie."







