Radio

Jacaranda FM stel nuwe middagprogram bekend

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Rob Forbes en Rozanne McKenzie bied die nuwe namiddagprogram op Jacaranda FM aan.  Foto: Facebook
Rob Forbes en Rozanne McKenzie bied die nuwe namiddagprogram op Jacaranda FM aan. Foto: Facebook

Luisteraars van Jacaranda FM kan solank gereed sit vir die nuwe huistoegaantydprogram The Drive with Rob and Roz.

Rozanne McKenzie en Rob Forbes sal vanaf 10 Augustus tussen 16:00 en 19:00 luisteraars huis toe vergesel.

McKenzie en Forbes vervang die program The Scenic Drive wat deur Rian van Heerden aangebied is.

Van Heerden het die radiostasie ná 'n dekade verlaat.

McKenzie en Forbes beloof om 'n dinamiese duo te wees wat met hul ervaring en passie vir radio sal verseker luisteraars kry die nodige hupstoot om hul aand op 'n goeie voet te begin.

McKenzie het haar tien jaar gelede by Jacaranda FM aangesluit en is ook op ander mediaplatforms te sien. Sy het 'n passie vir die Afrikaanse kultuur en wil gemeenskappe saambring.

Rozanne McKenzie en Rob Forbes bied hul nuwe program vanaf 10 Augustus aan.
Rozanne McKenzie en Rob Forbes bied hul nuwe program vanaf 10 Augustus aan.

"Jacaranda FM is 'n familie en ek is dankbaar vir die nuwe geleentheid om meer van myself met luisteraars te deel," sê McKenzie.

Haar kollega op die middagspan, Forbes, spog self al met 15 jaar se ervaring in die radiobedryf.

"Ek sien daarna uit om 'n program aan te bied wat waarde tot die luisteraars se lewe toevoeg. Dit begin als met goeie musiek," sê Forbes.

Hy is passievol daaroor om inligting só aan te bied dat almal by die gesprek betrokke raak.

Hennie Myburgh, programbestuurder van Jacaranda FM, sê hulle sien daarna uit om die groei wat hulle in die Jacaranda FM-gemeenskap ervaar, te benut om luisteraars met nog beter musiek en vermaak te bedien.

Hy meen The Drive with Rob and Roz sal nie net by huidige luisteraars aanklank vind nie, maar sal ook nuwe luisteraars lok.

CTA