Oefen het haar lewe verander en daarom wil Rozanne McKenzie (41) met haar liefde vir oefen ook vir ander die geleentheid gee om aktief te wees.
McKenzie, mede-aanbieder van die spitstydprogram The Drive with Rob & Roz op Jacaranda FM, neem vanjaar vir die tweede keer aan die Auto & General-velddriekampbyeenkoms deel.
Die byeenkoms op 24 Februarie by Steyn City in Midrand bestaan uit swem, bergfietsry en draf. Deelnemers kan kies om die volle 600 m-swem, 30 km-bergfietsry en 7 km-draf af te lê of die helfte van hierdie afstande.

McKenzie het verlede jaar die helfte afgelê, maar gaan vanjaar die volle afstande aanpak. Sy doen dit ook ten bate van Project Run, 'n inisiatief deur die skoen-skoonmaakdiens The Sneaker Shack, om skoene en veral oefenskoene in te samel en te versprei na diegene wat dit die nodigste het.
McKenzie sê sy is opgewonde daaroor om by Project Run betrokke te wees.
"Dit gee my ook ietwat van 'n hupstoot om te dink: Oukei, daardie heuwel is nou moeilik, maar hoe moeilik is jou lewe eintlik?" sê sy.
"Vanjaar is daar 'n bietjie ekstra (betekenis) vir my, want ek doen dit vir iets anders as net myself."
Volgens McKenzie maak elke paar skoene wat geskenk word 'n verskil in die lewe van die mense wat daarby baat. Sy mik in dié stadium om tussen 30 en 40 paar in te samel, maar hoop om met die bydraes van ander haar mikpunt tot 50 paar skoene te kan verhoog.

Saam met haar voorbereiding vir die velddriekampbyeenkoms woon McKenzie ook weekliks CrossFit-klasse by. Sy het haar verlede jaar toegespits op haar voorbereiding vir die velddriekampbyeenkoms, maar het vanjaar besluit om CrossFit, wat sy baie geniet, meer te inkorporeer.
"Ek is nie die beste nie, maar ek geniet die oefening en die gevoel wat dit my gee. Ek is so afhanklik van hierdie endorfiene. Dit help my om ander goed in my lewe beter te balanseer en my stres beter te hanteer. Dis net so goed vir my."
Hoewel sy erken dat sy 'n "bietjie senuweeagtig" is oor die velddriekampbyeenkoms, weet sy dat sy dit kan vermag. "Ek moet net positief bly."
Vir haar is die swem en draf nie soveel van 'n uitdaging nie, maar eerder die bergfietsry in die middel van die twee items. Sy het egter vanjaar reeds meer selfvertroue op die bergfiets as verlede jaar.
Dié ma van twee se grootste doelwit vir die komende byeenkoms is egter om net al die items klaar te maak.
"Of ek nou 06:00 in die oggend begin en eers 18:00 die aand klaarmaak, ek wil net oor daardie eindstreep kom. Dan gaan ek in my hart wen," sê sy.
Al 800 kaartjies vir deelname aan vanjaar se Auto & General-velddriekampbyeenkoms is reeds uitverkoop.









