Die middagvervolgverhaal Sonsak oor Verlatensrus, 'n "moderne Suid-Afrikaanse weergawe van Aspoestertjie", begin Woensdag op RSG.
"Dis 'n vreemde storie," sê Carl Trautman, wat die romantiese held Wessel Vermaak vertolk en die eerste keer in 'n radiovervolgverhaal optree.
"Toe ek die storie begin lees het, het dit voorgekom asof dit net nog 'n romanse is, maar dan kom magiese elemente van 'n feëverhaal in. Daar is dinge wat voorval wanneer my karakter in hierdie klein dorpie aankom."
Sonsak oor Verlatensrus is Albert Short se debuutvervolgverhaal.

Dit speel af op die fiktiewe dorp Verlatensrus wat tot in sy fondamente geskud word en dan uit die puin verrys tot 'n harmoniese gemeenskap, een met "skindertonge, morele pendulums en hartebrekers".
Johny Klein is die spelleier.
"Ons weet self nie hoe dit gaan eindig nie en dit maak dit opwindend," sê Trautman. "Ons kry nie al die tekste op een slag nie."
Buiten 'n radiodrama, Nag van die luiperd, waarin Trautman vantevore opgetree het, is radio 'n nuwe medium vir hom.
"Tot dusver is dit 'n goeie ervaring. 'n Uitdaging is altyd lekker. Dis minder stresvol as wat ek verwag het. Op die eerste dag loop die stresvlakke altyd 'n bietjie hoog, maar verder is dit baie lekker."
Trautman het voorheen 'n oudisie afgelê om op RSG se algemene speellys te wees en dit geslaag.
Hy geniet dit om met sy stem te speel.
"In radio is daar baie meer fokus op hoe jy praat. Met teater (op die verhoog) is die speel groot en op TV moet jy kleiner gaan. Ek het aanvanklik 'n bietjie gesukkel met die stemwerk.
"Daar kan altyd 'n bietjie ekstra werk ingesit word. Voorheen was baie van my stemwerk in Engels en dan spring jy oor na Afrikaans en hoor jy sit die klem op die verkeerde plek.

"Dan gaan werk jy verder daaraan. In radio moet jy kan hoor wat gebeur. Jy maak jou eie byklanke.
"Om te fokus op jou stemwerk terwyl jy fokus om nie die bladsye se werk van mekaar te skei nie en dan nog die byklanke te doen, is vir my 'n uitdaging en 'n half."
Trautman sê in Sonsak oor Verlatensrus herken hy karakters wat 'n mens op klein dorpies teëkom.
Hy het grootgeword in die Gautengse dorp Rayton, oos van Pretoria, en in 2013 aan die Hoërskool Randburg in Johannesburg gematrikuleer.
Trautman het in die musiekspele Die Gelofte en Die Kaplyn opgetree en verskyn tans in die komediereeks Die Fakulteit op e.tv.
Omdat sy karakter in Sonsak oor Verlatensrus 'n akteur en skrywer uit Gauteng is, vereenselwig Trautman hom in 'n groot mate met Wessel Vermaak.
"Ek is wel nie 'n skrywer nie. Wessel het al probeer om 'n klomp produksies aanmekaar te sit, maar elke keer gebeur iets. Sy doel om Verlatensrus toe gaan is om hierdie ongelooflike toneelstuk te skep dat hy kan terugkom waar hy was. Hy gaan Verlatensrus toe om sy reputasie weer te kry waar dit was en dan gebeur al hierdie onverwagte dinge.
"Hy ontmoet die boekwinkelmense, die bloemiste, hy maak vriende met die eienaar van die restaurant, wat ook die eienaar van die bed and breakfast is.
"Ek dink Wessel het verwag hy gaan net daar aankom en 'n storie skep om sy reputasie te herstel en dan terugkeer Gauteng toe.
"Ek dink hy betree 'n wêreld waarna hy altyd verlang het. Hy gaan soontoe om sy kop skoon te kry en dan gebeur allerhande dinge om sy storie werklik besonders te maak sonder dat hy dit verwag het."
• Sonsak oor Verlatensrus is weekmiddae om 14:45 tot 15:00 te hoor en die reeks bestaan uit 60 episodes.
RSG se middagvervolgverhale is ook as podsendings beskikbaar by www.rsg.co.za.




















