TV

BritBox maak sy deure toe in SA

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Suid-Afrikaners sal nou elders na reekse soos ‘The Office’ moet gaan soek omdat BritBox sy stromingsdiens hier gaan staak.  Foto: britbox.com
Suid-Afrikaners sal nou elders na reekse soos ‘The Office’ moet gaan soek omdat BritBox sy stromingsdiens hier gaan staak. Foto: britbox.com

Aanhangers van gewilde Britse TV-reekse soos The Office, Sanditon, The Midwife, Blackadder, Fawlty Towers, Inspector Morse en Mr Bean sal nou elders na hierdie programme moet gaan soek nadat die stromingsdiens BritBox aangekondig het dat hy hom uit Suid-Afrika onttrek.

News24 het Maandag berig BritBox gaan sy dienste op 30 Augustus hier opskort. Die diens is op 6 Augustus 2021 in Suid-Afrika bekend gestel.

Volgens BritBox wil hy nou eerder fokus "op ons meer gevestigde markte en gebiede met beter groeigeleenthede".

BritBox bied aan intekenare toegang tot 'n verskeidenheid Britse reekse en flieks. Dit sluit inhoud in van die Verenigde Koninkryk se vier vernaamste staatsuitsaaiers, naamlik die BBC, iTV, Channel 4 en Channel 5.

MultiChoice het in Junie verlede jaar BritBox by die inhoud-aanbieding op sy DStv Explora Ultra- en DStv Streama-dekodeerder gevoeg.

Dat BritBox sy dienste in Suid-Afrika opskort, is skokkend, want TechCentral berig die stromingsdiens se uitvoerende bestuurder, Reemah Sakaan, het in September 2022 nog gesê Suid-Afrikaners is gek oor hul inhoud.

"Suid-Afrikaners is van ons grootste kliënte wat betref algehele volume, ure en minute (gestroom) van enige mark in die wêreld," het Sakaan toe gesê. "Elke keer as ons een van ons BritBox Originals hier bekendstel, skiet dit na bo."

Dit moet ook in gedagte gehou word dat Suid-Afrika se stromingsmark taamlik mededingend is, met ander reuse soos Netflix, Showmax, DStv Stream, Amazon Prime Video, Apple TV en Disney+ wat reeds hier sake doen.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM