'Die Groot Ontbyt’ vier groot verjaardag

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Su-An Müller-Marais, Pierre Breytenbach en Jennifer Myburgh van ‘Die Groot Ontbyt’.  Foto: Verskaf
Su-An Müller-Marais, Pierre Breytenbach en Jennifer Myburgh van ‘Die Groot Ontbyt’. Foto: Verskaf

Die Groot Ontbyt gaan sommer al van Februarie af "groot" gaan om hul groot verjaardag te vier.

Hoewel dié program, met reeds byna 3 000 episodes op die kerfstok, eers op 10 Augustus 2025 amptelik sy 10de bestaansjaar vier, begin die span nou al partytjie hou, lui 'n verklaring.

Op 10 Augustus 2015, "vir die eerste keer in die geskiedenis", is twee van die grootste mediums van media en kommunikasie op een platform, in een ateljee, met 'n gelyktydige uitsending saamgevoeg - 'n ontbytprogram op televisie én 'n ontbytprogram op radio, GROOTfm 90.5.

Hardus Zevenster, die uitvoerende hoofbeampte van die Bloudruk-groep, het aan dié idee gedink toe hy destyds in Amerika was en gesien het hoe die bekende omroeper Ryan Seacrest ook as 'n televisie-aanbieder optree.

Zevenster het met Karen Meiring, voormalige kanaalhoof van kykNET, oor die idee gesels.

Meiring was vir die plan te vinde, maar daar was ook doemprofete wat die idee van 'n "hibriede" konsep net 'n skamele driemaande-raklewe gegun het.

Nou is dit die program met die langste tydgleuf per dag, boonop regstreeks, op die kykNET.

Die destydse aanbieders onthou nog hoe hulle spreekwoordelik naels gekou het daardie vroegoggend 'n dekade gelede.

‘Die Groot Ontbyt'-ateljee, waar vele bekendes al op die geel bank gesels het. Foto: Verskaf
‘Die Groot Ontbyt'-ateljee, waar vele bekendes al op die geel bank gesels het. Foto: Verskaf

Johrné van Huyssteen sê hy was nog nooit so gespanne nie, veral omdat hulle nie vooraf kon oefen vir die regstreekse radioprogram nie.

Elsa Esterhuizen onthou ook daardie eerste oggend as "senutergend en die adrenalien onbeskryflik".

Steeds besig om die destydse doemprofete verkeerd te bewys, is Die Groot Ontbyt in 2020 as 'n volwaardige televisieprogram bekendgestel. Met 'n groeiende kykertal is toe ook besluit om Die Groot Ontbyt, wat 'n geselsprogram propvol aktuele gesprekspunte en vermaak is, 'n eie ateljee, tydgleuf en produksiespan te gee.

Dié gewilde oggendprogram spog nou met kykers tot in Namibië, verskeie nominasies en toekennings, en gaste soos Kurt Darren, Elon Musk se ma, Maye Musk, Arnold Vosloo en Helmut Lotti.

Die span bestaan nou uit drie aanbieders, 'n aflos-aanbieder, en 17 ander wat sorg dat alles van teksversorging, klankmeng, kamera-operateurs, en grimering, seepglad verloop.

Die inhoudsvervaardiger, Izaan Steenkamp, sê die span en produksie se sukses word toegeskryf aan mense wie se eenheid, sinergie en dinamika onvergelykbaar is.

"Hul liefde en passie vir die program is duidelik sigbaar, nie net tydens die beplanning van die volgende episode nie, maar tydens elke regstreekse uitsending, wat om 06:00 elke oggend in talle televisie-, sit- en slaapkamers verskyn."

Vir die volgende maande, tot en met die groot verjaardag, gaan kykers kort-kort verras word met onder meer liefdadigheid-aksies en kompetisies.

Die Groot Ontbyt is weeksdae tussen 06:00 en 08:00 regstreeks op kykNET (DStv-kanaal 144), met 'n herhaling op kykNET & Kie (kanaal 145) vanaf 08:30. Kyk ook weer na hoogtepunt-onderhoude op Ontbyt Grotes, hul YouTube-kanaal, asook agter-die-skerms-grepe op Facebook, Instagram en TikTok.

SPELETJIES VANDAG

CTA