Die gloeilamp het, sonder dat 'n mens dit regtig besef, uit ons alledaagse lewe verdwyn. Nuwe wetgewing wat die verkoop daarvan vir "algemene gebruik" verbied, was die finale doodskoot. Nou is daar verpligte spesifikasies rakende doeltreffende energieverbruik en funksionele prestasie.
Natuurlik is daar 'n paar uitsonderings, en volgens die regulasies wat op 24 Mei 2023* in die Staatskoerant gepubliseer is (kennisgewing 1825 van 2023), is kampligte een van hulle.

Bron: huepress.vn/en
Vóór jy die ligte afskakel
Wat met die gloeilamp gebeur, is doodeenvoudig die gevolg van vooruitgang. Vandag se kinders weet nie eens wat dit presies is nie, behalwe waar Thomas Edison se naam in die wetenskapklas opduik. Vir 'n lig wat minder as 5% van die krag wat dit verbruik in sigbare lig omskakel - ander bronne is meer genadig en sê dis nader aan 10% - was die skrif aan die muur.

Maar wat presies is 'n gloeilamp? Dit is 'n elektriese lig met 'n filament in 'n geslote glas met 'n vakuum óf 'n gas wat die filament beskerm. Soos die krag deur die filament vloei, word dit tot so 'n mate verhit dat dit gloei - dit is waarom jy nie aan 'n gloeilamp kan raak as dit aangeskakel is nie.
Die filament van 'n 100W-lamp, gloei byvoorbeeld teen 2 500ºC, en die oppervlak van die gloeilamp kan 'n temperatuur van 65ºC tot selfs 121ºC bereik.'n Tipiese 100W-gloeilamp behoort vir tot 1000 uur te hou - dit is byna 'n jaar as jy dit drie uur per dag gebruik.
Daarteenoor kan LED-ligte tot 50000 uur haal (van die bronne sê 25000 uur), wat beteken teen dieselfde aantal uur per dag sal so 'n lig vir 65 jaar hou! As jy 'n 1000-uur-gloeilamp en 25000-uur-LED-lig aaneen laat brand, hou die gloeilamp vir 42 dae en die LED amper 3 jaar.
Vergeleke met die gloeilamp (ook halogeenligte) gebruik 'n LED-lig 90% minder energie en 60% minder krag as fluoorligte.
Net op grond hiervan is 'n gloeilamp en 'n LED-lig so goed soos 'n ossewa wat jy met 'n moderne hibriede voertuig vergelyk.

Volgens die Rapid Transition Alliance, 'n groepering van verskeie internasionale organisasies wat saam die klimaatkrisis takel, het die beskikbaarheid van olie die doppie van die gloeilamp geklink.
Ná die oliekrisis van die jare sewentig is die doeltreffendheid van die gloeilamp al glo bevraagteken. (Die oliekrisis was die gevolg van erge konflik in die Midde-Ooste wat olie-uitvoer van daar af ontwrig het. - Red.)
Een uitvloeisel was die fluoorlig, wat darem vyf keer meer energiedoeltreffend was. Maar die helderblou ligskynsel van dié lig was glo ongewild onder verbruikers, waarna halogeenlig met 'n effens beter energievertoning 'n kortstondige verskyning gemaak het.
Die uitfasering van gloeilampe het wêreldwyd in 2005 begin met Suid-Amerikaanse lande wat dit begin verbied het. Die Europese Unie, Switserland en Australië het in 2009 gevolg, met lande soos Rusland en Maleisië in 2012.
Die meeste gloeilampgebaseerde produkte is verlede jaar in Amerika verbied - 'n proses wat in 2007 begin is. Teen 2019 was bykans die helfte van ligverkope wêreldwyd LED. Daar word verwag dat 87% van alle ligbronne teen 2030 LED sal wees.

LED is al heelwat langer met ons as wat 'n mens besef - dit was nie bloot die ontdekking van 'n LED-lig soos ons dit vandag ken nie. Die uitvindsel was die gevolg van jare se harde werk deur verskeie wetenskaplikes wat terugdateer tot 1907 toe ene H.J. Round elektroluminessensie ontdek het.
Dit is 'n optiese en elektriese verskynsel wanneer 'n materiaal lig uitstraal sodra elektrisiteit daardeur vloei (of as dit blootgestel word aan 'n sterk magnetiese veld). Hierna was verskeie wetenskaplikes betrokke, wat stuk-stuk die weg gebaan het vir wat ons vandag as LED ken.
Dit was ene Nick Holonyak wat in 1962 uiteindelik 'n LED-lig uitgevind het. Dit het rooi sigbare lig uitgestraal, wat ook tot die eerste kommersiële gebruik daarvan gelei het.
As 'n mens enige elektriese toestel oopmaak, sien jy 'n hele paar komponente wat met 'n stroombaan verbind word. Dit sluit in weerstande, kondensators, transistors, smeltdrade, transformators en diodes. 'n LED is 'n soort diode en die letters staan vir "light emitting diode", maar die eintlike doel van 'n diode in 'n stroombaan is om elektrisiteit net in een rigting te laat vloei.
'n Diode móét bestaan uit 'n materiaal wat 'n halfgeleier genoem word. Hoe halfgeleiers werk, is 'n onderwerp wat universiteitstudente besig hou, maar eenvoudig gestel bestaan 'n halfgeleier uit 'n geleier (soos metaal) en 'n nie-geleier (soos keramiek), wat beteken dit laat net 'n gedeeltelike vloei van elektrisiteit toe.
In die geval van 'n LED bestaan die halfgeleier uit 'n spesiale samestelling wat lig uitstraal wanneer elektrone daardeur vloei.Soos ons reeds genoem het, was die eerste LED-ligte geensins die ordentlike wit lig wat ons vandag ken nie, maar eerder rooi en groen liggies wat in elektroniese toestelle gebruik is om te wys of dit aan- of afgeskakel is.
In 1993 het drie Japannese wetenskaplikes, Isamu Akasaki, Hiroshi Amano en Shuji Nakamura, omtrent die wêreld op sy kop gekeer met die uitvindsel van 'n bloulig-LED.
Wit lig is 'n kombinasie van die primêre kleure groen, rooi en blou, en skielik was 'n wit LED-lig in die vooruitsig. Die uitvindsel was uiteraard revolusionêr, en teen 2010 was die tegnologie in plek om LED kommersieel lewensvatbaar te maak.
Die uitvindsel het ook 'n welkome nadraai vir die drie akademici gehad, want in 2014 wen hulle die Nobelprys vir fisika daarvoor.
Selfs Albert Einstein, ook 'n Nobelpryswenner, was op 'n manier betrokke. Die Russiese radionavorser Oleg Vladimirovich Losev het in die jare twintig opgelet dat silikonkarbiedpunte in 'n radio-ontvanger skyn wanneer 'n stroom daardeur vloei.
Hy het sy bevindinge in verskeie joernale gepubliseer en aan die hand van Einstein se kwantumteorie verduidelik hoe elektrone lig kan produseer sonder om hitte af te gee.
Hy het glo 'n brief aan Einstein geskryf om te help met die teorie agter die verskynsel, maar het nooit van hom gehoor nie.Met die toekenning van die drie Japannese se Nobelprys is gesê die gloeilamp het die 20ste eeu verlig, maar die 21ste eeu sal verlig word deur LED-ligte. Vandag weet ons dit was profetiese woorde.
Hoe vaar elke ligbron?




Bron: viribright.com

Nie alle ligte is volgens die nuwe wetgewing sondaars nie. Buiten kampligte wat by name kwytgeskeld word, is daar 'n ellelange lys, waaronder die lig in fotostaatmasjiene, teaterligte en selfs vistenkligte.

Waar die kampbedryf meer direk geraak word, is byvoorbeeld met ligte wat gebruik word om insekte te verjaag - en meer spesifiek ligte wat met batterye werk. Dis soos die lig van jou selfoon, jou flitslig, fietsligte en natuurlik kampligte.
Die ironie is dat kwytskelding in die wet vir ons in die kampplek nie regtig van belang is nie, want die kampbedryf het lankal na LED-ligte oorbeweeg. Waar sien jy vandag iemand wat 'n koord aanlê na sy braai toe sodat hy onder 'n gloeilamp kan staan en braai?
Miskien is daar nog 'n gloeilamp in die kampplek se lig bo jou braaiplek, maar jy gaan tien teen een met jou LED-koplig staan en braai as dit nie naby die LED-ligte van jou woonwa is nie.

LED-ligte is dus reeds goed ingeburger in die kampplek, en 'n mens kan dink dat batterye dieselfde pad gaan loop. Dink maar weer aan jou selfoon, koplamp, flits of fietslig: Elkeen van hulle het vandag herlaaibare batterye wat permanent deel is van die eenheid.
Daardie los droëselbatterye wat jy by die hoekkafee koop vir jou draagbare kamplantern of ou draadloos staan einde se kant toe, maar dis 'n gesprek vir 'n ander keer.
* Die wetgewing het op 25 Mei 2024, 'n jaar ná die aankondiging, van krag geword.
Bronne https://techcentral.co.za/techcentral.co.za; https://businesstech.co.za/news/businesstech.co.za; http://gov.za/gov.za; https://www.eskom.co.za/eskom.co.za;https://www.wikipedia.org/wikipedia.org; https://pacificlamp.com/pacificlamp.com; https://blancocountynightsky.org/blancocountynightsky.org;https://www.thelightbulb.co.uk/thelightbulb.co.uk; https://rapidtransition.org/rapidtransition.org; https://www.dummies.com/dummies.com; https://www.vox.com/vox.com; https://blog.lightbulbs-direct.com/blog.lightbulbs-direct.com;https://www.thegrocer.co.uk/thegrocer.co.uk; https://vocal.media/vocal.media; https://www.ledlightingsupply.com/ledlightingsupply.com;https://spectrum.ieee.org/spectrum.ieee.org; https://www.nobelprize.org/nobelprize.org














