Die blomme kom, ja – maar wanneer?

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Pieter Swart het dié besonderse foto in die Weskus Nasionale Park geneem. Dit was ook een van ons top-14-finaliste.
Pieter Swart het dié besonderse foto in die Weskus Nasionale Park geneem. Dit was ook een van ons top-14-finaliste.

Die reën was later as verlede jaar, maar meer as voldoende vir 'n uitstekende blomjaar, meen kenners uit al vyf blomstreke. Warm, droë somers en goeie winterreën is die wenresep vir veldblomme, meen Christel Marais van Swartland Toerisme.

"En dit het ons beslis gehad! Ek voorspel dus 'n baie goeie veldblommeseisoen."

Dit is die boodskap uit die ander blomstreke ook.

Namaqua Weskus

Mike Spies van Namakwa Toere laat weet uit die mees noordelike blomstreek, Namaqua-Weskus, hoewel die reën later as in 2023 was en hulle toe byna 'n maand vir opvolgreën moes wag, het die laaste drie of vier kouefronte goeie reën gebring.

"In 2023 was sekere laagliggende dele soos Vanrhynsdorp, Vredendal, Klawer en die Knersvlakte se blomme verskriklik vroeg gewees. Dit het in Julie al 'n hoogtepunte bereik en dus het diegene wat in Augustus blomme kom kyk, dit misgeloop."

Hierdie blomkykers kan egter gerus wees dat dit nie vanjaar weer sal gebeur nie.

"Die blomme gaan op hul mooiste wees in die Vanrhynsdorp-omgewing van vroeg tot middel Augustus. Nieuwoudtville se blomme kan egter heelwat later eers blom, al is dit maar 50 km verder. Soos die kraai vlieg, is daar blomme wat 30 km verder is wat dalk eers 'n maand later op hul beste gaan wees."

Hierdie foto was ook een van die inskrywings vir Die Burger se blomfotokompetisie en is gekies as een van die 14 finaliste. Hester Havenga het dit geneem in die Tankwa-Karoo, naby die Tankwa Nasionale Park.
Hierdie foto was ook een van die inskrywings vir Die Burger se blomfotokompetisie en is gekies as een van die 14 finaliste. Hester Havenga het dit geneem in die Tankwa-Karoo, naby die Tankwa Nasionale Park.

Omdat meer as 3 500 verskillende spesies blomme in hierdie streek voorkom, is dit egter moeilik om te sê spesifiek watter blomme jy te sien sal kry. "In 2023 was daar byvoorbeeld baie beatle daisies en jakkalsblomme in die Vanrhynsdorp-omgewing. Dié jaar is daar reeds jakkalsblomme naby Vredendal te sien en glasoogmagrietjies teen die voet van die Gifberg by Maskam Guest Farm. Die Namakwalandse daisies, skaapbosse, perdebosse en dies meer kan jy ook verwag om oor 'n paar weke in plate te sien."

Mike sê jy gaan ook nie ver hoef te soek om blomme te sien te kry nie. "Die beste blomme sal te sien wees by Vanrhynsdorp, op die Knersvlakte op pad na Nieuwoudtville, net voor Vanrhynspas en by Bagdad Café op die R27, in Nieuwoudtville self, Vredendal en Klawer."

Cederberge

Uit die Cederberg-streek klink die nuus min of meer dieselfde. "Hoewel die eerste reënblomme reeds hul koppe begin uitsteek op leë erwe in Clanwilliam, het die reën later geval as verlede jaar en dit sal beteken dat blomtyd waarskynlik ook 'n bietjie later sal aanbreek," sê Alicia Erasmus van Clanwilliam Toerisme.

"In Clanwilliam self het dit gedurende Julie sowat 90 mm gereën, maar plek-plek in die Cederberge, bekend vir sy pragtige fynbos, het daar tot 500 mm uitgesak. In die Biedouwvallei, bekend vir sy plate oranje en geel blomme en tientalle spesies fyn blommetjies, het daar gedurende Julie meer as 200 mm reën geval en die klein plantjies staan tans soos hare op 'n hond se rug in dié blomvallei!"

Nicky Myburgh se foto van die Hesperantha cucullata (Bokkeveld-aandlelie) was een van die 14 finaliste in Die Burger se blomfotokompetisie.
Nicky Myburgh se foto van die Hesperantha cucullata (Bokkeveld-aandlelie) was een van die 14 finaliste in Die Burger se blomfotokompetisie.

Sy meen die kanse op 'n goeie blomjaar in hierdie streek hang nou af van hoeveel sonskyndae die reëndae opvolg. "Die ander vabond wat die blomme gou-gou laat verwelk, is die oostewind. As hy wegbly, kan blomkykers maar kom."

Sy beveel aan dat jy jou blomtoer in hierdie gebied ook vir later as verlede jaar beplan.

"Na raming behoort later in Augustus tot September 'n goeie tyd te wees om vanjaar by ons te kom blomme kyk."

Weskus-skiereiland

Vernorene Maarman meen in die Weskus-skiereiland gaan die blomme ook 'n bietjie kamerasku wees tot later.

"Vir die afgelope drie weke het ons baie reën gehad, wat goed is vir die blomme, maar as ons na die weervoorspelling kyk, gaan ons nog reën kry."

Hier, meen sy, gaan die blomme ook eers van middel tot einde Augustus begin bot.

"Dan verander die songebakte vlakte en die berge van die Weskus in 'n kaleidoskoop van briljante kleure. Die paaie en vleilande word gevul met die aronskelke en wit reënmadeliefies, die blou wildevlasblom en die pienk moederskoentjie.

"Wees ook op die uitkyk vir die fyner, soms weggesteekte wynkelkies, spogjuweeltjies, viooltjies en bobbejaantjies."

Later sal die veelkleurige vygies, waspypies, en velde vol oranje stinkkruid jou ook in dié streek inwag, sê Vernorene.

Bergrivier-streek

In die Bergrivier-streek gaan die blomme ook 'n bietjie later wees as verlede jaar, laat weet Chevon Ellis van Bergrivier Toerisme.

"Die blomme het reeds begin bot, maar is drie weke later as gewoonlik in Velddrif. Wit madeliefies, geel suring, wilde kamille, geel kruipvygies en gans-ogies is reeds te sien op sypaadjies, ingange van dorpe, leë erwe, die gholfbaan, langs die Dwarskersbospad en die R339 op pad na Piketberg vanaf Velddrif en Aurora."

Maar die eenjarige wit reënblommetjies, geel hongerblom, geel en oranje gousblomme en botterblomme moet nog bot. So ook die bolplante viooltjies, kandelare, hanekam en bobbejaantjies en die struike bietou, slaaibos, strandsalie en duinebessies.

Nog 'n top-14-finalis. Hierdie foto van Derek Odendaal van 'n Erica maximiliani (rots-erica) is geneem teen die hange van Elandsberg, buite Ladismith in die Klein-Karoo.
Nog 'n top-14-finalis. Hierdie foto van Derek Odendaal van 'n Erica maximiliani (rots-erica) is geneem teen die hange van Elandsberg, buite Ladismith in die Klein-Karoo.

Swartland

Nader aan die Kaap sê Christel uit die Swartland-streek die veldblomme sal uitkom so gou as wat dit warm begin word.

"As die weer saamspeel, hoort ons blommeseisoen min of meer vanaf die derde week in Augustus in volle gang te wees, maar die varkblomme het reeds begin blom."

Omdat dit so lekker naby is, kan Kapenaars vinnig wegbreek na dié streek en een van sy ses veldblomreservate (drie privaat en drie oop aan die publiek) in die Darling-omgewing gaan besoek. "Die Conterberg- en Waylands-reservate word voluit op geboer en word dus net oopgemaak vir die publiek wanneer die eienaars sien daar is genoeg blomme. Die Oudepost-reservaat grens aan die orgideëkwekery en is bedags oop, maar sluit ook hul hekke laatmiddag.

"Groenekloof- en Renosterveld-reservaat is net buite Darling. Omdat die Renosterveld-reservaat vroeër vanjaar gebrand het, behoort dit vanjaar iets besonders te wees om te sien. Die Tienie Versfeld-reservaat is op die pad tussen Darling en Yzerfontein en is ook altyd mooi."

Soos sy sê, was daar nog nooit 'n jaar wat daar nie veldblomme te sien was nie. Droogtes en reën beïnvloed wel die veld, maar dit sal altyd hierdie tyd van die jaar meer kleurryk wees in Suid-Afrika se vyf blomstreke.

"Namakwaland het net 'n baie kort toerismeseisoen en ons waardeer elke liewe besoeker," sê Mike. "Ons is 'n vriendelike streek en ek voel sterk dat elke Suid-Afrikaner ten minste een keer in hul lewe dit moet besoek."

Nou toe, waarop wag jy?

SPELETJIES VANDAG

CTA