Die GT Camper Exclusive het iets van elk van die twee hoofstroomboswaens. Waar jy binne-in 'n boswoonwa klim na jou slaapplek toe of bo-op in 'n boswa, klim jy ook binne-in die Exclusive.
Maar waar die boswoonwa se "slaapkamer" grootliks soliede panele rondom het, het die Exclusive 'n tentseil rondom wanneer dit opgeslaan is. Die twee ooglopende voordele is dat die Exclusive heelwat kompakter is as 'n boswoonwa en die bed meer toeganklik as dié van wat jy op boswaens sien.
Uniek aan hierdie soort wa is die soliede vloer in die vertrek langs die bed. Dis nie iets wat jy op enige wa sien nie, maar dit maak 'n groot verskil. Waar boswaens se sytent gewoonlik 'n PVC-vloer het, swaai die GT se deksel oop en oor die romp om 'n soliede vloer te vorm.
Ons het die Exclusive in Pretoria gehaak en 1 200 km gery tot so ver as Hoedspruit. Ons was by 'n paar kampplekke tot diep in die bos én moes ook die reënbuie trotseer. Dit is beslis 'n wa om te oorweeg.

Oop met die oester
Wanneer jy jou staan kry en die remme is opgetrek, is jy gereed vir opslaan. Die Exclusive het nie hoekstutte nie, want deel van die las rus op die vloer wanneer dit oopgeslaan is. Die hele deksel van die Exclusive swaai 180º oop soos 'n oesterdop totdat dit weer parallel met die grond staan. Voor jy die deksel oopslaan, moet jy net eers skiet gee met die katrol wat by die koppelstuk staan.
Die opgerolde band van die katrol is met 'n haak vas aan die vloer. Terloops, die katrol is van die soort wat 'n mens ook op sommige bootsleepwaens sien.
Die eintlike gebruik van die katrol is om die vloer weer te lig wanneer jy klaar gekamp het. Met die dekselknippe los is jy gereed om dit te lig, maar swaai eers die noodwiel aan die agterkant weg. Dit swaai tot haaks met die wa langs die romp (foto bo).
'n Skarnier wat soos 'n elmboog buig, help dat die noodwielrak uit die pad kom en een klein knip sluit dit so in plek. Die deksel lig maklik en is geen moeite vir een mens nie - dit is danksy twee fris gasstutte. Maak net seker daar is genoeg skiet op die katrolband sodat die vloer 180° kan oopmaak.

Vier verstelbare pootjies stut die vloer op die hoeke. Soos wat die vloer oorslaan, vou die tent ook uit. Drie verstelbare U-rame aan die binnekant verleng sodat die tent span, en die stoepdak langsaan kry sy staan met verstelbare pale.

Die pale is los, pas dwars en regop in en kom vas met ankertoue. 'n Mens sou dink van die vuiligheid op die vloer val op jou slaapplek soos dit oor die bed toeslaan, maar dit is nie die geval nie, want as daar nog iets op die vloer lê, val dit bloot na die onderkant van die deksel voor dit toemaak op jou bed.
Uiteraard is dit beter om eers die vloer af te vee voor jy toemaak.

Al die kaste
Die kragprop vir die verlengkoord is regs agter by die hoek waar die noodwielrak vaskom, en die prop vir die 100 l-watertenk en watervlakmeter is langsaan. Ook diékant en bo die wiel is 'n smal rak waar jy iets soos die slinger van die katrol en jou verlengkoord kan bêre.

Die deurtjie hiervan slaan plat en die naam "GT Camper" is netjies geborduur op albei stroppe wat dit oophou. Regs hiervan is 'n groter kas met genoeg oop ruimte vir onder meer los kombuisgoed.

Die ys-vrieskas pas in die neuskas, wat ook aan diékant uittrek. Op die ander punt van die kas is 'n stel laaie met al die eetgerei. (As jy dit verkies, kan jy die twee kante omruil.) Bo-op die neuskas is 'n plat kas die hele breedte daarvan vir bykomende pakplek.

Die twee 5 kg-gassilinders staan op die disselboom weerskante van die katrol, met plek vir 'n jerrykan aan elke kant. 'n Gaasraamwerk is dwars voor die A-raam om die silinders en jerrykanne teen opskietklippies of modder te te beskerm.

Die koppelstuk is van gietyster en die neuswiel pas hierdeur. Dit beteken die neuswiel is tussen die twee arms van die A-raam. Dis veel beter as 'n neuswiel wat aan die buitekant sit.

Die vier laaie met eetgerei is seker een van die volledigstes wat 'n mens kry. Boonop pas alles in sponsvorms, wat beteken dit gaan die slegste padtoestande oorleef. Dit sluit in van die glase en eetgerei in die boonste laai regdeur tot die ses wynglase, opskeplepels en braaitang in die volgende laaie tot die poedingbakkies, borde, kombuisskêr, eierspaan en kurktrekker.
Die tweeplaatgasstoof trek uit die volgende kas en is deel van nog 'n laai met slimmighede. Aanvanklik lyk dit soos 'n toe boks wat uit die romp trek, maar die onderste deel is die laai waaruit die gasstoof verder verleng.

Die los plastiekskottel wat platslaan, pas ook in die raam langs die stoof met 'n waterpyp (koue en warm water as jy 'n geiser by jou koop insluit) wat hier bykom. Die boonste deel van die boks is 'n deksel en lig parallel en na die kant toe.
Nou het jy toegang tot nog 'n rak met onder meer plek vir jou potte en panne - ook hier is sponsvorms. Die deksel is 95 x 45 cm groot en welkome neersitplek in die kombuis. Dis wel effens hoog as werkblad wat uitgeslaan 1,2 m bo die grond staan (platgeslaan 1,07 m).
Op dieselfde rak, maar teen die romp is 'n weggesteekte rakkie. Dit trek neus se kant toe oop en is net die plek vir speseryhouers. Die kas hiernaas is bo die wiel en soortgelyk as die een aan die ander kant, maar dié een het ook 'n sponsvorm binne vir jou bekers en koffieperkoleerder. Die kragboks is in die kassie heel regs.
Hier het jy toegang tot al die skakelaars, smeltdrade en stroombrekers. Dit beheer toerusting soos die ys-vrieskas, waterpomp, ligte en die 12 V- en 220 V-stelsel. Hier is ook Hellasokke, twee USB-punte en 'n sok vir 'n sigaretaanstekerprop.

En die hoofslaapkamer
Van buite af het jy toegang deur al drie kante van die tent voor die bed. Die vloer is 2,14 x 1,73 m, wat beteken hier is meer as genoeg oop ruimte langs die bed vir twee mense om nie in mekaar se pad te wees nie.
Voor die bed is 'n kas die hele breedte van die bed wat ook as 'n trappie dien. Dit het 'n deksel, en dis waar al die tentpale inpas. Onder hierdie trap slaan nog een trappie plat om nóg makliker op die bed te klim. Iets wat in elke oopslaantent soos dié hoort, is 'n ingeboude lig by die nok wat as hooflig in die vertrek dien.

Die ligskakelaar sit regs van die bed en jy kan dit bykom as jy voor die bed staan. Die bed is 203 x 1 60 cm - dus mooi tussen 'n verlengde koningin- en koningsgrootte bed.
By die koppenent is twee verstelbare bedliggies. Buiten die drie vensters om die bed is daar nog een.

Die seil bo jou teen die dak rits weg vir bykomende ventilasie en is net so 'n slim plan. Die volgende wonder is alles mooi buite sig onder die bed.

Heel links, net bo die trappie, is die kragpunt met plek vir die twee- en driepunt-220 V-prop plus twee USB-sokke.

Regs hiervan trek twee plat laaie uit na jou toe. Die binnekante is 48 cm breed en 1 16 cm lank met 'n afskorting elk in die middel. Dis tipies plek vir klere of selfs beddegoed. As jy eerder direkte toegang hiertoe wil verkry, lig jy eenvoudig die bed. Hier is ook nog 'n laaste wegsteekplek: Onder die laaie is 'n oop ruimte waarin selfs bonkige kampstoele kan pas - iets wat jy nie op dié grootte wa verwag nie.
Dis 29 cm diep onder die laaie en die lengte en breedte is 1 14 cm. Om dit by te kom moet jy wel een van die laaie toestoot. Dis ook waar die twee batterye (105 Ah) staan.

In en uit
Die basiese Exclusive sluit in die romp en onderstel; hooftent; bed; twee gassilinders; die neuskas plus die plat kas bo dit; die laaie onder die bed; en die wiele, noodwiel ingesluit.
Daar is meer as 30 ekstras - dinge soos die kragstelsel; watertenk; kombuiseenheid; die laaie in die kombuis; die geiser; klerelaai; sonpaneel (150 W); skuiwers; 'n fietsrak; ys-vrieskas; gasstoof plus die buiteligte.
Ry & Sleep sê Die Exclusive is modulêr en jy kan stuk-stuk bylas soos dit jou sak pas.
Spesifikasies
Vervaardiger Great Track Adventure Campers
Model GT Camper Exclusive
Slaapplek 2
Grootte 4,383 x 1,83 x 1,46 m
Wiele 17" As 2,5 t-rubberas
Tarragewig 1 020 kg
Dravermoë 480 kg BVM 1 500 kg
Onderstel Gegalvaniseer
Romp Gegalvaniseer met poeierverf
Prys R274 069
Handelaarsnetwerk Verkope uit fabriek in Pretoria
Kontak 012 770 3633; sales@gtoffroadtrailers.co.za; gtoffroadtrailers.co.za

GT Camper Exclusive R274 069, BVM 1 500 kg
Van die mededingers
Unieke boswaens

Summit Everest R242 000, BVM 1 800 kg
Het 15"-wiele, 'n dravermoë van 740 kg en 'n vlekvryestaalonderstel.

BunduTrail R248 500, BVM 1 100 kg
Het 16"-wiele, dravermoë van 300 kg en vlekvryestaalonderstel met poeierverflaag.

Invader Duo R342 000, BVM 1 500 kg
Het 15"-wiele, 'n dravermoë van 640 kg en gegalvaniseerde onderstel.















