Pierre Nel leef al vir byna 30 jaar sy passie as 'n wildbewaarder uit. Hy vertel meer oor hoe dinge gebeur in die Weskus Nasionale Park, waar hy as senior veldwagter werksaam is.
Pierre sê daar is 'n verskil tussen die take van senior en junior veldwagters. Op 'n Maandag sit al die senior veldwagters en doen die weeklikse beplanning. Dan kyk hulle wat is nodig om te doen in die week wat voorlê.
"Ons kyk ook na take wat die vorige week of naweek ontstaan het en ander dinge wat volgens ons maandelikse of jaarlikse beplanning gedoen moet word, soos instandhoudingswerk en roetinepatrolliewerk."
Laasgenoemde sê hy is taamlik belangrik in elke afdeling.
"Die ouens moet bietjie rondstap op die terrein en kyk dat alles oukei is. As daar heinings is, moet hulle kyk of alles in 'n goeie toestand is."
Die Weskus-park het ook 'n marine-afdeling wat sy eie aspekte het wat belangrik is.
Hier, vertel hy, gaan die veldwagters uit op die boot, ry patrollie en kyk of alles in orde is op en in die water.
Pierre sê hulle het ook eilande waarheen die marine-afdeling se mense gaan om te kyk of alles in orde is.
In die somer en tydens blomkyk-seisoen kry hulle baie besoekers. "In hierdie tye het ons veldwagters ons hande vol om al die voetslaanpaaie in 'n goeie toestand te hou sodat die besoekers hulself kan geniet."
Hul pligte sluit ook in die hekke wat beman moet word en inligting wat aan die toeriste versprei moet word.
Van die daaglikse roetinewerk in elke afdeling sluit in om te kyk dat die waterpunte in orde is, om wild en voëls te tel, en moniteringswerk soos om watermonsters te neem vir toetse.
"Dan is daar natuurlik ook die interaksie met die besoekers op besige tye en die deurlopende algemene instandhoudingswerk wat mens altyd besig hou," sê Pierre.
Hy noem daar is gelukkig 'n tegniese span wat op die instandhouding van die toerismegeriewe fokus. Die veldwagters se fokus is op die natuurbewaringsinstandhoudingswerk.
Laastens spring selfs veldwagters nie administratiewe werk vry nie, want papierwerk is ook deel van hul daaglikse take.

Oor wat die belangrikste daaglikse pligte is wat hulle moet uitvoer, vertel Pierre: "Die mariene-afdeling het 'n groot wetstoepassingsfunksie. Op 'n daaglikse grondslag kyk hulle na mense se visvangpermitte, die veiligheid van die bote, en ook ander strandgebruikers wat byvoorbeeld seilplank ry."
As daar reëls vir sekere aktiwiteite is, moet die bewaarders toesien dat dit toegepas word.
Hy sê by die Weskus Nasionale Park is die wetstoepassingsfunksie nie so groot in die terrestriële omgewing soos in ander parke nie.
"Die meeste van die werk wat die bewaarders in die terrestriële afdeling doen, is natuurbestuur, soos om om te sien na die waterpunte en heinings, die instandhouding van paaie en voetslaanpaaie, patrollie ry en om uitheemse plante en bome uit te haal. Daar is ook 'n bietjie rehabilitasie en erosie-beheer."
Die onderskeid tussen die afdelings is dus dat wetstoepassing in die mariene-afdeling 'n sterk fokuspunt is, terwyl natuurbestuur weer baie belangrik is in die terrestriële afdeling.
Soos in alle beroepe is daar natuurlik van tyd tot tyd onsmaaklike situasies wat kan kop uitsteek. In sy beroep is dit wanneer mense se veiligheid in die gedrang mag wees. Pierre vertel hier is die belangrikste maar net om besoekers goed in te lig en te waarsku deur pamflette by die hekke uit te deel oor die moets en moenies.
"As ons weet daar is 'n gevaar vir besoekers, dan sê ons vir hulle om op sekere plekke in hul voertuie te bly, ensovoorts."
Die grootste uitdagings waarmee wildbewaarders te doen kry, is volgens hom die stropery van perlemoen en kreef, en misdaad soos koperdiefstal of wanneer daar by besoekers se motors ingebreek word.
Hy sê die groot besoekersgetalle is soms ook 'n uitdaging vir wildbewaarders, want hulle take raak dan soveel meer, maar dis gelukkig seisoenaal.
Vir Pierre is die hoogtepunte van sy werk die uithaal van die uitheemse bome - 'n projek wat in die laat 90's begin is en steeds voortgaan.
Dan is hy ook gaande oor hoe kameras deesdae wildbewaarders se werk kan vergemaklik en verryk. "Deesdae kan ons soveel meer sien, veral van die nagdiere, waarvan die Weskus Nasionale Park baie het."
Ná byna 30 jaar in hierdie beroep, praat Pierre steeds met groot lof oor die rol wat wildbewaarders in natuurbewaring speel. Vir hom is elke dag 'n nuwe avontuur, elke oggend 'n hernude verbintenis tot die natuur wat hy so passievol beskerm.







