Aeropress Go

Die oorspronklike AeroPress, die skepping van Alan Adler, 'n professor aan die Universiteit van Stanford (en ook uitvinder van die indrukwekkende Aerobie Pro-frisbee), is reeds 15 jaar met ons.
Die AeroPress het reeds kultusstatus onder koffieliefhebbers wêreldwyd behaal, en aanhangers sweer hoog en laag dié eenvoudige kontrêpsie maak lekkerder koffie as enige peperduur Italiaanse masjien.
My AeroPress gaan oral saam as ek reis - al slaap ek in hotelle.
Dis lig, maak binne 'n minuut 'n uitstekende koppie koffie en is verspotmaklik om skoon te maak.
Die nuwe Go is spesifiek gemik op stappers en kampeerders, aangesien die AeroPress en al sy toebehore binne-in 'n kompakte beker pas.
Alles weeg net 326 g en jy kry 350 ronde papierfiltertjies. As jy daarvan hou om 'n vuurwarm 'n koppie boeretroos te vertroetel voordat jy dit drink, is die AeroPress dalk nie vir jou nie.
Die koffie smaak op sy beste met water wat nie warmer is as 80 °C nie.
R899, truthcoffee.co.za
Barista & Co Brew It Stick Coffee

Dit neem effe langer om jou koffie (omtrent vier minute) met hierdie ingieter (diffuser) te maak, maar hy neem byna geen spasie in jou rugsak op nie. En jy kan tee maak as koffie jou laatnag wakker hou.
Skroef net die stokkie los van sy mandjie, vul dit met gemaalde koffie of tee en dompel dit in jou beker kookwater totdat dit sterk genoeg na jou smaak is.
Die Brew It is maklik om uit te spoel, en jy kan hom ordentlik skoonmaak deur hom in die skottelgoedwasser te sit.
R299, yuppiechef.com
Bialetti Moka Express 6 Cup

Sophia Loren en die Bialetti het baie gemeen. Albei is Italiaanse ikone en hulle ouderdom (albei ouer as 80) doen geensins afbreuk aan hulle styl nie.
Bialetti roem hom daarop dat jy sy aluminiumkoffiepotjie in nege uit tien Italiaanse huise sal vind. Dieselfde kan (on)gelukkig nie van Sophia gesê word nie.
Die tegnologie is doodeenvoudig. Koue water word op 'n stoof in 'n agtkantige aluminiumpotjie warmgemaak. Sodra dit kook, word die water deur gemaalde koffie tot in die boonste keteltjie gepers. En siedaar - espresso!
My Bialetti doen elke oggend diens by die huis, en hy word steeds ingepak wanneer ons gaan kamp.
R910, bialetti.co.za
Bodum Travel Press

Bodum is bekend vir sy reeks Franse koffieperse, maar hierdie is die eerste een wat spesifiek op reisigers gemik is. Dis terselfdertyd 'n 350 ml-koffiepers én beker wat ure lank jou koffie sal warm hou, en in jou motor se bekerhouers sal pas.
Jou grofgemaalde koffie (sowat drie eetlepels), melk, suiker en warm water word alles saam in die Bodum gegooi. Gee dit 'n vinnige roer en sit die deksel op. Wag vier minute voordat jy die dompelaar afdruk. Dis veilig om die plastiek-Bodum in 'n skottelgoedwasser te plaas. Net soos die AeroPress word dit van plastiek gemaak wat geen BPA (bisphenol A) bevat nie, en dus beter vir jou gesondheid is.
R499, yuppiechef.co.za
Stanley Mountain Coffee System

Dié maatskappy se koffieflesse is legendaries. Net soos 'n goeie mes en 'n ordentlike paar stapstewels is 'n Stanley-fles onontbeerlik as jy in die veld wil oorleef. Stanley het nou sy eie Franse koffiepers ontwerp.
Soos verwag is dit die Land Cruiser van koffieperse. Dis gemaak van taai vlekvrye staal en BPA-vrye plastiek. Jy kook die water in die staalpot, brou die koffie in die ingeboude koffiepers en bêre die hele katoetie in die termosfles. Die deksel is ook jou koppie - dis deksels oulik. Laat weet solank vir Kersvader!
R899, trappers.co.za
Coghlan's 9-Cup-koffiepot

Ek twyfel of daar 'n cowboyfliek bestaan waar daar nie 'n spul stowwerige hardebaarde om 'n vuurtjie sit en staar na iets wat soos 'n Coghlan's-koffieketel lyk nie. Hierdie vlekvryestaalpot is behoorlik ouskool.
Met sy groot tweestuk-perkoleerder-mandjie binne-in is dit perfek as jy vir al die kampeerders in jou groep moet koffie maak. Ware koffiesnobs sal vir jou sê 'n perkoleerder wat water deurentyd deur die gemaalde koffie laat drup, is 'n resep vir bitter koffie. Die geheim is dus om hom nie te lank op die hitte te los nie. As jou roerlepel stokstyf in die vloeistof staan, is dit te laat.
R799, outdoorwarehouse.co.za
Huskee Cup Travel Mug

Koffieprodusente sit elke jaar ná oestyd met 'n dilemma. Wat maak hulle met die tonne en tonne koffiepeule wat oorbly nadat die bone ontgin is? Van hierdie afval word in die grond teruggespit, of daar word vuur van gemaak.
Huskee is 'n Australiese maatskappy wat die koffiepeule herwin en koffiebekers maak. Nie net is dit goed vir die omgewing nie, maar dié bekers se ontwerp is slim en mooi. Dis beskikbaar in drie groottes (175 ml, 235 ml en 350 ml), en jy kan die pierings en deksels (wat op al drie bekers pas) apart koop. Geen BPA word in die vervaardiging van Huskee-bekers gebruik nie en jy kan dit in die skottelgoedwasser skoonmaak.
Vanaf R285, capecoffeebeans.co.za
Fire Maple Fire Flare Camp Kettle

Hierdie 900 ml-keteltjie van geanodiseerde aluminium weeg net 182 g en sy handvatsel vou netjies plat. Die handvatsel is gemaak van vlekvrye staal met 'n hittebestande plastiekoortreksel om te keer dat jy jou hande brand. Die Fire Flare het 'n beskermende sakkie wat met 'n trektoutjie toemaak. Spaar plek en pak sommer (skoon!) sokkies en onderklere in hom wanneer jy gaan kamp.
R350, capeunionmart.co.za
Wenke vir goeie koffie
Truth Coffee in Kaapstad is onlangs aangewys as een van die beste koffieplekke in die wêreld en ons het by hulle gaan aanklop vir brouraad wanneer jy kamp.
"Ons gebruik gewoonlik twee opgehoopde eetlepels gemaalde koffie (die tekstuur moet wees soos die van tafelsout) vir een koppie water.
"En onthou, water is 95% van jou koppie koffie en die gehalte daarvan is dus belangrik. Jy kan gebottelde water gebruik, of water van 'n bergstroom is selfs beter, maar dis noodsaaklik om te regte temperatuur te kry."
"As jy kamp en net kampvuurwater het, skink eers kamertemperatuur water oor die gemaalde koffie om 'n flodder te maak; dan eers word die warm water bygevoeg. Dit verstadig die brouproses en verbeter die koffie-onttrekking.
"Laat die koffie dan nog drie tot vier minute brou. Skink 'n lekker koppie en geniet die uitsig!"





















