Ek en my vrou, Annemarie, het in Oktober 2021 die eerste keer in meer as 20 jaar die Krugerwildtuin besoek.
Ons sou aanvanklik in Julie gaan, maar die pandemie het 'n stokkie voor ons planne gesteek en ons moes geduldig wag.
Ons het tien dae in die park vertoef en talle wonderlike dinge gesien, maar dié insident staan uit. Soms neem jy per ongeluk 'n ánder foto as die een wat jy dínk jy neem.
Laat ek verduidelik... Dit was laatmiddag en ons was met die S110 op pad na die Berg-en-Dal-ruskamp.
Ek wou in die sagte lig nog 'n laaste paar foto's neem en ons stop toe waar ons 'n dwergmuishond op 'n dooie tak sien. (1)
My kamera (Canon EOS R6 met 'n Canon 100-400 mm-lens) was toevallig gestel vir aksiefoto's: sluiterspoed 1/2 500ste van 'n sekonde, lensopening f5.6 en 'n ISO van 3 200.
Die snelvuur-funksie was aangeskakel, wat beteken ek kon tot 20 foto's per sekonde neem as ek wou. Ek het rustig 'n paar foto's van die muishond geneem toe daar skielik 'n beweging is en die muishond van die tak af val.
Hy het duiselig opgestaan en in die gras verdwyn. Ek het geen idee wat gebeur het nie. Toe ek die foto's op die kamera deurgaan, ontdek ek vyf foto's wat die storie vertel.

Die witkoluil moes die muishond (2) dopgehou het, en gewag het totdat hy wegkyk. Toe het hy skielik op die muishond neergeswiep.

Op foto 3 kan 'n mens sien die uiltjie het nie regtig sy kloue in die muishond ingeslaan nie. (Dis moontlik dat die uiltjie die muishond net wou skrikmaak. - Red.)
Die muishond se oë is toe en dit lyk of hy vir 'n oomblik nie weet wat rondom hom aangaan nie.

Op foto's 4, 5 en 6 tuimel hy van die tak af terwyl die uil na regs uit die raam vlieg. Alles was in minder as een sekonde verby!
Ons kan nie wag dat die spaarvarkie vir ons glimlag en ons weer Kruger toe kan gaan nie!

Sybrand en Annemarie Le Roux, Gqeberha
Ons het 13 wonderlike jare in Namibië gewoon en in dié tyd plekke soos Etosha, Damaraland en die Okavango besoek.
Dis vir ons belangrik om die klein dingetjies (eerder as net die Groot Vyf) te waardeer waar ook al ons toer. Ons is nou sewe jaar terug in Suid-Afrika en het sedertdien talle van die nasionale parke in die Oos- en Wes-Kaap, sowel as die Kgalagadi, besoek.
Hoewel ons albei in ons jonger jare afsonderlik in die Kruger was, het ons dit nog nooit saam besoek nie. Ook hier was dit vir ons belangrik om aandag te skenk aan wat die kleiner diere doen - dit het juis gelei tot die neem van hierdie foto's.
Elke ondervinding soos dié gee mens 'n dieper waardering vir die natuur.
Wat het jy al met jou eie oë gesien?
Stuur jou vertelling en reeks foto's van iets ongewoons wat jy in die natuur gesien het na toast@weg.co.za.





















