Ná byna 30 getroude jare kyk ek soms terug en staan verstom voor die dinge wat ek en die man in my lewe saam beleef - en ook saam óórleef - het.
Partykeer wens ek ons kon 'n paar goed óórdoen. Soos ons wittebroodsreis! Die gedagte dat só 'n romantiese vakansie 'n flop kan wees, kom mos nooit in 'n mens se benewelde gedagtes op nie.
Nee, die wolk én die randjie om die wolk is albei net so silwerblink soos die verloofring self!
Ons reis sou egter 'n paar swart-gebrande korsies oplewer.
Ons het pas in Windhoek begin werk en die troue sou by 'n lokaal in die Daan Viljoen-wildreservaat buite die stad gevier word. Aangesien baie van ons gaste al die pad van Suid-Afrika sou kom, het ons besluit om tot laataand saam met almal by die onthaal te kuier.
Daarom was dit nodig om ook 'n oorslaapplek daar naby te kry.
Ons het 'n lodge, sowat 15km verder, gaan bekyk en die mooi uitsig van die restaurant se stoep af het ons oortuig - hiér slaap ons op ons huweliksnag.
Die eienaar het geen probleem met 'n laatkommery nie en het gesê hy sal die deur van die honeymoon suite (daar was gaste en hy kon dit nie vir ons gaan wys nie) vir ons ooplos.
My suster sou die dag na die troue ons trouklere daar oplaai, want ons wou vroeg in die pad val in die rigting van die Victoria-waterval. Ons plan was om kamp-kamp eers noordooswaarts tot in die Caprivistrook te ry, en daarvandaan deur Botswana na Zimbabwe.
Soos belowe was die sleutel in die deur en 'n bos rose en vonkelwyn op (toe gesmelte) ys het met die intrapslag gewag.
— Liesl de Beer
Troudag, Windhoek. Dit was seker 'n voorbode, want ek was pas in my pragtige wit tabberd toe ek naar badkamer toe moes hardloop - iets wat my strooimeisie aan spanning toegeskryf het. Ná 'n blikkie koue sodawater het ek beter gevoel en kon ons betyds by die kerk uitkom.
Tydens die ja-sêery was daar 'n kortstondige beroering agter in die kerk, maar gelukkig het niemand "beswaar teen die voorgenome huwelik" aangeteken nie. Ons sou agterna hoor dat 'n skerpioen 'n vriendin van my skoonma op haar boud geklits het!
Die onwelkome gas het aan die tante se onderrok vasgeklou en het vermoedelik van Daan Viljoen, waar die meeste van die gaste tuisgegaan het, as getuie saam kerk toe gery.
Van die kerk af het ons uitgery na Daan Viljoen vir die onthaal. Dit was 'n vrolike affêre en ons het eers lank na middernag by ons slaapplek aangekom.
Soos belowe was die sleutel in die deur en 'n bos rose en vonkelwyn op (toe gesmelte) ys het met die instrapslag gewag. Toe stap ons deur na die slaapkamer...
Ons was uit die veld geslaan! Twee smal enkelbedjies het ons begroet! My ridder het gesê hy sou die beddens teen mekaar stoot sodat ons darem getroud kan voel.
En toe kom ons agter dat die beddens in die mure vasgebout was! Steeds het manlief nie moed opgegee nie en langs my op die bedjie kom lê, net om minute later die trekpas te kry. Ek kon glad nie só slaap nie.
Hy vertel deesdae graag dat hy die eerste man in die geskiedenis was wat op sy huweliksnag uit die bed geskop is.
Nou ja, ons het dié teleurstelling ook oorleef, die oggend ontbyt geëet, ons tas vir my suster by ontvangs gelos (die bestuurder was nie daar nie) en die pad Caprivi toe gevat.
Niks kon seker verder verkeerd loop nie...
Die eerste aand in Grootfontein kom ons agter dat ons al ons eetgerei vergeet het. Maar ons het vleis gebraai; dis maklik genoeg om te eet.
Twee dae later kon ons by 'n winkel op Katima Mulilo nuwe eetgerei koop.
In Victoria Falls aangekom, het ons kamp opgeslaan en die wonder van die waterval gaan beleef. Die middag het ons fietse gehuur en oor die brug na die Zambië-kant van die waterval gery.
Op pad terug het ek skielik verskriklik sleg begin voel en ons is tent toe waar ek in 'n misrabele hoop neergeval het. Vir die volgende twee dae was ek doodsiek en moes vir elke aaklige rede in elke mediese boek baie na aan die ablusieblokke bly.
Die hitte in die tent (dit was Aprilmaand en nog vrek warm) het glad nie gehelp om dinge beter of meer gemaklik te maak nie. Vir die eerste keer het ek gewens dat ons geld vir 'n hotel gehad het.
My wederhelf het toe maar so tussen die oppassery deur alleen die dorpie verken. Teen die derde oggend het hy dieselfde simptome begin ontwikkel.
Ons het uiteindelik een en een bymekaargesit en ontdek dat ons elke verpeste newe-effek op die Lariam-pamfletjie gehad het - van hallusinasies tot hardloopsiek!
Dit was ook die rede vir my naarheid wat so amper my "heel mooiste dag" verongeluk het. In daardie jare was Lariam die bekendste malariapil op die mark; dis gelukkig later met 'n beter opsie vervang.
Ons was teen dié tyd meer as bereid om liewer malaria te kry voordat ons 'n dag langer só sleg moes voel - die res van die boksie is summier asblik toe.
Dinge het weer rooskleurig begin lyk. Ons volgende bestemming was die Hwange- nasionale park, suid van Vic Falls. Op die eerste aand daar het ek in die stort in 'n verroeste spyker getrap wat deur die stortplankie gesteek het.
Ek het dadelik die ergste gevrees toe 'n kwaai rooi knop kort daarna verskyn. Voor my geestesoog het ek al gesien hoe word ek met 'n noodvlug na 'n hospitaal in Suid-Afrika gevlieg.
Ons het bloed uit die wond bly druk, dit skoongemaak en kort-kort Richelieu-brandewyn ingevryf.
Teen die volgende oggend het niks slegter gelyk nie en was ons weer op ons wankelende wittebroodskoers. "Riekie Louw" het sy ding gedoen.
Van daar af het dinge vlot verloop en die egpaar De Beer het sowat 'n week later veilig in hulle nuwe tuiste in Windhoek aangekom.
Agt maande later ry ons vir die vakansie na Riebeek-Wes in die Wes-Kaap. Terselfdertyd het my suster-hulle van Bloemfontein af na my ouers in Swakop getoer.
Ons het mekaar in die suide van Namibië op vriende se plaas buite Grünau ontmoet om saam te kuier.
Daai aand om die vuur draai die gesprek by ons troue en my suster begin uitwei oor die prágtige plek waar ons geslaap het. Ek kon net 'n meewarige snork inkry.
Nee, sê sy verbaas, die bestuurder het haar self die kamer gaan wys - dit was pragtig!
Dis toe sy oor die wit linne op die koninggroot bed, die romantiese muskietnet en asemrowende uitsig begin vertel, dat die wrede waarheid in die verslae kyke tussen my en my man kom nesskop het.
Die feit het soos die verroeste Hwange-spyker uitgestaan - ons het in die verkeerde kamer geslaap!
Die persoon wat die sjampanje en rose na die wittebroodsuite toe moes neem en die sleutel in die deur moes los, moet 'n fout gemaak het.
Hoe dit ook al sy, dié huweliksnag was om al die verkeerde redes onvergeetlik. Maar ons het vandag nog die blikborde wat ons in Katima gekoop het en as ons daaruit eet, dink ek altyd aan ons "besonderse" wittebroodsreis.
Dalk moes ons die veiliger Mauritius-opsie gekies het, dalk gespaar het vir die pragtige Victoria Falls Hotel of vir 'n naweek in 'n oulike plekkie in Swakop tuisgegaan het.
Of dalk is dit presies hoe dinge moes verloop - enkelbeddens en al.






