Muismoles op Marion-eiland

Renate Engelbrecht skryf oor die huismuise wat Marion-eiland oorgeneem het en 'n bedreiging inhou vir die spesiale natuurreservaat se voëllewe.

Die Grootalbatros - een van die voëls waarvoor Marion-eiland bekend is. Foto: BEN DILLEY
Die Grootalbatros - een van die voëls waarvoor Marion-eiland bekend is. Foto: BEN DILLEY

Huismuise is reeds in die 1800's per ongeluk deur robbejagters na -eiland gebring. Die muise was op die skepe wat deur die jagters gebruik is en het hulle van daar af op die eiland tuisgemaak.

G'n mens sou dié glips se langtermyneffek kon voorspel nie.

Daar is in die 1940's planne beraam om van die muise ontslae te raak omdat hulle bloot te veel geraak het en ander inheemse spesies met hulle om kos moes meeding. In 1948 is katte op die eiland losgelaat, maar ongelukkig het die sowat 2 000 katte nie net muise gevang nie, maar ook 450 000 stormvoëls per jaar.

Daar is toe 'n projek van stapel gestuur wat 12 jaar sou duur om die katte van kant te maak.

Wetenskaplikes en navorsers sit met hul hande in die hare, want die stormvoëls se getalle herstel nie, ander spesies loop deur en die muisgetalle neem net toe.

Intussen het die muise stelselmatig 'n aptyt vir seevoëls ontwikkel en verlustig hulle hulself in hulpelose kuikens en selfs volwasse seevoëls wat naïef rondstaan terwyl die indringers tot bo-op hul kop klouter en aan hulle knibbel en knaag totdat hulle aan hul wonde beswyk.

Barbara Creecy, die vorige minister van bosbou, visserye en die omgewing, het in haar termyn geskryf: "Indringer-huismuise is hoogs aanpasbare omnivore wat groot hoeveelhede plantegroei en invertebra verbruik en dryf die -eiland na 'n ekologiese krisistoestand, maar daar is 'n oplossing."

, en sy kleiner buurman, die Prins Edward-eiland, vorm deel van die Prins Edward-eilande wat deur Suid-Afrika geannekseer word. Terwyl die Prins Edward-eiland onbewoon en ongerep is, huisves 'n navorsings-en-weerstasie.

Die eilande is in 1995 gesamentlik as 'n spesiale natuurreservaat verklaar, is ook 'n Ramsar-gebied sodat die vleiland bewaar kan word en in 2013 is die omliggende waters as beskermde mariene gebied verklaar.

Dr. Sue Tonin, assistent-projekbestuurder vir Mouse Free (MFM), was in die 1980's 'n paar keer as navorser saam met die SA Agulhas se aflosvaart na Marion-eiland. Sy is die eerste vrou wat haar doktorsgraad as deel van die Suid-Afrikaanse nasionale Arktiese program voltooi het. "Wanneer jy in jou 20's is, het dit 'n baie omvattende effek op hoe jy die wêreld sien. . . Die skoonheid van die suidelike oseaan en die eiland is moeilik om te beskryf en baie spesiaal."

Sy verduidelik dat die eilande - met 'n gemiddelde reënval van sowat 2 m per jaar - weens klimaatsverandering stelselmatig besig is om uit te droog. "Twintig, 30 jaar gelede was dit ongeveer 3 m per jaar."

Baie sterk westewinde en 'n koue klimaat is ook eie aan die eilande. Robyn Adams, MFM se kommunikasiebeampte en projekassistent, sê weens die winderige toestande is die plantlewe op die eiland klein en laag op die grond en sluit dit grotendeels grasse en mos in.

"Omdat daar so min eilande in die Suidelike Halfrond is, is die omliggende omgewing grotendeels oseaan," sê Tonin.

Eilande soos Marion dien dus as vastrapplek en broeiplek vir seevoëls en robbe. Daar is sowat 28 see­voëlspesies op Marion. Verder is daar drie verskillende robspesies - waaronder die oorlose suidelike olifantrob - wat hier voorkom, en dit is ook 'n heenkome vir bykans 'n kwart van die wêreld se grootalbatrosse, ook bekend as die grootmalmok. Daar is ook ander seevoëls en eilandspesies wat nêrens anders voorkom nie.

Die bruinalbatros (op die rooilys vir bedreigde spesies), asook die grootalbatros en die swart­kop­albatros (albei as vatbare spesies gelys), is maar van die voëlspesies wat onder die muise deurloop.

'n Miljoen muise

Terwyl daar baie inligting rondom die voëls, asook die muise op Marion bekombaar is, is daar baie min navorsing oor muise wat 'n aptyt vir lewende see­voëls ontwikkel het. Dit is 'n vreemde verskynsel en uniek aan Marion en 'n klein aantal ander eilande wêreldwyd.

Die muise het destyds in moeilike weersomstandighede op die eiland aangekom, maar weens klimaatsverandering raak die toestande al hoe gunstiger vir hulle. Mededinging om kos raak groter en is klaarblyklik een van die grootste redes vir die ontstellende aanpassing in hul dieet.

Baie mense wonder waarom die voëls op die eiland nie evolusionêr aangepas het en die muise begin vreet het nie, maar dit blyk die muise het hulle voorgespring. Daar is dus geen natuurlike vyand vir die muise op die eiland nie.

Volgens prof. Peter Ryan, 'n adviseur vir MFM, is daar baie opsies oorweeg om van die muise ontslae te raak.

"Biobeheer is net beheer, nie uitwissing nie," beklemtoon hy die erns van die saak.

Dr. Anton Wolfaardt, MFM se projekbestuurder, meen dat om en by 19 van die seevoëlspesies op Marion-eiland deur plaaslike uitwissing in die gesig gestaar word indien die muise nie binnekort uitgewis word nie.

Daar word beraam dat daar tot meer as 'n miljoen muise op die eiland is en dat hulle nie net seevoëls vreet nie, maar ook ander spesies soos invertebra.

MFM is in samewerking met die departement van bosbou, visserye en die omgewing en Birdlife SA van stapel gestuur. Indien suksesvol, sal dit die grootste uitwissing van muise in sy soort wees.

Dit behels dat aas wat giftig is vir muise met behulp van helikopters oor die hele eiland gestrooi word. Die idee is dat die muise dan in hul gate sal inkruip en vrek.

Volgens Tonin sal voëls op die eiland na verwagting nie die aas optel nie omdat hulle van kos uit die see afhanklik is.

'n Paar aasvoëlspesies op Marion is wel vatbaar en 'n risiko-ontleding is gedoen om die uitwerking op hulle te verminder. Die risiko bly wel steeds minder as die permanente skade wat die muise aan die ekostelsel sal aanrig indien hulle nie verwyder word nie.

Risiko's

Indien alles volgens plan verloop, sal die span einde Mei, begin Junie 2027 met die uitwissingsproses begin. Die span sluit minstens ses helikoptervlieëniers in wat in reguit lyne heen en weer oor die eiland sal vlieg en die giftige aas stelselmatig vanuit ronde houers oor die eiland sal giet.

"Ons benodig baie gespesialiseerde vlieëniers; verkieslik individue wat al voorheen betrokke was by soortgelyke projekte. Die Nieu-Seelanders was die baanbrekers vir die metode," vertel Tonin. Vir 'n eiland so groot soos Marion is daar tans nie veel van 'n keuse nie. Hommeltuie is oorweeg vir die projek, maar behalwe dat dit baie gewig moet kan hanteer, sal daar ook 'n groot getal hommeltuie nodig wees om die taak op een slag af te handel en dit sal duurder uitwerk as helikopters.

Ryan en sy span het 'n risiko-ontleding gedoen om te kyk wat die invloed van die projek op ander spesies sal wees. Almal is bekommerd oor die voëls op die eiland, aangesien die aas vir hulle ook giftig is. Daar is 'n risiko vir die aasvoëls op die eiland omdat hulle dalk van die vergiftigde muise kan vreet en ook kan vrek.

Kommer bestaan oor die reusenellie, meeuspesies soos die swartrugmeeu en 'n roofmeeuspesie. Die span is veral ook bekommerd oor die kleinpeddie. Hulle voed, soos die muise, op insekte en ding dus met die knaagdiere mee om kos. Dié voëls­ kom ook op Prince Edward-eiland voor waar daar geen muise is nie - iets wat as 'n vangnet dien.

Risiko's kan verlaag word deur die uitwissingsprojek in die winter te doen, wanneer daar minder van die voëls op die eiland is. Teen die tyd wat hulle terugkeer, sou die giftige aas reeds ontbind het en sal dit nie as kos herken word nie.

Die giftige aas is net een deel van die projek. Daarna moet daar verseker word dat muise nie weer op die eiland kom nie en dus sal noukeurige aandag aan bio-sekuriteit geskenk moet word.

Soortgelyke uitwissingsprojekte is al op meer as 700 ander eilande suksesvol gedoen en daaruit is dit duidelik dat die risiko vir die mens baie laag is.

'n Mens moet om en by 300 g van die giftige aas inneem om werklik iets daarvan oor te kom. Kommunikasie is steeds baie belangrik en die mense op die eiland moet presies weet wat gedoen gaan word, wanneer dit gaan gebeur en hoe dit getoets is.

Die risiko vir insekte en invertebra op die eiland is ook skraal omdat die gif slegs 'n uitwerking op soogdiere en voëls het. Dit sal dus nie die insekte of selfs die visse in die oseaan rondom die eiland raak nie.

Die gifkomponent van die produk wat gebruik gaan word, is onoplosbaar in water, wat beteken dat dit nie in die oseaan kan beland nie.

Navorsing toon dat dié tipe gif in die grond sal afbreek en dat die toksiese stof daarin met tyd en sonlig sal afbreek.

Is dit eties?

Die etiese aspekte van die projek is 'n baie groot kwessie en iets wat die span van MFM nie ligtelik opneem nie. Hulle het wel reeds etiese toestemming van die regering gekry om voort te gaan.

Volgens Tonin weeg hulle van die begin af al die etiese kwessies van die projek teenoor mekaar op. Hulle moes byvoorbeeld oorweeg wat die gevolg sou wees indien daar glad nie op die probleem reageer word nie. Dit sou lei tot die plaaslike uitsterwing van sekere belangrike seevoëls. Hulle moes ook in ag neem dat die muise nie natuurlik op die eiland voorgekom het nie en deur die mens op die eiland gevestig is. Dis dus 'n indringerspesie en ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing rus daar 'n verantwoordelikheid op owerhede om indringerspesies - veral in natuurreservate en spesiale natuurreservate soos Prince­ Edward- en Marion-eiland - uit te roei.

"Jy weeg ook die positiewe uitkomste van 'n uitwissing teenoor die negatiewe uitwerking op," sê Tonin.

Om die projek te help finansier, is 'n skarefinansieringsprojek van stapel gestuur. Besoek www.mousefreemarion. org.za vir meer inligting.

  • Engelbrecht is 'n leefstyljoer­nalis en blogger van Pretoria.

Rolprent

Saving Marion Islands Seabirds: The Conservation Campaign­ for Marion Island is vroeër vanjaar aangewys as finalis in die Inter­national Tourism Film Fes­tival Africa.

Dit is 'n dokumentêre rolprent wat in 2023 vir die Mouse-Free Marion-projek vervaardig is.

Dit bevat materiaal deur navorsers soos Ben Dilley, David­ Hedding, Janine en Stefan Schoombie en Otto Whitehead.

Renate Engelbrecht

SPELETJIES VANDAG

CTA