As jy in 16 jaar nie aan 'n boswoonwa se basiese konsep torring nie, het jy 'n wenresep beet. Dit is die geval met Conqueror se Commander, en te oordeel na die Stealth-weergawe lyk die volgende 16 jaar ewe rooskleurig.
Aanvanklik is tien eenhede gebou, en ons was gelukkig genoeg om in te loer by Conqueror se nuwe handelaar in die Boland, La't Wiel 4x4, om die nuwe wa van nader te bekyk.
Tans is die Commander beskikbaar in drie weergawes: die basiese Classic, en dan die Platinum en Recce. Prysgewys skuif die Stealth tussen die Platinum en Recce in.

Wat maak hom anders?
Die ooglopendste is die amper swart voorkoms, wat 'n eerste is vir Conqueror. Die houtskool kleur word reeds op die Platinum gebruik, maar die algehele kleur is ligter. Die rooi kentekens staan behoorlik uit teen die donker bakwerk.
Terloops, die kentekens - selfs vir die olifant-logo weerskante bo die wiele - is nie plakkers soos op die ander Commander- of Companion-modelle nie, maar uitgesnyde dele in die panele self.

Die neuskas van die modelle tot dusver het nie 'n verflaag oor nie en word van aluminiumriffelplaat gemaak. Op die Stealth kry die neuskaste dieselfde verflaag as die romp, en omtrent net die koppelstuk en rooster agter oor die noodwiel is blink.

Buiten die kosmetiese veranderinge kom die Stealth met 'n paar nuwighede en ekstra standaarditems.
Die trap in albei deure slaan nie meer op na binne nie, maar is onder die deur aan die buitekant gemonteer. Nou trek jy bloot die trap onder die drempel uit en klim in.
Langs die bed kom twee ekstra kassies én jy kry 'n beter matras en twee ekstra ligte teen die dak. Die 270°-uitswaaistoepdak en buitestorttent is opsioneel op die Platinum, maar in die Stealth standaard.

En dieselfde?
Andersins kry die Stealth dieselfde standaardtoerusting as die Platinum.
Dit sluit in die 150 l-watertenk met sy pomp en loodgieterswerk, 'n 15 l-geiser, aluminiumkamptafel, 20 A-slimkragstelsel, twee 102 Ah-batterye en 'n 20 m-koord, twee waaiers, 'n tweeplaatgasstoof en vlekvryestaalwasbak.
Van die opsionele ekstras sluit in die nr. 10-Pabar-gassilinders (R805), jerrykanne (die militêre soort, R619), breekware en eetgerei (R1 886), SnoMaster 82,5 l- of National Luna-90 l-ys-vrieskas (R17 124 of R15 956); Mojave 240-sonpaneelstelsel met 20 A- reguleerder (R16 845) en batterylaaistelsel vir die sleepvoertuig (R3 338).

Handelaarsnetwerk
Hoofkantoor Heidelberg 016 349 6533; info@conqueror.co.za; https://conqueror.co.za/conqueror.co.za
Handelaars 14 handelaars landwyd (Botswana en Namibië ingesluit). La't Wiel 4x4, die nuutste handelaar, is geleë net buite die Paarl. Kontak: 072 489 3210; quinton@latwiel4x4.com; latwiel4x4.com

Conqueror Commander Stealth BVM 1 800 kg, R553 608
Van die mededingers
Boswoonwaens in dieselfde prysklas

Imagine Cruiservan 3.5 R529 000
Slaapplek vir 3 volwassenes en 1 kind, 16"-wiele en BVM 1 750 kg.

Bush Lapa Ratel 4 R558 900
Slaapplek vir 4, 15"-wiele en BVM 1 800 kg.

Afrispoor Caracal 4 Sleeper R579 000
Slaapplek vir 4, 15"-wiele en BVM 1 900 kg.















