"Ons het voorheen met 'n Jurgens Penta gekamp, maar ek het vir my vrou gesê ek is lus om 'n ouer en goedkoper wa te koop en hom oor te doen en te maak soos ek hom wil hê," vertel Ernst Siebrits van Sasolburg.

Foto's Ernst Siebrits
"In Februarie koop ek toe 'n 1985 Sprite Major en besluit om hom in die tema van 'n vegvliegtuig uit die Tweede Wêreldoorlog oor te doen. Ek het gesien baie mense doen dit met hulle karre en motorfietse, maar niemand met woonwaens nie.
"Ek het die wa se nuwe hoëgehaltevinielbaadjie (vehicle wrapping) by Stefan en Linda Pieterse se SignSeeker in Parys laat ontwerp en aanbring - ek het my idee verduidelik en foto's op die internet gesoek wat ek vir hulle gestuur het. Dit was nogal lekker dat hulle die hele konsep verstaan het van die ou vliegtuigplate en die prikkelpop, en ek het regtig die idee gekry hulle is net so opgewonde oor die projek soos ek. Hulle het 'n klompie idees aangestuur en ons het hier en daar 'n bietjie verander en toe op 'n ontwerp ooreengekom. Die wa is Parys toe waar hulle dit gemaak het presies soos ek dit wou hê.
"So het Lady Luck die lewenslig aanskou.
"Al wat die wa nou nog kort, is tekkies met wit sywande. Ek dink dit sal alles aan die buitekant mooi afrond. Ek het die binnekant ook heel oorgedoen, maar die bestaande meubels en kaste herwin en weer gebruik vir die herontwerp. Ek het onder meer die stapelbeddens uitgehaal en 'n eilandbed gebou. Met die materiaal van die bedkassie wat tussen die oorspronklike beddens gestaan het, het ek twee bedkassies gebou wat aan weerskante van die nuwe eilandbed staan. My seuns, Krige en Liam, slaap nou op die oorspronklike dubbelbed en ek en my vrou, Yolandé, op die eilandbed.
"Ek het aan die kombuis ook verander - ek het die oond uitgehaal en daar 'n bykomende kas gebou. Vir die kasdeure het ek die oorspronklikes gebruik, maar hulle oorgetrek met muurpapier wat soos dryfhout lyk. Ek het ook 'n nuwe houtvloer in die wa gesit.
"Die wa was aanvanklik baie donker binne en ek wou dit ligter maak. Ek het die mure met 'n algemene onderlaag geverf en toe 'n sponsroller gebruik en hom met wasbare wit PVA bedek. Ek besef wit is nie 'n praktiese kleur in jou wa nie en wou seker maak dit maak maklik skoon. Ons het blindings vir die vensters laat maak.
"Ons eerste kamp met Lady Luck was by Weesgerus en die mense het omtrent gekyk, foto's geneem en gesê hoe baie hulle van haar hou. Ek het ook foto's van haar op sosiale media geplaas en daar was ongelooflik baie reaksie."
Het jy iewers 'n rare sleepsel gesien?
Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.





