Buitelewe

Pas só jou tent op

Foto's Keaton Kock

Net soos jy elke dan en wan 'n bietjie onderhoud op jou eiendom moet doen, is daar ook 'n hand vol goeie maniere om na jou tent om te sien. Dit wissel van die beste manier om hom te bêre tot raad oor hoe om hom te was.

Gee daai nate oemf

Goed, jy het pas 'n nuwe tent gekoop. Wat nou? Wel, jy moet hom uitpak en leer hoe om hom op te slaan. En terwyl jy dit doen, is dit raadsaam om een van daardie klein waterspuitbotteltjies byderhand te hou. Gebruik die bottel om water op die nate en stikwerk te spuit nadat jy die tent opgeslaan het.

Die stikwerk absorbeer dié vogtigheid en swel op en trek dan stywer as dit droog word. Dit sorg dat jou tent se gestikte panele sterker word. Terwyl jy die tent die eerste keer opslaan, kan jy sommer 'n lysie maak van alles wat daar moet wees en waar dit kom. Sodoende hoef jy nie in die kampterrein kop te krap nie.

Nóg 'n manier om jou tent te verbeter is om 'n wasseëllaar aan die binnekant van die nate te smeer. Dit maak jou tent meer waterdig.

Trap in jou spoor!

Trek jou Crocs of Hi-Tecs uit voor jy in die tent trap, veral nadat jy die staproete deur die spruitjie aangedurf het. Dit keer dat jy skerp klippies of dorings by die tent intrap wat later gaatjies of snye in die tentvloer kan maak.

Nog iets wat ook liefs buite moet bly, is reukmiddels en eetgoed. Dit lok klein diertjies én grotes met skerp tande, en hulle gaan nie rus voor hulle daarby uitgekom het nie. Nog 'n ding: Dit maak nie saak hoe goedgemanierd Pote is nie; moet hom nooit alleen in die tent los nie.

Bring 'n deurmatjie saam as jy nie bereid is om jou duur tekkies buite te los nie. Vee net jou skoene deeglik skoon voor jy deur die tentopening klim.

Pasop vir die son

'n Bietjie son is goed vir 'n mens, maar die meeste van ons het nou al op die harde manier geleer jy moenie te lank uit die koelte uit bly nie. Dieselfde geld vir jou tent. As hy vir te lank in die son staan, gaan hy vinniger verweer.

Die verkoopsman gaan jou probeer wysmaak jou tent is UV-bestand, maar lang tye in direkte son gaan mettertyd daartoe lei dat nylon- en poliëstertente bros raak. Gelukkig kry 'n mens produkte waarmee jy jou tent kan behandel om hom meer bestand te maak teen die son.

Dit maak hom sommer ekstra waterdig ook. Dit werk amper soos SBF50 op jou vel. Slaan altyd die dakseil op, selfs wanneer dit nie reën nie. Die dakseil is soos 'n hoed vir jou tent, en dis goedkoper om hom te vervang as die tent.

Wees maar puntenerig

Wanneer jy by jou staanplek stilhou, maak seker daar lê nie skerp klippies of takkies op die lappie grond waar jy jou tent wil opslaan nie. Kyk mooi rond vir enigiets wat moontlik 'n gat in jou tentvloer kan maak.

Dis ook nie 'n slegte plan om eers 'n grondseil oop te gooi nie. 'n Geweefde netseil is verkieslik, maar indien dit 'n soliede seil is, moet hy verkieslik nét so groot soos die grondoppervlak van jou tent wees. As hy groter is, kan reënwater moontlik daarop opdam.

Die ritssluiter van jou tent is een van die dinge wat die hardste gaan werk terwyl jy kamp. Wees versigtig daarmee. Hou die tentflap met jou een hand vas en gly die ritssluiter pleks van hom te pluk. En onthou om jou tent vir die kamptyd met toue en penne vas te kap.

Vlekkeloos

Die maklikste manier om te keer dat iets op jou tent mors en dit vlek is om nie onder 'n boom met boomgom of -sap te kamp nie. Maar dit beteken 'n mens moet koelte prysgee - dus ietwat van 'n tameletjie. As daar dus voëlmis, boomgom of -sap op jou tent beland, maak seker dis heeltemal droog voor jy die tent wegpak.

Weerstaan die versoeking om die tent in die wasmasjien te gooi wanneer jy by die huis kom. Dit kan jou tent se materiaal, gaasvensters en stikwerk erg beskadig. En moenie eens daaraan dink om hom in die tuimeldroër te prop nie!

Laat die tent eerder in louwarm water week en was die seil dan met 'n sagte seep en spons. Pasop vir 'n nat tent. Dit kan in 'n oogwink muf, en dít kan 'n nare besigheid raak. As jy langs die kus gekamp het, maak seker jy maak jou tentpale skoon wanneer jy by die huis kom.

Spoel die pale - of enige ander metaaldele - met water af en vryf dit met 'n lap droog om te keer dat dit roes. Maak seker jy kry die regte skoonmaakmiddel vir jou tent.

Die chemikaliëe in gewone huishoudelike middels, soos skottelgoedseep, kan jou tent se waterbestande beskerming beskadig.

Afslaanstories

Maak seker die tentvloer is skoon wanneer dit tyd is om af te slaan. Vee die tent ordentlik uit vóór jy hom opvou. Kyk ook aan die onderkant vir vog onder die tent én die dakseil. Laat dit eers droog word, indien moontlik.

As jy nie kan wag nie, pak op, maar gooi jou tent oop sodra jy by die huis aankom. As jy in 'n koepeltent met rekpale kamp, begin in die middel wanneer jy die raamwerk uitmekaar haal. Dit is beter om die pale uitmekaar te druk as trek, want dit sit minder spanning op die rek.

Vou jou tent netjies en rol hom op tot hy in sy sak pas. Moenie hom net inprop nie, want jy kan die bekleedsel beskadig.

Op die rak

Ons kan jou nie genoeg waarsku hoe belangrik dit is dat jy seker maak jou tent is heeltemal droog voor jy hom wegpak nie - veral as jy oor 'n lang ruk eers weer gaan kamp. As hy vir lank lê en hy is aan vog blootgestel, gaan mikro-organismes groei wat hom gaan beskadig en 'n vrotspul gaan veroorsaak.

Dink mooi oor waar jy die tent bêre. As die vertrek bedompig is, sit eerder die tent in 'n lugdigte houer. As jy genoeg plek het, is dit raadsaam om die tent uit sy sak te haal en hom met 'n lap te bedek. Dit laat die materiaal toe om asem te haal. Jou tentpale kan ook verweer as hulle net op een plek lê.

Veral die rek kan verslap omdat daar spanning is as die pale opgevou is. As jy plek het, slaan die raamwerk op en bêre dit so.

Weg Ry & Sleep sê

'n Tent is 'n duur belegging, maar dit maak geldelik sin om na joune om te sien. Koop sommer ook vir jou 'n paar ekstra tenttoue en -penne. Dis iets wat 'n mens op een of ander manier altyd verloor.

Kyle Kock

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM