Foto's Verskaf
In die vreemde is jou ryding en tent jou tuiste, en dis belangrik dat jy 'n betroubare en gerieflik blyplek skep. Ja, die sterrehemel is betowerend, maar jy wil nie in die pikdonker oor tentpenne struikel of sukkel om 'n lekband te herstel nie.
In hierdie artikel praat ons van lumen (afgekort lm), kerskrag (cp) en Kelvin (K). 'n Lumen is 'n eenheid van lig, met 1 kerskrag wat gelykstaande is aan 12,57 lm. Kelvin is 'n eenheid van temperatuur, en wanneer dit by lig kom, beteken 'n lae Kelvinsyfer vertoon die lig rooier (of warmer), terwyl 'n hoë syfer dui op blouer (of koeler) lig.
Hier is 8 soorte draagbare ligte wat jy gerus kan oorweeg vir oorlandreise. Ons sê nie jy't hulle álmal nodig nie, maar minstens 'n paar van hulle.
Gaslamp

Ons kan die Chinese bedank vir die gaslantern. Hulle gebruik dit al sedert 500 v.C. toe hulle sowaar met bamboespype natuurlike gas uit soutmyne tot in hulle huise gekry het waar hulle 'n vlammetjie kon aansteek. Dit was egter die Oostenryker Carl Auer von Welsbach wat in 1885 die gloeikous gepatenteer en sodoende moderne gaslanterns moontlik gemaak het. Die meeste van ons lesers het waarskynlik met hierdie soort lanterns grootgeword.
Dit bestaan uit 'n gaskannetjie (of groter gassilinder) met 'n lamp wat boaan vasskroef. Binne die lamp is Von Welsbach se delikate kousie wat met gas gevul word en dan lig afgee wanneer dit aan die brand gesteek word. As jy die gaskraan op sy wydste oopdraai, straal die model hiernaas 'n allemintige 1 275 lm (of 100 cp) uit - oorgenoeg vir selfs 'n groot boskamp.
Die lekkerte van dié toestel is dat jy die lamp môreoggend kan afskroef, 'n skottelskaar aanskroef en ontbyt maak!
Elektriese kamplig

Thomas Edison het nie die gloeilamp uitgevind nie, maar dit slegs gepatenteer. Daar is nie 'n enkele uitvinder nie aangesien dit etlike jare en verskeie wetenskaplikes geverg het om die elektriese gloeilamp te ontwikkel. Die lig wat ons hier wys, gebruik kragtoevoer van 220 V en is veral geskik vir jou woonwa se stoeptent.
Hy't juis ritsstroppe wat aan 'n tentpaal geheg kan word sodat jy hom kan hang net waar jy wil. Ons beveel hierdie soort lig aan, want jy kan self kies watter soort gloeilamp jy wil indraai.
Jy kan 'n gesellige atmosfeer skep met die 2 700 K-warmlig-gloeilamp wat in jou huis se sitkamer hang, óf maak alles helder met 'n 4 000 K-witliggloeilamp nes in die kombuis, of selfs 'n flou 9 W-liggie sodat julle mekaar net-net kan raaksien op 'n romantiese Valentynsdag.
Batterylantern

Soms kamp jy wild, ver van die naaste kragsok af, en dan kom 'n batterylantern handig te pas. Die voordeel van dié soort lantern is dat jy hom bedags kan laai deur hom by jou voertuig se 12 V-sok in te prop terwyl julle ry. Hierdie toestelle is almal draagbaar en die meeste het 'n knop waarmee jy die helderheid van die lig kan verstel.
Die model hiernbo se ligkrag wissel van 50-550 lm (of 4-44 cp). Ons ondervinding is dat die LED van dié soort lanterns gewoonlik 'n koel, wit lig uitstraal. Dis gaaf wanneer jy kosmaak of duidelik wil sien wat rondom jou aangaan, maar dit skep beslis nie 'n gesellige atmosfeer nie en hy lok boonop muskiete.
Die tegnologie in hierdie lanterns is al só algemeen dat hulle nou al spotgoedkoop is. Jy kan hom boonop by die huis gebruik sou Eskom weer wankel.
Koplamp

Hierdie lig se oorsprong lê in die mynbedryf, toe werkers 'n manier moes vind om in die donker te sien terwyl hulle hulle hande gebruik om steenkool uit te grawe. Met die moderne weergawe is jou hande ook vry om 'n moersleutel te swaai terwyl jy op die naat van jou rug onder jou bosbakkie lê.
En ja, selfs bedags het jy lig nodig wanneer jy jou voertuig se onderstel ondersoek. Omdat jy die ding op jou kop dra, is hy gewoonlik klein en lig, en dit maak dat jy hom in jou trokkie se paneelkissie kan bêre.
Kies een waarvan die lig kan flikker sodat jy hom agterop jou bakkie se kappie kan neersit en ander motoriste waarsku daar's 'n man wat halflyf onder sy bakkie lê met sy voete in die pad. Jy hoef ook nie 'n hoërgraadkoplig met 'n ligstraal so helder soos die son te koop nie. Volgens ons ondervinding hoef jy wat herstelwerk in swak ligtoestande betref, slegs duidelik te kan sien tot op 'n armlengte. Hiervoor is 200 lm (16 cp) oorgenoeg.
Stringligte

Goed, ons gee toe hierdie is beslis nie noodsaaklike ligte nie, maar jou kampbelewenis gaan soveel meer spesiaal wees as jy 'n string van hierdie liggies aan jou boswa se stoeptent hang. Die liggies gebruik klein en ekonomiese LED's en jy hoef hulle gewoonlik nie by 'n kragsok in te prop nie omdat hulle dikwels 'n herlaaibare battery en 'n sonpaneel het wat jy aan die nok van jou stoeptent vasmaak.
Hulle sorg vir 'n feestelike atmosfeer, veral oor Kersfees, en die foto's van jou kampplek gaan jou mense by die huis inspireer om saam te kamp!
Soeklig

In sommige wildreservate mag jy saans in die donker gaan wild soek, en dan is dit altyd nuttig om 'n hierdie soort lig by jou te hê. (Uiteraard moet jy nie 'n roofdier verblind wat op die punt is om sy prooi te bespring nie.) Die toestel hiernaas skyn teen 3 200 lm (of dan 255 cp) - die sterkste lig op hierdie blaaie. Buiten diere soek het hy ook ander gebruikte: Jou reismaat kan die lig vashou en die straal skyn waar jy met jou hande werk, of jy kan dit gebruik om saans te hengel of jag.
Kies een met 'n pistoolgreep, want dit maak dit makliker om uit jou voertuig te mik met hom. Jy kry ook soekligte met 'n battery in die pistoolgreep sodat jy hom vir 'n paar minute buite jou voertuig kan gebruik - byvoorbeeld as jy iets moet gaan soek wat jy in die bos verloor het.
USB-lampie

Hierdie dingetjie is glad nie so nutteloos as wat hy lyk nie, want soms het jy net 'n klein bietjie lig nodig (hierdie outjie skyn teen 12 lm of 1 cp). Een van sy vele gebruike is om hom in die USB-sok van jou skootrekenaar in te prop; nou kan jy die toetsbord duidelik in die donker sien terwyl jy laataand 'n e-pos oor die dag se gebeure tik.
Ook in jou sportnutsvoertuig kom hy handig te pas. Prop hom by die USB-sok in, buig sy armpie afwaarts, en nou werp jy lig op daai holte onder die middelkonsole wat gewoonlik in donkerte gehul is. Jy kan hom ook by 'n kragbank inprop en dan het jy 'n dakliggie in jou daktent sonder dat jy 'n verlengkoord hoef in te span.
LED-werkligte

Daar is verskeie soorte werkligte op die mark, maar ons kan hierdie drie aanbeveel. 'n Koplamp gaan jou ook net só ver bring voordat jy 'n groter lig moet uithaal. Hierdie soort lig is té skerp om in jou kampkombuis te gebruik, want hy gaan jou mettertyd 'n hoofpyn gee as die ligstraal jou oog tref. Hulle is meer geskik om langs jou, agter jou of bo jou staan te maak wanneer jy vanaand die droë gras agter jou bakkie se verkoeler uitgrawe of die lugfilter verwyder om sand en stof uit te skud.
By Ry & Sleep het ons presies so 'n werklig as die een hier bo, en hy't baie ure se gebruik agter die blad.

Jy kry ook LED-panele met 'n buigsame arm en 'n magnetiese voetstuk. Die gedagte is dat jy vanaand jou voertuig se enjinkap lig en die magnetiese voetstuk aan die onderkant van die enjinkap laat klou. Dan koppel jy die kragkoord met twee krokodilknypers aan die motorbattery se twee punte en buig die arm sodat die lig skyn presies waar jy dit nodig het.

Laastens is daar 'n LED-staanlamp wat jy kan ronddra en lig werp op die deel van jou voertuig waaraan jy wil werk. Die model hiernaas skyn teen 800 lm (64 cp). Laasgenoemde word ook gebruik deur hengelaars wat snags wil visvang. Kies een wat nie net deur 220 V laai nie, maar ook deur jou voertuig se 12 V-sok.




