Toeristetrekpleisters is volop in die Bergrivier-streek en daar is pret en avontuur vir oud en jonk. Nomonde Ndlangisa, die uitvoerende hoof van Bergrivier Toerisme, noem 'n paar van haar gunstelinge.
Vir mense wat die merkwaardige blommeweelde wil ervaar, bied die Bergrivier-streek blomkykgeleenthede op plekke wat gewoonlik minder bedrywig as gewilde bestemmings is.
Verder bied die streek ook verskeie gesinsvriendelike aktiwiteite, eetplekke en verblyfopsies waarmee jy jou so tussendeur die blomkykery kan besig hou, veral in die pragtige plattelandse dorpies Velddrif, Piketberg en Porterville.
'n Rivierbootrit in Velddrif
Om die Bergrivier per boot te verken is 'n ontspanne ervaring. Gesinne kan die kalm water geniet, verskeie voëlsoorte sien en leer oor die plaaslike ekostelsel. Jy beleef die streek se natuurskoon uit 'n hele ander perspektief.
Wenk: Bring verkykers vir voëlkyk en 'n kamera om die uitsigte vas te vang.
Verken Bokkomlaan
Bokkomlaan in Velddrif is 'n historiese gebied bekend vir die tradisionele verwerking van bokkoms (gedroogde vis). Gesinne kan met die laan af wandel, kyk hoe die vis gedroog word, winkeltjies besoek en aan plaaslike lekkernye peusel.
Wenk: As jy bokkoms en ander plaaslike seekosgeregte by een van die eetplekkies langs die laan gaan proe, onthou tog om iets vir die asem in te pak!

Voëlkyk in en om Velddrif
Velddrif se vleilande lok 'n magdom voëlsoorte. Hier kan gesinne flaminke, pelikane en vele ander voëls in hul natuurlike habitat dophou. Verskeie voëlskuilings en waarnemingspunte maak dit maklik om die voëls op te spoor.
Wenk: Vroegoggend of laatmiddag is die beste tyd vir voëlkyk. Onthou, geduld is die sleutel tot sukses - peuselgoed help ook!
Visseryemuseum in Laaiplek
'n Besoek aan die SA Visseryemuseum is 'n insiggewende reis deur die Weskus se seevaartgeskiedenis. Ontdek die evolusie van visvang in die gebied, uitgebeeld met uitstallings van ou visvangtoerusting, bote en verhale van plaaslike vissers.
Wenk: Kombineer jou museumbesoek met 'n wandeling langs die Laaiplek-hawe om die vissersbote te sien in- en uitvaar.

Piketberg se wandelroete
Piketberg is ryk aan geskiedenis en sy historiese wandelroete is die perfekte manier om die dorp se erfenis te verken. Op die roete sal jy pragtig bewaarde geboue sien, waaronder ou kerke, huise en openbare geboue, elk met sy eie verhaal.
Wenk: Kry 'n kaart by die toerismekantoor om te verseker dat jy niks miskyk nie. En onthou, die belofte van roomys ná die tyd is uitstekende motivering!
Die Piket-Bo-Berg-plaasmark
Dié mark is 'n lieflike plek om die plaaslike kultuur te beleef. Dit word op die laaste Saterdag van die maand gehou en bied verskeie handgemaakte kunsvlyt, varsprodukte, kosstalletjies en vermaak. Dis 'n jolige plek waar kinders die oop ruimte en aktiwiteite kan geniet.
Wenk: Kom vroeg om die skare te vermy en die beste keuse van produkte te kry. Doutrappers kry die heel beste gebak!

Polderland-perderitte
Perdry is 'n opwindende aktiwiteit vir die hele gesin. Polderland Horse Trails, geleë op 'n plaas naby Piketberg, bied perderitte deur pragtige landskappe wat vir 'n onvergeetlike ervaring sal sorg.
Wenk: Daar is ook 'n kothuis vir diegene wat wil oornag om nader aan die natuur te wees.
'n Proeseltjie Porterville
Vir 'n besonderse daguitstappie, bespreek die Taste of Porterville-ervaring. Begin die dag met 'n pottebakkersklas gelei deur 'n plaaslike keramiekkunstenaar, gevolg deur 'n wynparing, en sluit die dag af met 'n kookklas.
Wenk: Dié uitstappie is perfek vir vroue, so los die kinders by manlief sodat jy kan ontspan.
- Vir meer inligting oor aktiwiteite en verblyf in dié streek, besoek bergriviertourism.co.za.

















