Vakansieoorde en formele kampplekke het gewoonlik geboude braaigeriewe, dikwels met 'n kraan en lig sodat jy kan sien of die vleis gaar is. Maar soms is jou kampplek meer informeel en dan moet jy jou eie braaigeriewe en -katoeters saamneem.
Ons vereistes vir hierdie lys was dat 'n braaidrom in 'n gemiddelde motor se bagasieruim moet kan pas en dat een mens dit op sy eie kan dra - selfs al dra hy swaar!
Die volgorde van die produkte op hierdie lys is van klein tot groot wat betref die beskikbare roosteroppervlak waarop jy kan braai. Lekker braai!

Fireside Folding Charcoal Braai
'n Worsie anderhalf duimpie Hierdie outjie vou klein op (30 x 18 cm) en jy bêre hom in sy eie sakkie.
Die bak word gemaak van 430-graad- vlekvrye staal en behoort 'n hele paar jaar te hou voordat 'n gat daardeur sal brand. Hy's voldoende as jy iets vinnig en eenvoudig nodig het om vir die kinders 'n rol boerewors gaar te maak.
Rooster 300 x 300 mm
Braaioppervlak 900 cm2
Gewig 1,9 kg
Prys R499 by Outdoor Warehouse

Technipunch Safari Braai Lite
Aktetas vir 'n braaimeester Hierdie braaidrom vou toe soos 'n tas en jy dra hom aan 'n handvatsel.
Sy bene staan stewig en die rooster het twee rye spore sodat jy die hoogte kan verstel. Die kanttafeltjies is nuttig vir jou speserye en gerei.
Die bak word van 430-graad- vlekvrye staal gemaak en die rooster van versinkte sagte staal.
Rooster 400 x 300 mm Braaioppervlak 1 200 cm2
Gewig 4,5 kg
Prys R799 by Outdoor Warehouse

Expert Grill Midi
Weggooikultuur Hy's die ligste én goedkoopste braaidrom op hierdie blaaie.
Sy rietskraal beentjies bewe as jy teen hom stamp, maar sy rooster het plek vir twee rolle wors - die rooster is wel nie hoogteverstelbaar nie. Hy's geskik vir diegene wat op vakansie gaan en die drom wil agterlaat sodat hulle ligter huiswaarts kan keer.
Rooster 475 x 295 mm
Braaioppervlak 1 401 cm2
Gewig 1,2 kg
Prys R159 by Game

Camp Master- draagbare braai
Blink Stefaans Hy's soortgelyk aan die Technipunch se Safari Lite in die opsig dat hy soos 'n aktetas opvou met 'n drahandvatsel.
Camp Master se draagbare braaidrom kom ook met sy eie drasak en 'n waarborg van een jaar. Die bak is van vlekvrye glansstaal en die rooster is verchroom.
Die rooster kan op twee hoogtes gestel word.
Rooster 320 x 440 mm
Braaioppervlak 1 408 cm2
Gewig 5,6 kg
Prys R699 by Makro

Hot Rods U-Braai
Sweefstokarties Hierdie toeknyprooster hang aan 'n enkelpootstaander, maar as jy teen hom stamp, gaan die rooster in die kole val.
Oefen eers om hom te gebruik vóór jy kos daarop uitpak, want daar's beslis 'n tegniek om hom reg te gebruik.
Jy kan die rooster ook skuins hang as jy ribbetjies wil braai.
Rooster 440 x 330 mm
Braaioppervlak 1 452 cm2
Gewig 2,5 kg
Prys R1 249 by Safari Outdoor

Madkon Ammo Box
Maak 'n kykvuurtjie Anders as met die meeste braaidromme in dié storie kan jy met regte hout (en vlamme!) braai in Madkon se drom. Die metaal is 3CR12- vlekvrye staal van 1,2 mm dik, en hy's windbestand, hoogteverstelbaar en kom met sy eie drasak.
Soos jy uit die naam kan aflei, pas hy opgevou in 'n ammunisiekis.
Rooster 420 x 315 mm
Braaioppervlak 1 491 cm2
Gewig 8 kg
Prys R3 699 by Outdoor Warehouse

LK'S Swing Braai Grid Stand
Laat julle kwassies swaai Die gedagte is nie dat jou kos heen en weer oor die kole swaai nie, maar dat jy aan 'n ketting trek om die toeknyprooster om te draai.
Trek sy bene nader aan mekaar om hom hoër te stel, of haak die rooster skuins vas om 'n rib gaar te maak. Hy word gemaak van versinkte sagte staal.
Rooster 460 x 370 mm
Braaioppervlak 1 702 cm2
Gewig 6,4 kg
Prys R769 by Safari Outdoor

Madkon 600S
Nommerpas vir 'n landreis Die 600S-model is 4 kg swaarder as Madkon se Ammo Box-weergawe, maar hy't dieselfde deugde: 'n rooster wat op drie hoogtes verstel kan word, windbestand, stewig en hy hou van 'n kykvuurtjie.
Ondanks sy grootte neem dit slegs 2 sekondes om op te slaan en 5 sekondes om hom te bêre.
Rooster 590 x 340 mm
Braaioppervlak 2 006 cm2
Gewig 12 kg
Prys R4 399 by Outdoor Warehouse

Technipunch Usapho
Eenvoud wen Hy word gemaak van 430-graad- vlekvrye staal en die rooster van versinkte sagte staal. Hy staan 650 mm hoog, wat beteken jy hoef nie ver vooroor te buk om die wors om te draai nie.
Die rooster kan op drie hoogtes gestel word en daar is 'n tafeltjie vir al jou speserye plus die polisiekoffie...
Rooster 360 x 570 mm
Braaioppervlak 2 052 cm2
Gewig 6 kg
Prys R1 255 by takealot.com

Terrace Leisure Atlas 250 Charcoal Braai
Arme drommel Die Atlas 250 word van dunnerige staalplaat gemaak - die rooster is chroom - en hy gaan nie lank genoeg hou om eendag 'n erfstuk te word nie.
Sy rooster is nie hoogteverstelbaar nie en sy pootjies gaan knak as jy met jou volle gewig teen hom leun. Maar hy's lekker groot, goedkoop en hy sal 'n paar vakansies oorleef.
Rooster 600 x 360 mm
Braaioppervlak 2 160 cm2
Gewig 4,5 kg
Prys R379 by Makro

Technipunch Safari Big Boy
Nóú gaan ons braai! Hierdie is 'n grootmeneer - jy kan teoreties agt rolle wors op hom braai, mits jy so 'n groot rooster aanskaf (jy kry nie 'n rooster by nie).
Hy't 'n drieposisie-roosterstaander, twee uitvoutafels waarop jy roosters kan pak, plekke vir 'n draaispit, potjies en 'n ribrooster. Hy's bedoel vir ernstige braaiers van formaat.
Rooster 900 x 360 mm
Braaioppervlak 3 240 cm2
Gewig 15 kg
Prys R2 499 by Outdoor Warehouse

Metalix 452
Begrotingsbewuste familie Metalix se drom is soorteglyk aan die bekostigbare Expert Grill Midi,maar sy rooster se hoogte kan verstel word en hy't plek vir drie of selfs vierrolle wors. Hy's effentjies gebou en val maklik om as jy teen hom stamp, maarsy prys is reg, hy weeg betreklik min en sy rooster is ruim genoeg om vir'n groterige gesin kos te gee.
Rooster 590 x 300 mm
Braaioppervlak 1 770 cm2
Gewig 4,5 kg
Prys R290 by Builders




















