Reis

Hout, houtskool of brikette? Die groot braaidebat duur voort!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Kamp en braai loop hand aan hand, en dis nou maar eenmaal in 'n mens se aard om te stry oor wat die beste brandstof vir braaikole nou eintlik is.

Ek dink daar is eenstemmigheid dat gas die beste is vir 'n ontbyt van spek, eiers, sampioene, tamatie en nog wat. Dis die res van die dag se etes waaroor die groot debat gevoer word. Hout, houtskool of brikette bring almal se eie voorkeure en teorieë na vore.

In die Wes-Kaap is ordentlike braaihout blykbaar skaars, maar rooikrans, kameeldoring, bloekom en wingerdstompies is gewild.

Die Blikore en Mielieboere sal jou vertel dat mieliestronke die beste kole lewer. Elkeen doen seker maar sy ding op sy eie manier.

In en om Gauteng is sekelbos baie bekend, maar die groot probleem is om uit 'n hoë hoop sakke een te kies waarin die hout taamlik droog is. Soms verwys ek eerder na nat sekelbos as "sukkelhout".

In Limpopo is mopanie 'n vername brandhout, maar bly weg van tambotie. Dit is nie net 'n beskermde boomsoort nie, maar die rook is ook giftig.

In Natal is wattelhout baie gewild. Hardekool word dikwels by padstalletjies te koop aangebied, maar volgens my kennis is dit ook 'n beskermde boomspesie. Ek glo die kierantjies moet braai van enigiemand wat beskermde boomspesies oes.

Die twis oor of houtskool of brikette die beste kole lewer, sal nie gou besleg word nie. Daar word selfs gestry oor watter kettingwinkel se eie handelsmerk die beste is.

Onlangs hoor ek iemand verkondig op sosiale media houtskool uit Namibië moet geboikot word, want skaars valuta word bestee om derduisende sakke in te voer.

Iemand anders het weer bevraagteken of Namibië werklik in staat is om etlike tonne houtskool te lewer omdat daar glo te min bome is. Toe nou nie.

Namibië het 'n gesonde houtskoolvervaardigingsinisiatief en dit word deur dié land se regering bestuur onder die vaandel van die Namibiese Houtskoolvereniging.

Die twis sal nie gou besleg word nie. Daar word selfs gestry oor watter kettingwinkel se eie handelsmerk die beste is.

Indringerboomsoorte, en veral akasiaspesies, word uitgeroei en tot houtskool verwerk. Meer as die helfte van Namibië is oortrek met doringbosse wat grondwater oorbenut, en derhalwe word al hoe minder reënwater in die grond opgeneem om inheemse grasse te onderhou.

Tans is daar meer as 650 Namibiese entrepreneurs wat houtskool vervaardig. 'n Verstommende 600 km2 dig beboste en oorgroeide gebiede word jaarliks "verbou".

As jy dalk bekommerd is oor enige negatiewe gevolge wat veroorsaak word deur die rook van tienduisende kampeerders se braaivure - of oor die impak wat die brand van hout tot houtskool op die omgewing het - het ek vir jou interessante nuus.

In 'n artikel met die titel "Plume Characterisation of a Typical South African Braai" het navorsers van die Universiteit van Noordwes en die Universiteit van Helsinki in Finland bevind braaivleisvure hou geen waarneembare gesondheidsrisiko's in nie.

Jy kan dus met 'n geruste hart jou vuurtjie aansteek.

Die uitwerking op amateurs wat houtskool vervaardig, kan egter wel gesondheidsprobleme veroorsaak as hulle te veel rook op 'n daaglikse basis inasem.

Intussen is dit steeds lekker om te hoor hoe mense stry of rooikrans, wingerdstompies, sekelbos of wattel die beste braaikole lewer.

Om te braai wanneer 'n mens kamp, is sielsverrykend, maar dit is ook 'n uitdaging om almal tevrede te hou.