Voëls met boompies gered

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die bedreigde woudpapegaai.
Die bedreigde woudpapegaai.

Nozibele Mphothulo help om die bedreigde woudpapegaai van uitwissing te red - een boompie op 'n slag.

Mphothulo, wat ook as "mamma Evelyn" bekend staan, is deel van 'n groep vroue wat weet dat 'n enkele saad die begin kan wees van 'n woud. Sy is deel van 'n inisiatief wat in 2017 begin is deur die Wild Bird Trust en die Cape Parrot Project om woude te hervestig en só die habitat van die woudpapegaai te herstel.

Dié helderkleurige voëls is Suid-Afrika se enigste endemiese papegaai.

Die projek is in Hogsback in die Oos-Kaap gesetel en die doel is bewaring deur die ekonomiese opheffing van Esikhuluweni en Sompondo, twee klein, landelike gemeenskappe rondom die papegaai se natuurlike habitat.

Inwoners word aangemoedig om bewakers van die woude te word. Mphothulo leef al haar hele lewe in Sompondo. Saam met ander deelnemers aan die projek versamel sy sade van inheemse bome in haar omgewing in die nabygeleë woud en kweek dan jong boompies daaruit.

Wanneer die boompies sterk genoeg is vir aanplanting, koop die Cape Parrot Project dit by deelnemers aan die projek. Mphothulo kon deur haar toewyding aan die projek al vir haarself 'n reënwatertenk koop, haar groentetuin omhein en sy onderhou haar familie uit die inkomste.

Daar is minder as 2 000 woudpapegaaie (Poicephalus robustus) in die natuur oor in beperkte woudgebiede in die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Limpopo.

Hulle broei veral in ou geelhoutbome, maar dié bome is skaars omdat soveel daarvan oor die jare afgekap is.

"Ons doel is om volhoubare groei in die bevolking van dié papegaaie te bereik," sê dr. Kirsten Wimberger, direkteur van die Cape Parrot Project en 'n trustee van die Wild Bird Trust, in 'n verklaring. - Beeld-redaksie

SPELETJIES VANDAG

CTA